ToekomsVenster: Om ten volle aan boord te wees


boot-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Lees: 2 Konings 10:1-17

Jehu het die skrikwekkende opdrag gehad om die hele koningshuis van Agab uit te delg – 2 Konings 9:7: “So sal Ek My wreek op Isebel oor die vergieting van die bloed van my dienaars die profete” – ʼn opdrag wat Jehu met ywer uitgevoer het. Lees gerus 2 Konings 9:20: “Die wag het laat weet: Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu, seun van Nimsi wees, want hy dryf soos ʼn mal mens” en 10:16: “Jehu het gesê: Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.”

Raak prakties

Onwillekeurig word ek en jy ook gekonfronteer met ons eie alliansies (vír of téén die saak van die Here), lojaliteite en betroubaarheid; Jehu daag ons uit om ons te vergewis van ons vlak van toegewydheid en deelname en ywer. Jehu se onverskrokkenheid, toewyding en ywer is aansteeklik! Jehu het vir seker nie die woord middelmatig in sy woordeskat gehad nie! As daar iets soos ʼn Zealometer kon bestaan … hoe sou jou vlakke van alliansie, lojaliteit, betroubaarheid, deelname en ywer daarop gemeet het?

Iets om oor na te dink

Deesdae loop ʼn mens om elke hoek en draai, besigheid en kerk ʼn motiveringspreker raak. Die verhaal van Jehu laat my egter wonder waarom daar sprekers nodig is om ons te motiveer … leef daar dan nie ʼn genoegsame passie en ywer in ons vir die saak van die Here nie (wat dit ook al op ʼn gegewe oomblik sou wees)?

Gebed

Here, mag Jehu my aansteek …! Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.