Gedagte vir die dag: Moses

gemsbok_and_dunes.jpg

Foto: Marianne Styan

Lees: Eksodus 3:1-15

Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” (Eksodus 3:7, 10)

God se opdrag dat hý die man is wat die Israeliete uit Egipte moet bevry, slaan Moses vir ’n ses. Hy gee ’n hele lys verskonings waarom hy dit onmoontlik sou kon doen. Maar uiteindelik willig Moses tog in. Met God se hulp haal hy die farao met behulp van ’n reeks plae oor om die volk te laat trek. Met die Israeliete uit Egipte, begin Moses se probleme eers! Die volk is met niks tevrede nie – hulle kla omdat daar nie vir hulle water of kos in die woestyn is nie. Elke keer onderhandel Moses met die Here en voorsien God in hulle behoeftes. Terwyl Moses egter op Sinaiberg die kliptafels met die Tien Gebooie van God ontvang, maak die volk vir hulle ’n goue kalf om as god te aanbid. God se geduld met hulle raak op en Hy weier om verder saam met hulle te trek.

Weer tree Moses vir die ongehoorsame Israeliete in en weer luister God na hom. Hy willig uiteindelik in om verder saam met hulle te gaan. Uiteindelik swerf die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn voordat hulle in die Beloofde Land aankom. Gedurende hierdie tyd slaag Moses daarin om sy verhouding met God lewenskragtig te hou – dit is dan ook die enigste rede waarom dit vir hom moontlik was om al die spanning te verwerk.

Met God by jou sal dit ook vir jou moontlik wees om skynbaar onoorkomelike probleme te oorbrug en soos Moses vir ander by God in te tree.

Here, help my om soos Moses my verhouding met U lewendig te hou sodat ek my eie probleme met u hulp kan oorkom. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.