[Video] Gemeenskapsteater lewer plaaslike talent op

Luther-deel-Bybels-uit-Susan-die-blondekoppie-met-wit-hoedjie-agter-langs-Luther.jpg

Foto verskaf

Uit diep van donker nagte laat die reformasie ná 500 jaar herleef in ’n unieke multimedia-, teater-in-die-rondte-produksie wat jonk en oud diep sal tref. Die gehoor word op verrassende wyse midde-in die dramatiese gebeure geplaas wat vyf eeue gelede in die lewens van gewone gelowiges afgespeel het. Dit vind plaas deur die dokumentêre vertelling met toneelspel, ensemblesang, kamermusiek, orreluitvoering en gehoordeelname saam te snoer. In Oktober, tydens die herdenking van die reformasie, word die opgediepte en afgepoetste professionele produksie weer deur plaaslike “akteurs” en sangers uit die gemeenskap opgevoer.

Die produksie spog met ’n singende Luther (gespeel deur die talentvolle Frikkie van Biljon), sewe predikante uit drie verskillende kerke, een teologiese student en altesaam meer as 100 spelers uit 21 verskillende gemeentes. Uit dié spelers is ongeveer 30 laerskoolleerders uit drie plaaslike laerskole en 12 kleuters, waarvan die jongste een jaar oud is, indien sy so laat kan wakker bly. Die oudste speler is 85 jaar oud.

”Ons wil oud en jonk besiel en meesleur deur hierdie kragtige wolk van getuienis wat die eeue oorspan, hoop bring in tye van verwarring en elke gelowige oproep om die heerlike verlossingswerk van Christus te besing!” sê die regisseur, Ina Opperman.

Frikkie van Biljon, ’n plaaslike inwoner van Centurion, het onlangs sy eerste enkelsnit uitgereik (“Altyd by my”) en vertolk die ro

1-Ina-Opperman-Regisseuse-Skrywer-DDN-2017.jpeg

Ina Opperman, regisseur en skrywer (foto: verskaf)

l van die worstelende jong Martin Luther. Ná ’n konfrontasie met die kleurvolle aflaatsmous, Tetzel, het hy sy 95 stellings teen die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker. Hieroor word Luther tot orde geroep op die Ryksdag van Worms. Daar uiter hy die bekende woorde waarmee hy sy lewe op die spel plaas: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie! Mag God my help!” Sien video hieronder van repetisie (video verskaf).

Luther se woorde en dade ontbrand ’n vlam van herlewing dwarsdeur Europa. Calvyn tree tevergeefs in die bresse vir die Hervormers en die Hugenote. Guido de Bres gooi sy geloofsbelydenis oor die paleismuur in Nederland en boet met sy lewe… maar God is in beheer. Christus se oorwinning aan die kruis en ’n geloofsblik op die hemelse heerlikheid versterk en bemoedig getroue gelowiges deur alle eeue heen. “Om die rol van Martin Luther te vertolk herinner my weer dat Christenskap ’n voortdurende reformasie is”, sê Frikkie van Biljon.

Kom herleef die dramatiese gebeure van Luther en sy tydgenote tydens die 16de eeuse kerkhervorming in ’n kaleidoskoop van menslike emosie wat wissel tussen twyfel, verwarring, angs, smart, wanhoop, hoop, blydskap en vreugde!

Opvoerings vind vanaf 25 tot 28 Oktober in die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Centurion plaas in samewerking met die regisseur, Ina Opperman.

Kaartjies verkoop nou vinnig uit, maar is nog aanlyn beskikbaar of Woensdae (10:00-11:00) by die kerkkantoor van die Gereformeerde Kerk Centurion. Winste van die produksie gaan vir ’n verdienstelike saak binne die kerk aangewend word.  Jy kan ook aanlyn kaartjies koop.  Besoek gerus Tixsa.

Wanneer: 25, 26, 27, 28 Oktober 2017
Waar: Gereformeerde Kerk Centurion, Basdenlaan 226, Lyttelton, Pretoria
Tyd: 19:00 vir 19:30 – 22:00
FB-blad: @uitdiepvandonkernagte
Navrae: [email protected]

Maarten #Luther, eertydse monnik, nou professor in teologie aan die universiteit van Wittenberg, biddend besig met #Bybelstudie. Jare lank al is hy in 'n persoonlike worstelstryd gewikkel, tevergeefs op soek na bevryding en sielevrede. Die Helige Gees lei Luther uiteindelik tot 'n belangrike deurbraak …Die rol van #Luther word vertolk deur Frikkie van Biljon, 'n besonderse begaafte sanger en akteur. Meer oor Frikkie in 'n volgende aflewering. #Reformasie500 #SolaFide #DDN #UitDiepVanDonkerNagte

Posted by Uit Diep Van Donker Nagte on Friday, September 1, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.