ToekomsVenster: Die aanstelling van die twaalf apostels

kerse

Foto: Hans/Pixabay.com

Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus – vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder” – Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het. – Markus 3:13-19

Nader geroep, aangestel en uitgestuur. Drie noodsaaklike bewegings in dissipelskap. Jy moet hoor dat die Here roep en Hom gehoorsaam. Dit val op hoe gewillig en gehoorsaam die apostels was om Jesus te volg.

Het hulle iets gesien, gehoor, beleef, ervaar toe Hy hulle geroep het? Het hulle sondermeer geweet dat hul lewens van daardie oomblik af ʼn nuwe wending sou neem, dat daar ʼn onafwendbaarheid in sy oproep om te volg was, ʼn onweerstaanbaarheid wat nie noodwendig verduidelik kon word nie maar met gesag en outoriteit asook liefde en aanvaarding gekom het?

Jy is geroep, word geroep, hoor jou naam. Die Messias roep: Volg My.

ʼn Interessante klomp mense word aangestel. Twee momente word hier vermeld. Om by Hom te bly enersyds en ook uit te gaan en te preek, verkondig, vertel. Dit herinner ʼn mens aan die voorbeeld van die wynstok en die lote. Wie nie in Hom bly nie, kan nie vrug dra nie. Sy bedoeling is oorvloedige vrug. Vrug wat die bekering komplimenteer. En jy, bly jy by Hom, in Hom.

Uitgestuur om te vertel.

Gawes verskil en ons word nie noodwendig vir dieselfde taak geroep nie. Petrus maak iets daarvan as hy sê “…as dit is om te … laat ons”. Paulus maak baie daarvan as hy dui op die verskeidenheid van gawes en hoe God elkeen roep om binne sy liggaam ʼn verskil te maak.

Die uitgestuur-gedeelte is egter op almal van toepassing. Die woord suggereer beweging, energie, afstand wat oorbrug word.

Die krag wat alles oortref kom van bo sê die Skrif iewers. “Dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Jesus uit die dood opgewek is.”

“Mag gegee” staan daar om die bose in sy Naam aan te vat. Iewers kom die dissipels vol opgewondenheid terug, selfs die bose het geluister. ʼn Ander keer teleurgesteld: “Ons kon die bose nie uitdryf nie…”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.