ToekomsVenster: Om Jesus te volg

God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit ʼn mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ʼn mens kan gee in ruil vir sy lewe? Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.” –  Markus 8:34-38

Wat is waarlik van waarde? Ons is so geneig om aan goed wat van verbygaande aard, tydelik en stoflik is baie waarde te heg. Daarteenoor beskou ons die onsienlike dinge van minder waarde en beywer ons nie daarvoor nie.

In die stryd om soveel moontlik bymekaar te maak en aardse sekuriteit te verseker verloor ons ons greep op hierdie dinge, hoe hard ons ook al probeer.

Die Bybel leer ons om eers die koninkryk van God na te jaag en dan God te vertrou om die ander dinge by te voeg. As ons die Woord net ernstig wil opneem en glo. Dit is amper asof ons die stem van die duiwel soos ʼn Adam en Eva hoor wanneer hy sê dat God nie regtig goeie bedoelings met hulle het nie.

God is nie betroubaar nie, is ʼn pretbederwer en wil alles net vir Homself hê. Hy weet, as Adam en Eva van daardie boom se vrugte eet, sal hulle wysheid en kennis hê, hulle sal soos God wees. Op dieselfde wyse kom die duiwel by ons staan en moedig ons aan om die woorde van God in twyfel te trek. Verloën, kruis opneem en agter Jesus aanloop klink darem na ʼn bykans onhaalbare opdrag. Wie kan daaraan gehoor gee? Daarteenoor wil ek eerder myself laat geld, in plaas van die kruis kies vir die kroon van eiegeregtigheid en self besluit waar om te loop.

Die uiteinde daarvan is die dood.

Die Bybel sê daar is ʼn pad wat reg lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.

Miskien is die probleem dat mense hul eie lewe nie na waarde skat nie. Trouens, in Suid-Afrika is lewens oor die algemeen nie veel werd nie. Die hoë voorkoms van misdaad en die koelbloedige en bloedstollende padsterftes veral gedurende vakansietye is daarvan klinkklare bewys. Dis asof mense afgestomp geraak het vir lewe.

As mense hul lewe regtig waardevol ag, nie net met betrekking tot die hier en nou nie maar met betrekking tot die ewigheid, sal hulle nadink oor hul prioriteite. Enige lewensfilosofie wat God uitsluit of tot onderdanigheid rangeer, is op die verkeerde pad.

Wat sal ʼn mens gee in ruil vir sy lewe? Kragtens die verkeerde keuses wat ons gemaak het, het ons reeds ons lewe, die ware lewe, die geestelike lewe vergestalt in die siel/liggaamsdimensie weggeteken. God sal kragtens die dood en opstanding van Jesus vir ons instaan om ons lewe terug te neem.

Maak vandag ʼn keuse vir die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Pappa Vader my lewe behoort aan U in Christus Jesus tot in ewigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.