ToekomsVenster: Om radikaal gehoorsaam te wees


voelnessie-deur-rene-roux

Foto: René Roux.

Lees: Handelinge 8:26-40

So gepraat van ywer vir die Here … dan kan ons nie nie by Filippus ʼn draai gaan maak en sy radikale gehoorsaamheid oplet nie. Ons lees sy verhaal in Handelinge 8:26-40. Drie dinge … en al drie moet in plek wees, anders sou Filippus die afspraak en die geleentheid gemis het. 1] Hy moes klaarmaak … Waarmee hy ook al besig was, moes hy mee klaarmaak, want daar’s iets anders wat nou sy tyd en aandag sou verg … dít waartoe die Here hom geroep het! 2] Die tyd … Indien Filippus sou uitstel, sou hy die afspraak gemis het en daar opgedaag het toe die Etiopiër al verby is. Dit klink vir my so erg baie na die jongeling wat vir sy pa sy woord gegee het dat hy in sy pa se wingerd sou gaan werk, maar nooit opgedaag het nie (vgl. Matteus 21:30: “‘Goed pa’, maar hy het nie gegaan nie”). 3] Die plek … Party mense sou van sulke ontmoetings praat as toevallig, maar dis net die Here wat die sameloop van persoon, tyd en plek só kan orkestreer. Indien Filippus nie deeglik na die engel se instruksies geluister het nie, maar by ʼn ander “adres” sou opdaag, sou hy die ontmoeting misgeloop het. Daarom praat ek graag van Filippus se radikale gehoorsaamheid … van die klaarmaak, op die bestemde tyd opdaag, tot die aangewese plek, want daardie dag, op daardie tyd, op daardie plek sou die Etiopiër ʼn lewensveranderende ontmoeting met die Here Jesus hê!

Ons sien ook iets van die radikale gehoorsaamheid in vers 29. Die Gees vra van hom om saam met die wa van die Etiopiër te gaan loop, maar Filippus hardloop daarheen! Ek weet van nog ʼn profeet wat gehardloop het nadat hy sy opdrag ontvang het … Jona! Maar hy het – soos ons almal weet – in ʼn ander rigting gehardloop. Waar ons by Filippus van radikale gehoorsaamheid kan praat, moet ons by Jona dalk van radikale apatie praat. Tog klink dit bietjie vreemd om radikaal en apatie in een sin te gebruik; dalk moet ons eerder van Jona se uiterste apatie, sy ekstreme nie-omgee vir Nineve en sy mense (en diere) praat.

Ek wonder nogal waar ons vreeslike ordentlike streep vandaan kom? Jy weet, daai streep dat ons niks met oorgawe, niks radikaals mag doen of wees nie. Dis dié dat ons maar effens stywerug staan teenoor begrippe soos radikale gehoorsaamheid en om ʼn Jesus freak te wees. So asof Jesus nie ekstreem was nie, nie radikaal was nie … Hy het gans sy hemelse heerlikheid prysgegee … tot aan ʼn kruis … tot in die dood … vir my en jou. En ons? Hoe lyk ons antwoord op sy roepstem? Is ons radikaal en ekstreem in dieselfde mate, of laat ons toe dat ons reaksie gedikteer word deur die aanvaarbare norms vir ordentlikheid en gemanierdheid, wat dan alle vorms van ekstreem- en radikaal-wees uitsluit?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannah ·

Lukas 6 : 46 kom dadelik in my kop: “En wat noem julle My: HERE, HERE, maar julle doen nie wat Ek se nie?”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.