ToekomsVenster: Aanleiding tot afvalligheid

vrou_vrede_natuur_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ʼn groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word. “As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy al twee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy al twee jou voete het en in die hel gegooi word. En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy al twee oë het en in die hel gegooi word. Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.” – Markus 9:42-48

Met kleintjies bedoel Jesus die geringstes in die samelewing. Jesus het Hom meermale met hulle besig gehou. Hy trek Hom die lot van mense wat deur ander as minderwaardig beskou word aan. Hy het gekom vir mense wat siek is, dit weet en na ʼn geneesheer vra. Jesus het ʼn hekel in en aan geestelike hoogmoed.

Ook in ons dag is daar ʼn toename in geestelike hoogmoed. Mense spog met nuwe openbaringe en in verwaandheid verdeel hulle in ooreenstemming met hul eie klassifikasie gelowiges in verskillende kategorieë van geestelikheid, indien hulle hoegenaamd toegee dat mense wat van hulle verskil ook gered kan wees.

Jesus is radikaal in sy uitsprake. Die bedoeling is uiteraard nie dat ʼn mens jouself fisiek sal skend deur jou hand en voet en oog te amputeer nie, maar dat dinge wat God se plan vir ons lewe ondermyn eerder afgelê moet word in belang en in diens van gehoorsaamheid. Dit herinner aan die gedeelte onlangs waar Jesus verwys na Markus 9:34 dat ʼn mens die wêreld as wins kan kry maar ten koste van jou geestelike welsyn.

Raak ontslae van die goed wat jou in jou geestelike wandel wil ondermyn en striem, sê Jesus. Dis beter dat jy jouself die dinge ontsê as dat jy daaraan vasklou. Jesus is die skat waarvoor ʼn mens alles verkoop sodat jy die grond kan koop en by die skat kan uitkom. Vir Jesus offer ʼn mens alles op.

Een voet in die wêreld en een in die koninkryk van God werk nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.