ToekomsVenster: Wanneer Hy die verhouding tussen ons herstel


vyeboom-02

Foto: Dimitrisvetsikas1969/Pixabay.com

Lees: Johannes 21

Ek het al soveel keer aan Petrus gedink – die oomblik toe hy besef dat dit Jesus was wat daardie vroeg-môre na hulle uitgeroep het – wat deur sy gedagtes en gemoed moes gaan. “Hoe gaan ek myself verduidelik? Hoe kan ek my verloëning by daardie binnehof-konka ooit regverdig?” En nou, hier – ná Jesus se opstanding – sou Petrus vir die eerste keer weer van aangesig tot aangesig met Jesus kom. Wat het deur sy gemoed gegaan vandat hy oor die skuit se kant geklim het tot hy by Jesus op die oewer was?

Maar vreemd genoeg, interessant genoeg, treffend genoeg … stel Jesus nie in enige verduideliking of flater-belydenis vanaf Petrus se kant af belang nie … net: “Het jy My lief?” Drie keer. Jesus kan net so goed en net so ver as die binnehof-haan tel! Drie keer. En elke “Ja, Here, U weet” is ʼn herstel-oomblik vir Petrus. Oorweldigend. Drie keer kans om reg te maak, drie keer kans om opgerig te word, weer rots te word.

Raak prakties

Het jy al so oor die skuit se kant geklouter, op pad na die oewerkant waar Jesus op jou wag en elke tree klink jou verduideliking, jou regverdiging van daai flater al meer hol? Maar wanneer Jesus jou nie vaspen met ʼn “Hoekom?” nie, weet jy, besef jy, daar’s niks groter as sy liefdevolle genade, niks sterker as hoop in Hom nie! Lees, en geniet, Romeine 8:1.

Iets om oor na te dink

Eendag het Jesus by ʼn vyeboom gaan stilstaan, die blare eenkant toe gedruk en gesoek na vrugte. Tevergeefs. Konfronteer hierdie oomblik ons met die klomp blare wat ons regdruk en voorhou, waarmee ons poog om ons vrugteloosheid of klipharde, grasgroen vytjies agter weg te steek? In Johannes 15 word ons daarop gewys: “Die Vader word daardeur verheerlik dat ons baie vrugte dra.” Hoe reageer jy op hierdie konfrontasie-oomblikke? Druk jy die blare stywer en nader na mekaar, of is jy verheug dat die Here genoeg omgee om steeds bemoeienis met jou te maak, die verhouding te herstel, jou weer op te rig in ʼn Vader-verheerlikende lewe, ʼn vrugdraende lewe, ʼn lewe uitgegiet in sy roeping vir jou?

Gebed

Here, U weet … U weet … U weet, ek het U lief. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marí ·

U Ken my hart. Ek het U lief Here! Ek gee nie om wat met my hier op aarde gebeur nie, solank ek in U wonderlike teenwoordigheid kan bly. Dankie my Vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.