ToekomsVenster: ons hanteer mekaar gelykwaardig en menswaardig


Olie_lamp_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Markus 1:1-15 Alhoewel daar in die Drie-eenheid drie persone is, weet ons dat hulle gelykwaardig is. Die een is nie hoër of beter as die ander nie. Hulle is gelyk aan mekaar.

Net so moet dit wees as ek en jy interaksie het met mense. Ons mag nooit “af” praat of geestelik meerderwaardig wees as ons praat nie. Die mense wat voor jou is, is nie dommer of nie in dieselfde klas as jy omdat hulle dalk nog nie die evangelie gehoor het nie. Mense is mense wat geskape is na die beeld van God en daarom vra die belangrikheid van verhoudings (perichoresis) dat ons ook mense so sal hanteer.

Jy aanvaar almal gelykwaardig en jy hanteer hulle menswaardig, of hulle gestrem is, ’n ander taal as jy praat en of hulle armer of ryker is as jy; hulle is elkeen volwaardig mens.

Ons is so geneig om juis dit waaroor ek hierbo skryf, te doen. Ons plaas mense in hokkies en dan etiketteer ons daardie hokkie. Ons gee die hokkie ’n naam. Vir mense om uit die hokkie te kom as jy hulle klaar daarin geplaas het, is amper onmoontlik.

Om met verhoudings te werk vra dat ek dit juis nie sal doen nie. Alle mense is gelykwaardig en menswaardig geskape. Dis nie reg van my en jou om mense anders te hanteer nie.

Gebed:

Here haal die skille van my oë af en help my om na mense te kyk soos wat U na hulle kyk. Amen.

Leefwyse:

Vir ons in Suid-Afrika is hierdie leefwyse, waar ons alle mense menswaardig en gelykwaardig behandel, baie moeilik. Reik vandag uit na iemand wat nie in jou normale vriendekring is nie.

Iets om vandag oor na te dink:

Maak ’n lys van groepe in jou gemeenskap. Byvoorbeeld: gestremdes, andertaliges, anderskleuriges. Wat kan jy doen om grense te verander of te breek?

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

vermeende ·

Hoe sal ek weet of n persoon van Asia is of nie.
Ek kyk na die kleur van sy vel.
Ek kyk na die kleur en tekstuur van sy hare.
Ek hoor die taal wat hy praat.
Ek kyk na sy gelaatstreke.
Ek kyk na sy kultuur.
God het ons verskillend gemaak, elk met sy eie taal, kultuur en voorkoms.

fred ·

Dis verseker – Die dag wat ons voor die Regter gaan verskyn, Ons Almagtige God, gaan Hy nie vra watse kleur, ryk of arm, wat ookal, Sal jy moet verantwoordelikheid doen vir jou eie dade. Here my God, bewaar my vandag, dat ek vandag net die goedheid in almal sal raak sien, en om te kan doen wat U van my verwag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.