ToekomsVenster: Die gelykenis van die saaier

sonkol-koring-landbou

Foto: Munruthel/Pixabay.com

Jesus het weer die mense langs die see begin leer. ʼn Baie groot menigte het by Hom saamgedrom, sodat Hy op die see in ʼn skuit gaan sit het. Die hele menigte was langs die see op die strand. Hy het hulle baie deur gelykenisse geleer. So het Hy onder andere gesê terwyl Hy hulle leer: “Luister hier! ʼn Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ʼn deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. ʼn Ander deel daarvan het op ʼn klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. ʼn Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en ʼn oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” – Markus 4:1-9

Hierdie bekende gelykenis spreek boekdele en roep elkeen van ons op om ons voorraadopname te doen. Waar val die saad in ons lewens? In God se goedheid en genade saai Hy rojaal en in liefde. Almal het ʼn gelyke kans om op die boodskap van genade te reageer. Dis egter bekend dat die saad (later word dit as die Woord voorgehou) op verskillende plekke val of eerder dat mense op verskillende maniere daarop reageer.

Die Woord en gelykenis is net so relevant vir ons dag as toe Jesus die voorbeeld genoem het. Die bose staan gereed om die saad se impak in ons lewens te neutraliseer. Of dit die pad, die klipbank of onkruid is, daar is ʼn verbete stryd aan die gang om die Woord sy impak in ons lewens te ontneem.

Ons moet hierop bedag wees en die duiwel nie die geleentheid gun om sy vernietigende werk in ons lewens te doen nie.

Dit is ontstellend om te sien hoe eens oënskynlik toegewyde kinders van die Here net wegraak uit die geloofsgemeenskap. Daarmee sê ons nie dat die kerk en plaaslike gemeente die enigste legitieme geloofsuitdrukking is nie.

Mense kom deesdae in ander geloofsgroeperinge bymekaar ook omdat daar wantroue is in georganiseerde geloof, met name die kerk soos ons dit ken. Leiersfigure maak hulself skuldig aan ongeloofwaardige optrede en vir baie gelowiges is die teleurstelling in die kerk net te groot. Uiteraard is die belangrike dat mense die Here voluit dien. Daarmee saam is dit so dat daar ʼn toenemende aantal mense is wat deur hul lewe en optrede getuig dat geloof nie meer relevant is nie. Vir my as Christen wonder ek waar ʼn mens die moed kry om met God te breek. Die Bybel sê duidelik in Handelinge 17:17-28: “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af’.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MCH ·

Relevante onderwerp. Kerk vandag hoofsaaklik gebasseer op populariteit, persoonlikheid en ponde (voorspoed) Tydens die tye van die dissipels weer op armoede, tronke en vervolging. Verder, daar is derduisende Christelike denominasies wereldwyd en selfs plaaslik is daar ook honderde. Dit is simptomaties van verdeeldheid. Sommige herders laat hul kudde gras eet, petrol sluk en spuit hul geeste met Doom. Ander piekel hul lidmate na buitelandse profete toe soos TB Joshua vir genesing ens. Die profeet sien toe nie sy kerk gaan inmekaartuimel nie en tientalle Suid Afrikaners sterf. Dan, party doop soos die Woord se groot na bekering en ander besprinkel babas. Party hou kerk op die Sabbat ( Saterdag) en ander op Kontantyn se eerbiedwaardige dag van die son (Sondag) sonder dat n enkele Bybelvers aanduidend is oor die verskuiwing. Ander weer lyk soos n handelshuis, jy kan enigiets geestelik daar koop, van n kopspeld tot n oorlogskip.Dus, mense raak weg want die evangelise van die Koninkryk van God, wat Jesus se hoof onderwerp was, word nie gepredik nie, maar motiveringspraatjies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.