ToekomsVenster: Jesus maak ‘n seun gesond

hande-vashou-sonsondergang

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ʼn groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”
Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ʼn gees besete is wat hom stom maak. En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”
Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”
Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”
“Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”
“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”
“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”
Toe Jesus sien dat ʼn menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”
Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”
Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.
Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”
Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.” – Markus 9:14-29

Mense staan en redeneer oor Jesus en sy aansprake. Opmerklik dat mense vandag nog oor Jesus redeneer. Sommige erken sy heerskappy en Goddelikheid. Ander bring bewyse dat Hy nie die Een kan wees nie.

Die pa bring sy seun na Jesus. “As U iets kan doen”, praat hy met Jesus. Jesus antwoord: “Vir die een wat glo, kan alles.” Die pa wil so graag glo, maar bely dat sy geloof steeds tekort skiet.

Jesus sien die mense se desperaatheid en moedeloosheid raak. Dit moes ʼn vreesaanjaende gesig gewees het. Die duiwel werk nie mooi met mense nie. Hy ontneem mense van hul menslikheid. Hy maak van hulle skuimende onrustige wesens. Van kleintyd af sukkel die pa met sy seun. Hoe dit gebeur het dat die duiwel so ʼn greep op die seun gekry het, word nie gesê nie. Die werklikheid egter van hierdie demoniese besetenheid speel grafies af voor die mense. As hy so ʼn aanval beleef, werp hy homself selfs in die vuur. By hoeveel hulpverleners het die pa nie al aangedoen nie. Hy is al soveel kere teleurgestel in sy verwagting. Hy wil nie te veel hoop op Jesus vestig nie. Versigtig praat hy … as U kan.

Aanvanklik bring die pa die seun na die dissipels toe, maar hulle kon nie hond haaraf maak nie. Later vra hulle waarom hulle die taak nie kon uitvoer nie. Jesus verduidelik dat hierdie tipe besetenheid net met gebed uitgedryf kan word. Die dissipels is steeds ingeskryf in Jesus se dissipelskap-program. Later sou hulle gesag ontvang om in die Naam van Jesus elke vorm van mag en heerskappy te kan spreek.

Die woorde “as U miskien iets daaraan kan doen” dring hulle aan my op. Jesus herhaal die woorde asof Hy vir ʼn oomblik geamuseerd daaroor nadink. “As Ek iets daaraan kan doen?”

Ons beleef traumatiese tye die wêreld deur, ook in Suid-Afrika. Die lieflikheid van ons omgewing, die nuwe motors op ons paaie, die toringgeboue en mooi kerke skep die waan van ʼn wêreld wat heerlik op koers is. Neffens die luuksheid en vertonerigheid lê die pyn van armoede, werkloosheid, die verkragting van vroue ten aanskoue van hul kinders, die wrede moorde op weerloses, die dwelmafhanklikheid en gesinsverbrokkeling, bendegeweld en korrupsie.

Die meeste mense wil nie daarvan weet nie. Dis ontstellend en maak ʼn appèl op ons waarby ons nie kan en wil uitkom nie.

Tog is daar honderde intersessors wat daagliks by God intree vir die redding van Suid-Afrika.

“As U miskien enigiets aan ons situasie kan doen …” Só prewel hulle bykans onhoorbaar waar hulle hulle afsonder in gebedstoewyding.

Jesus hoor, luister en gee om. Hy reageer deur te wys op sy onverdunde en ongekompromitteerde vermoë om hierdie wêreld op sy kop te keer. As Hy in radikale heerlikheid toetree tot die gebrokenheid van ons dag verander dinge.

Ons soek, smeek en roep na herlewing.

“Here, as U miskien iets vir Suid-Afrika kan doen?”

“Ek wil,” sê Hy. “Vir die een wat glo, kan alles.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.