ToekomsVenster: Missio dei – met vrede


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Johannes 20:21 “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Gister het ons in die dagstukkie gelees dat ons gestuur word. Ons word gestuur met ’n boodskap van vrede.

Een van die boodskappe waarmee God ons stuur, is die boodskap van vrede. Ek en jy dra die “wit vlag”. Jy weet dat die wit vlag die teken is dat jy nie meer verder wil oorlog maak nie, maar dat jy vrede wil bring. Dit is wat ons in hierdie wêreld inbring. Vrede. Vrede tussen man en vrou, in families, in gemeenskappe, in ons land en tussen lande.

Die vrede is natuurlik vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit is nie ’n vrede waar ons nou net mooi woorde vir mekaar het nie, maar dit is ’n vrede wat maak dat ek kan aangaan met my lewe. Ek haal my hande van jou keel af om te kan aangaan met my lewe.

Dis ’n vrede waar ek nie aanmekaar kyk wat ek alles met jou kan foutvind nie, want vrede veroorsaak dat ek besef dat God jou geskape het na Sy beeld.

Gebed:

Here gee ons vrede. Help my om (noem die name) te vergeef. Help my om my gedrag, hart en hand te verander sodat mense die vrede in my lewe kan sien en ervaar. Amen.

Leefwyse:

Wat dink jy is die karaktertrekke van ’n vredevolle lewe. Hoe leef iemand wat vrede het?

Iets om vandag oor na te dink:

Wil jy nie moeite doen om vandag vir al die families te bid wat ’n familielid het wat in een of ander oorlog (dink hier aan die wêreld) betrokke is nie. Bid dat die vrede ook oor hulle sal waghou en dat families weer verenig sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.