ToekomsVenster: Onreg

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: Lukas 19:1-10:

“1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: ‘Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.’ 6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: ‘Hy gaan by ‘n sondige man tuis!’ 8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: ‘Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.’ 9Daarop sê Jesus: ‘Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.’”

Ken jy die verhaaltjie van die man wat sy werkgewer se goue pen gesteel het? Hy het gedink dat die baas so ryk is dat hy dit nie eers sal agterkom nie. Min het hy geweet hoe hy die wêreld omgekrap het! Die werkgewer was ontsteld. Sy vrou, wat die pen as ’n troudaggeskenk gekoop het, was woedend. Die kantoorwerkers het mekaar verdink. Almal was gespanne en kort van draad. Baie verleë het die skuldige aan sy baas se deur geklop. “Meneer”, het hy gesê, “ek is die skuldige. Ek wou my hele lewe al so ’n mooi pen gehad het. Ek het gedink u sal dit nie eers mis nie. Maar ek besef dit was baie verkeerd en ek is baie jammer daaroor. Sal u my asseblief vergewe?” Die baas was baie verlig en het opgestaan en die man omhels: “Ek is so bly dat die saak uiteindelik opgelos is. Nou sal daar weer vrede by die huis én op kantoor wees. Natuurlik sal ek jou vergewe!” Toe die skuldige baie dankbaar by die deur uitstap, het die baas hom egter voorgekeer. Hy het sy hand uitgesteek: “Ek is nie meer kwaad nie en ek het jou vergewe – maar kan ek asseblief my pen terugkry?”

Gebed:

O Vader, voor u troon staan ons skuldig! Ons het deel in die onreg en pyn in ons land. Dis vir my moeilik om dit te bely, maar in my hart weet ek dat my hande nie skoon is nie. Help my om die pyn in ander se lewens raak te sien. Help ons om regverdig te leef, soos U van ons verwag.

Om oor na te dink:

Blaai deur vandag se koerant of luister na die televisie-nuus. Hoeveel van die verhale van onreg en pyn word weergegee? Het jy enige aandadigheid daaraan? Op watter manier kan jy deel van die oplossing word?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.