ToekomsVenster: Missio dei – Jy word geroep en gestuur


Stiltetyd-14.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Lees Matteus 28:16- 24 of Deuteronomium 31:8 Die Here sal voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.

In die eerste teks (uit Matteus) word die opdrag aan die dissipels gegee. Hulle moet na die wêreld toe gaan en dissipels gaan maak. So sou jy ook Handelinge 1:8 kon lees waar gelowiges geseën word om getuies te wees van God. In die Deuteronomium teks kry ons die bevestiging dat God ons ook nooit alleen sal laat wanneer Hy ons stuur nie.

Wat beteken dit?

Missio dei beteken “God stuur.” Hy stuur sy Seun wat weer die Gees stuur, wat ons weer stuur. Om wat te maak? Om ons te help om deel te neem aan sy betrokkenheid (gestuurdheid) in hierdie wêreld om van die wêreld ’n beter plek te maak. Jy sou ook kon sê om mense te vertel van God en om Sy Koninkryk hier op aarde te vestig.

In die eerste weke van ons dagstukkies het ons geleer en gelees dat God ons roep. Ons het die Bybel gelees en die verhale en stories het ons aangegryp. God is besig in en deur mense. Nou besef ons dat die Here in en deur ons (my) werk. Hy roep en stuur ons (my). Die wonderlike van die “stuur”, is dat God jou nie alleen stuur nie.

Hy is klaar besig in die wêreld en wanneer Hy jou stuur, wil Hy hê jy moet by Hom aansluit waar Hy klaar besig is. Kom ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: Dis soos wanneer jy oefen om aan ’n bepaalde sport deel te neem. Jy oefen eenkant, maar die span wat klaar speel wil hê jy moet by hulle kom aansluit sodat hulle net soveel sterker kan word. Jy moet net mooi kyk waar die span besig is om te speel. Ek en jy is nou gestuurdes (ons oefen eenkant). Daar is reeds gestuurdes in die wêreld wat deur God gebruik word (daar is reeds ’n span). Nou moet ek en jy die span (ander gestuurdes) raaksien sodat ons by hulle kan aansluit.

Gebed:

Here U stuur ons. Hoekom U my stuur is te groot vir my verstand; ek kan dit nie begryp nie. Wees my genadig. Amen.

Leefwyse:

Dink oor gestuurdheid. Dink oor hoe jy gestuur word deur ander en hoe jy ander stuur.

Iets om vandag oor na te dink:

Wanneer jy gestuur word, is jy die afgevaardigde van die een wat jou stuur. Wanneer jy deur God gestuur word, dra jy sy karaktertrekke. Jy is dan soos ’n ambassadeur van die Koninkryk van God. Wat is die karaktertrekke of eienskappe van die Koninkryk wat jy sou wou deurgee?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.