Gedagte vir die dag: Tuiskoms by die Herder

God-se-skepping-wie-is-die-mens

Foto: Bethelgospelradio.co.za

Lees: Psalm 23

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. (Psalm 23:6)

Die herders van Dawid se tyd het van plek tot plek rondgetrek met hul skaaptroppe, om só te verseker dat die skape die beste weiding sou kry. Tydens die winter moes hulle egter na hulle huise terugkeer, omdat die weer te koud vir die skape was. Wanneer hulle weer by die huis was, saam met hulle families, was dit vir hulle ekstra wonderlik weens die rondswerwery met die skaaptroppe.

Ons hou almal graag vakansie, maar soms is die tuiskoms ná die vakansie byna nog lekkerder. By jou huis, saam met jou geliefdes is jy mos op jou gelukkigste. Die psalmdigter skryf dat hy eendag tuis sal wees in die huis van die Here. Hy praat hier van die gelowiges se tuiskoms in die hemel ná ons aardse swerftog. Skryf Petrus dan nie dat God se kinders hier op aarde maar net vreemdelinge en bywoners is nie (1 Petrus 2:11)? Ons eintlike tuiste is die hemel.

By daardie hemelse tuiskoms sal alle dinge wat die lewe op aarde vir ons moeilik gemaak het, vir altyd verdwyn, en ons sal God se teenwoordigheid vir ewig kan geniet.

As jy eendag by die Herder wil tuiskom, sal jy Hom nou al moet opsoek, jou lewe aan Hom toevertrou, en leef soos Hy van jou vra. Dan kan jy nou reeds die belofte van ’n tuiskoms by die Herder wanneer jy vir ewig saam met Hom sal wees, vir jou toeëien.

Here, dis so wonderlik dat ek ná al die aardse seerkry en swaarkry kan uitsien na ’n ewige tuiskoms by U. Dankie dat U nou reeds besig is om my plek in die hemel gereed te maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.