Werkersdag: Jou positiewe invloed as Christen

Argieffoto (Foto: Danjocross)

Argieffoto (Foto: Danjocross)

Deur dr. Callie Opperman

Werkersdag het sy oorsprong by die Amerikaanse werkers wat gestry het vir regverdige werksure. Op 1 Mei 1886 het meer as 300 000 werkers hulle werkplekke verlaat en geëis dat hulle ʼn agt ure werksdag wil hê. Dit het hewige reaksie uitgelok, wat op die “Haymarket Massacre” in Chicago uitgeloop het. Vandag word Mei-dag of Werkersdag geassosieer met vakbonde, sosialiste en kommunistiese groepe, wat optogte het om die werkers se behoeftes aan die wêreld bekend te maak.

Die Christelike gemeenskap het egter al in die eerste eeu na Christus riglyne ontvang oor hoe die verhoudinge tussen werkers (destyds slawe) en werkgewers moes wees. “Doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie!” hoor die slawe in Efesiërs 6:7. En die werkgewers moet daaraan dink dat die Here in die hemel beide die werkers en die werkgewers se Here is! En Hy trek niemand voor nie – almal is voor die Here gelyk (Ef 6:9). Groot woorde vir daardie tyd, toe die slaaf as die eiendom van sy heer beskou is. Geen regte gehad het nie, allermins as gelyke beskou is!

Daar is vandag steeds op talle terreine spanning tussen die werkersklas en die werkgewers. Stakings, soms gewelddadig en ander kere vreedsaam, betogings en eise vir beter salarisse en werksomstandighede, is daagliks in die nuus. Christene onder die gesag van hulle Here Jesus, burgers van Sy hemelse koninkryk, moet in hierdie wêreld waar ons woon die voorbeeld stel van goeie werksverhoudinge. Dit is nie altyd so maklik om in die kookpot van arbeidsonrus Christelik op te tree nie. Tog kan Christene van voetsoolvlak tot in die bestuurskringe die stem van Christus laat hoor. Regverdige betaling vir werkers wat getrou hulle arbeid verrig, veilige werksomstandighede, waardige lewensruimte vir selfs die laagste besoldigdes, is sekerlik ook ons Here se wil.

Kom ons leef uit respek vir ons Here ons Christelike oortuigings uit – daar waar ons werkers of werkgewers is. Hy is die een wat “elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry” (Efes 6:8). So kan ons in ʼn soms donker wêreld, met onhoudbare spanning tussen werkers en werkgewers, ʼn helder lig van regverdigheid laat skyn.

– Dr. Callie Opperman is die redakteur van Deo Gloria, ʼn nuusbrief uitgegee deur die Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henkb ·

Alles goed en wel, maar hoekom word Hemelvaart dag nie meer gevier nie? Waarom moet dinge van die mens gevier word, en die dag wat Jesus opgegaan het om ons sondes en laste te bepleit en voorspraak te maak vir ons mense, word net van die tafel afgevee. En dan het ons die vermetelheid om onsself christene te noem, Ha.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.