ToekomsVenster: Die besetene in Kapernaum

duif-duiwe

Foto: Mikelmania/Pixabay.com

Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die Sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ʼn man wat van ʼn onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ʼn nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat. – Markus 1:21-28

Dis onafwendbaar dat die duisternis sal manifesteer wanneer die verblindende lig van God se teenwoordigheid inbeweeg. Die duisternis kan die lig nie oorweldig nie.

Die bose is God se teenparty. Hy is ʼn leuenaar en mensemoordenaar en laat ʼn spoor van verwoesting agter. Uiteraard openbaar die bose nie sy ware aard uit huis uit nie. Dis die oomblik wanneer die heerlikheid van God in die omgewing inbeweeg dat die bose ʼn ongemaklikheid beleef. Sy gewaande sekuriteit word bedreig.

Jesus se reaksie op die manifestasie van die onrein gees is betekenisvol. Daar vind nie gesprekke plaas nie. Daar is nie sprake van onderhandeling nie. Dis nie ʼn uitnodiging nie. Dis duidelik en direk. Bly stil! Gaan uit!

Skielik word die bose ʼn evangelis. “Ek weet goed wie U is, U is die Heilige van God.”

Jesus laat Hom nie verlei nie. Hy weet waarmee Hy te doen het. “Bly stil!”

Wat die bose se inspraak in jou lewe betref, oorweeg jy sy negatiewe en afbrekende spraak wat meer dikwels verskuil lê agter ʼn oënskynlike stuk waarheid? “God sal verstaan. Christene is ook net mense. Almal doen dit.”

“Bly stil. Bly stil en gaan weg!”

Kragtelose prediking, bediening, getuienis … Die mense is stom van verbasing dat Jesus, Seun van ʼn timmerman, met soveel gesag praat. Die teks sê “nie soos die Skrifgeleerdes nie”. Hulle het die kennis maar nie die Gees, die passie, die deurleefdheid en openbaring wat nodig is om ʼn verskil te maak nie. Hul onvermoë om mense te bedien in die kragveld van die Gees word duidelik wanneer Jesus op die toneel verskyn.

Wat is die verskil tussen die lering, prediking en optrede van Jesus en dié van die Skrifgeleerdes? Godsdiens sonder verhouding, intimiteit, stilte.

Lering sonder die Duif … onthou hoe die Duif (Heilige Gees) by Jesus se doop uit die hemel op Hom daal en die woorde “dit is my geliefde Seun” die oomblik heilig verklaar.

Hoe reageer mense op jou prediking, getuienis? Maak dit hond haaraf? Is dit eintlik net moralisme wat bestaan uit veroordeling en verskuilde hoogmoed? Spreek en verkondig jy lewe of dood?

Die een oordeel en veroordeel, die ander trek nader en bevry. Dis die Duif wat die verskil maak. Brei jou arms uit voor God en roep die Duif nader.
As ons weer na die Skriflesing luister, oorweeg die woorde “dit was nie lank nie en die hele Galilea het oor Hom gepraat”.

Probeer ʼn rede vind waarom die nuus so vinnig versprei het.

“Here, soms is ons as Christene en die manier waarop ons lewe die ergste blokkasie in die pad van die evangelie. Verwyder alles wat u saak ongeloofwaardig kan maak in my lewe.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert Fourie ·

Die nuus van dit wat Jesus gedoen het, het baie vinnig verspry sonder moderne tegnologie, kom ons ruk op in ons miljoene die 22 ste April na Bloemfontein sodat die boodskap van liefde en genade elke persoon sal bereik, dit is ons behoud, ons moet daardie genade afbid en pleit, want dit is Sy belofte, ons moet net vra in geloof en Hy SAL voorsien, meer as wat ons ooit verwag het. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.