Gedagte vir die dag: Geloof maak sout en lig van jou

sonsondergang_Nathan_Steyn_NZealand.jpg

Foto: Nathan Steyn

Lees: Matteus 5:13–16

Julle is die sout van die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie. (Matteus 5:13–14)

Mense wat die basiese beginsels van Christenskap in hulle alledaagse lewe toepas, kan die wêreld verander, het die Amerikaanse staatsman Benjamin Franklin graag gesê. Jesus het natuurlik al in sy Bergpreek geleer dat dié wat in Hom glo, sout en lig vir die wêreld kan wees. Christene moet só leef dat mense na óns leefstyl sal kan kyk en die God in Wie ons glo, sal verheerlik. Ons almal behoort dus ’n positiewe verskil te maak, soos sout wat smaak gee aan kos en lig wat die donkerte verdryf.

In die wêreld waarin jy leef, is God se sout en lig nodiger as ooit tevore. Jy hoef maar net die koerante oop te maak of die radio- en televisienuus aan te skakel om die waarheid hiervan te besef. Sout gee nie net smaak nie, maar is ook bederfwerend – en ons samelewing was nog nooit so korrup as juis nou nie. As jy in Christus glo, is jy rééds God se sout en lig. Met alles wat jy doen en sê, behoort jy die morele verval om jou teen te werk en Jesus se lig in die donker wêreld uit te straal. Dan sal jy nie anders kán as om ʼn positiewe verskil te maak in die plek waar jy woon nie.

Here Jesus, ek wil graag u sout en lig in ’n bedorwe, donker wêreld wees omdat ek in U glo. Help my om só te leef dat mense na my as u kind kan kyk en vir U sal verheerlik.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.