ToekomsVenster: Sy oproep dra krag


agent-vir-God

Argieffoto.

In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.” Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop. Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” – Markus 1:2-8

Markus verhaal begin met hoe die bediening van Jesus deur die vreemde Johannes aangekondig is. Probeer jou vir ʼn oomblik ʼn ontmoeting met Johannes die Doper voorstel. Ongekunstelde woestynbewoner. Geen pretensie en voorgee. Reguit en onbeskaamd. Dat hy vreesloos was, word later gedemonstreer as hy nie huiwer om Herodus tot verantwoording te roep oor dié se egbreuk met sy broer se vrou nie. Dit het hom sy lewe gekos. Daar is ʼn prys verbonde aan volgelingskap. Dis die prys van geen kompromis en reguit praat. Bly jy eerder stil wanneer omstandighede jou roep om God se wil uit te basuin?

Massas stroom na Johannes waar hy mense oproep tot bekering en doop. Sien in jou gees hoedat mense aangegryp word deur die eenvoudige dog onverdunde oproep tot bekering. Sy optrede in die woestyn is ʼn metafoor van die geestelike bankrotskap van die mense. Sy oproep dra krag. Dit verander harte. Die Jode het gedink ander mense het bekering nodig. Nou moet hulle hoor dat die oproep aan hulle adres gerig word. Dink jy ook dat bekering vir ander mense bedoel is?

Die geringste taak wat ʼn mens kon onderneem, was om as slaaf iemand anders se skoene uit te trek. Johannes getuig dat hy nie eens dit werd is om die Messias se skoene uit te trek nie. Hy is bo alles verhewe – Jesus Christus die Seun van God. Ken jy jou plek voor die Koning van konings?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.