Talle verrassings gaan KKNK-feesgangers meesleur

Dowwe Dolla in die produksie #Dowwedolla. Foto: Verskaf

Dowwe Dolla in die produksie #Dowwedolla. Foto: Verskaf

Feesgangers kan by vanjaar se 22ste KKNK in Oudtshoorn uitsien na meer as 30 oorspronklike vertonings.

Vanjaar se KKNK beloof om aan elke feesganger ’n onvergeetlike ervaring te bied. “Die debuutwerke by vanjaar se KKNK is gekeur om aan feesgangers ’n wye verskeidenheid keuses te bied en onvergeetlike ervarings te skep. Gehore sal opwindende teater sien met net die beste vakmanskap en inhoud waarmee hulle hul op soveel vlakke sal kan vereenselwig. Die keuse van musiekgenres bied uiteenlopende musiekvermaak vir elkeen se smaak. Die nuwe musiekvertonings op die feesprogram sorg vir ervarings wat nog lank in almal se geheue sal bly,” het Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied, gesê.

HemelBesem, wat vanjaar vereer is met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys, is in drie debuutvertonings te sien. In die skerpskerts-komedie, Op ’n ernstige noot, sal hy en die Afrikaanse kletsrymer Yoma die gehoor laat skater. In Die Afrikaansvatter sluit Coenie de Villiers by hom aan vir ’n opwindende mengsel van skerpskerts, musiek, graffiti en animasie. Rymklets van Oos tot Wes bring die skerpste ryme en beste klank na die Klein-Karoo, saam met kunstenaars soos Bliksemstraal, Linkris, Early B en ’n gaskunstenaar uit België.

Vinette Ebrahim, die hoofkarakter in die debuutdrama, Invisible, sal sorg vir selfondersoek by elkeen wat die vertoning sien. Hierdie storie van aanpassing speel in die lewe van ’n Distrik Ses-familie af. Christo Davids is die regisseur van hierdie eenvrou-vertoning.

Die Man Jesus, met André Lombard onder regie van Charles J. Fourie, vertel die verhaal van Jesus op ’n baie persoonlike vlak, deur te kyk na sy menswees en hoe ander hom gesien het. Hierdie stuk ontleed Jesus se karakter en raak ook die redes aan vir sy invloedryke lewe. Die gehoor word deel van ’n emosionele reis saam met Jesus en sy dissipels, wat strek vanaf Jerusalem en Galilea na Golgota.

Dowwe Dolla, oftewel Margit Meyer-Rödenbeck, het vanjaar ʼn groot verrassing vir die gehoor. “Ek stel vanjaar die eerste keer vir Ouma Dolla aan die wêreld voor,” het sy vertel. Ouma Dolla maak ’n verskyning in #Dowwedolla, waar Dolla soos gewoonlik nie bang is om haar mening oor alles, van sosiale media tot hondsdolheid, te lug nie.

Ter opvolging van Schalk Joubert se Al lê die berge nog so blou, wat in 2015 by die KKNK met die Kanna vir beste musiekproduksie bekroon is, span Koos Kombuis, Katlego Maboe en die plaaslike sangeres, Shinobia Saptouw (genomineer vir die Kanna vir beste opkomende kunstenaar in 2015) kragte saam in ’n opwindende nuwe vertoning, Naledi berge nog so blou. Dit is ’n kultuurreis deur die geskiedenis van verskeie musiekelemente wat Suid-Afrikaners na aan die hart lê en beloof om terselfdertyd asemrowend en insiggewend te wees.

Die feesprogram is beskikbaar by op die KKNK se webwerf. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.