Alles wat die Fariseërs doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. (Matteus 23:5)
Bogenoemde opskrif rig ons na ’n groot waarheid, naamlik God se primêre fokus is nie korrekte gedrag nie, maar ’n edel karakter. Dit klink vreemd, maar dis dalk nie so vreeslik verkeerd as wat ’n mens dink nie. Hierdie stelling sê nie God konsentreer nie op gedrag nie. Nee, dit sê God se aandag is nie hoofsaaklik op gedrag toegespits nie – hoewel dit vir mense die belangrikste ding is. Ons wil graag die regte dinge doen, al kom dit nie uit die hart nie.
Van kleins af hoor ons: kou met ’n toemond; sê dankie; vra asseblief; moenie oor die tafel rek nie; kyk vir die oom en tannie. Dit is nie verkeerd nie, maar dit is misleidend omdat dit die indruk kan skep dat iemand van edel karakter is, terwyl dit glad nie so is nie. Ons het veins tot ’n kuns vervolmaak en ons het die onegtheid in ons verhouding met God oorgedra. Ons doen ’n reeks goed wat vir ons na die regte gedrag lyk, sonder dat ons hart voor God gebuig is. Op die kort termyn is dit effektief, maar nooit voor God nie, en op die lang termyn ook nie voor mense nie.
Karakter is die samevatting van wie jy in jou hart is – waar niemand kan sien nie. Ja, natuurlik sal karakter sigbaar word in gedrag, maar regte gedrag beteken nie noodwendig ’n goeie karakter nie. Regte gedrag kan aangeleer word sonder dat dit uit die hart kom. God se fokus is om jou die regte karakter te leer en dan sal die regte gedrag outomaties voortvloei.
Menslike pogings tot heiligmaking fokus op gedrag wat met heiligmaking geassosieer word sonder dat die karakter van Christus in hulle groei.