Gedagte vir die dag: Ek wens ek was oorgewig!

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Getel, getel, geweeg en verdeel. (Daniël 5:25)

“Ek wens ek was oorgewig!” Dít hoor ’n mens nie baie nie. Gewoonlik is die verskrikking van die skaal die onderwerp waarmee die meeste mense hulle Nuwejaarsvoornemens begin. Mense kan baie geld betaal, pille drink, trane huil, kilometers hardloop om net minder te weeg.

Met hartsake werk dinge net mooi andersom. Jesus weeg harte. Dit beteken Hy toets die integriteit van ons binnelewe – die deel wat niemand kan sien nie. ’n Liggewig hart is een wat vasberade en doelbewus God uitsluit en weier dat Hy daaroor heers. ’n Swaargewig hart is een wat na God smag soos ’n gemsbok in die Kalahari na water smag. Dis nie ’n spesiale gawe nie – dis ’n spesiale begeerte. Dis wanneer jy erken dat Jesus die ware Koning is en waardig is om oor elke deel van jou lewe te heers as jy sy heerskappy opreg begeer. Dis nie geleerdheid, geld, aansien, besittings en eer wat swaar weeg nie.

Koning Belsasar met al sy prag en praal is te lig bevind. Hy was ’n vors wat gedink het hy kan God weerstaan. Sy ondergewig hart het hom duur te staan gekom omdat God ʼn vonnis oor hom voltrek het wat hom vir ewig sonder lewe gelaat het. Die Regter in Belsasar se uitspraak was Jesus self. Hoe weet ons dit? God sê so in Psalm 2. Die vorste van die aarde weerstaan God en God waarsku hulle met hierdie woorde: “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word nie” (v 12, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Dit was niemand anders nie as die Seun wat toornig geword het oor Belsasar se volgehoue, doelbewuste liggewig hart.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.