ToekomsVenster: Jesus is die Brood van die lewe


Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Sit offerbrood op die tafel. Dit moet altyd daar voor My in my teenwoordigheid wees.

Eksodus 25:30

Niemand kan leef sonder om te eet nie. Voedsel moet gesond en vullend wees ten einde aan sy doel te beantwoord. Wegneemetes soos dié wat ʼn mens by kitskosplekke kry, is nie noodwendig goeie waarde vir geld nie. Op die lang duur ontwikkel ʼn mens allerlei probleme wat met swak eetgewoontes verband hou en kan jou gesondheid belemmer word.

Jesus is die Brood van die lewe. In Jesaja word ons uitgenooi om wyn, brood en melk te koop sonder geld. Wat God in Jesus gee, is gratis; dis genadevoedsel.

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

Jesaja 55:1

Dit versterk, voed en beskerm die gees en verskaf die energie wat nodig is om met oortuiging en oorgawe te lewe. Die nagmaal vertel ons van die gebroke liggaam van Jesus wat soos brood geëet moet word. Jesus maak die moeilik verstaanbare uitspraak dat sy liggaam geëet moet word. Dis natuurlik net ʼn simboliese handeling waardeur ons herinner word aan die volmaakte offer wat vir ons gebring is en die noodsaaklikheid om daaraan deel te hê.

Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

Johannes 6:35

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.