ToekomsVenster: Jesus maak die storm stil

storm-see-water

Foto: Currens/Pixabay.com

Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. Skielik het daar ʼn groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” – Markus 4:35-41

Hierdie gedeelte het gelowiges seker van die begin af oneindig bemoedig. Stormsee is te ene male ʼn realiteit in almal se lewens. Iemand het eendag gesê jy is of in ʼn storm, kom pas daaruit of is daarheen op pad. Ons leef steeds op aarde en die lewe gebeur. Die gedagte dat Christene nie geraak en beïnvloed word deur die dinge wat elke dag rondom hulle gebeur nie, is wensdenkery. Dis ongemaklik maar waar en hoe gouer ons die realiteit verreken hoe beter sal dit met ons gaan.

Christene wat glo dat materiële, liggaamlike, emosionele en geestelike voorspoed onwillekeurig en noodwendig vir hom of haar bedoel is net omdat hy of sy glo, sal ontnugter word. Die predikers van hierdie skeefgetrekte waarheid is of oneerlik oor hul eie worsteling of leef in ʼn droomwêreld.

Hoe hanteer jy jou stormsee?

Ek kan my die verontwaardiging van die dissipels voorstel. Die boot dreig om te vergaan en Jesus lê en slaap. (Ek wonder tong in die kies of Hy nie skrefiesoë gekyk het om te sien hoe die dissipels die situasie sou hanteer nie).
Hoe ook al, hul oproep dat Hy moet help val nie op dowe ore nie. Jesus roep die wind en weer tot hul verbasing tot orde maar verwyt hulle vir hul kleingeloof.
Hoe moes hulle reageer het?
Hoe sou jy reageer indien jy in die boot op ʼn stormsee was met Jesus oënskynlik vas aan die slaap?

Die see van Galilea is bekend daarvoor dat onweer sommer vinnig kan ontwikkel en dat die see regtig onstuimig kan raak. Die gevaar was nie onbeduidend nie. Die teks sê die golwe was baie hoog en die skuit het al vol water begin word. Dis ʼn laat moment om Jesus wakker te maak. Miskien moes hulle sommer aan die begin al met Hom gepraat het. Wag jy ook totdat die storm ernstig word voordat jy met God praat.

“Groot storm” en “groot ontsag”. Interessant die twee begrippe wat met groot verbind word. As die ontsag die storm en ongemak voorafgegaan het sou die dissipels die storm dalk beter hanteer het.

Weet jy en wis jy Wie by jou in die boot is.
Dis die Skepper van alles, ook van die wind en die stormsee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvon ·

Wow ons bote is soms swaar van al die probleme . Nooi ons Jesus saam? . Dankie Vader vir die wete dat geen storm vir U te erg is nie. U beloftes is vandag nog geldig U is by ons. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.