Verbruikersake: Tribunaal beboet Shoprite oor roekelose krediet

shoprite

Argieffoto.

Die Nasionale Verbruikerstribunaal het vandeesweek bevind die kleinhandelaar Shoprite het roekeloos geld uitgeleen, nadat die Nasionale Kredietreguleerder se ondersoek gewys het hy het geld aan verbruikers geleen sonder om eers seker te maak dat die verbruikers in staat is om die lenings terug te betaal. Ina Opperman vertel meer oor die bevinding en verduidelik wat roekelose uitlening is.

Shoprite het die Nasionale Kredietwet oortree deur met die bepaling van die verbruiker se vermoë om ʼn lening terug te betaal ook die onbevestigde inkomste van iemand anders, soos ʼn eggenoot of lewensmaat, in ag te neem, sê Nomsa Motshegare, hoof van die Nasionale Kredietreguleerder (NKR).

Die tribunaal het Shoprite beboet met R1 000 000 en die kleinhandelaar moet ook op sy eie koste ʼn skuldberader aanstel wat kan kyk of die betrokke verbruikers oorbelas is wat skuld betref.

Roekelose uitlening

Artikel 80 van die Nasionale Kredietwet bepaal dat ʼn kredietooreenkoms roekeloos is indien die kredietverskaffers nie seker maak of die verbruiker dit kan bekostig om die lening af te betaal nie, of ondanks die feit dat dit blyk dat die verbruiker dit nie kan bekostig of nie die uitwerking daarvan begryp nie, steeds die lening goedkeur.

Voorkoming van roekelose uitlening

Volgens artikel 81 moet verbruikers eerlik wees wanneer hulle aansoek doen om krediet sodat die kredietverskaffer al die nodige inligting het om te besluit of krediet toegestaan sal word. Kredietverskaffers mag nie roekeloos geld uitleen nie. Kredietverskaffers moet:

  • seker maak die verbruiker begryp die risiko’s en koste verbonde aan die kredietverskaffing en verstaan sy regte en verpligtinge wat daarmee verband hou,
  • die verbruiker se terugbetalingsgeskiedenis vir kredietooreenkomste nagaan,
  • seker maak van die verbruiker se bestaande finansiële vermoë, vooruitsigte en verpligtinge, en
  • kyk of daar redelike gronde is om ʼn onderneming suksesvol te bedryf indien dít is waarvoor die verbruiker krediet nodig het.

ʼn Kredietverskaffer is nie skuldig aan roekelose uitlening nie indien die verbruiker oneerlik was en indien die tribunaal bevind dat die verbruiker se oneerlikheid ʼn wesenlike invloed gehad het op die kredietverskaffer se vermoë om vas te stel of die verbruiker dit kan bekostig.

Hoe besluit ʼn kredietverskaffer of jy ʼn lening kan bekostig?

Artikel 82 van die wet bepaal dat ʼn kredietverskaffer regverdig en objektief moet besluit of verbruikers krediet kan bekostig. Regulasie 23A is later bygevoeg, wat bepaal dat kredietverskaffers verbruikers se bestaande finansiële vermoë moet bepaal om te kyk of hulle die terugbetalings kan bekostig.

Kredietverskaffers moet die verbruiker se inkomste voor aftrekkings bevestig met die afgelope drie salarisstrokies van salaristrekkers of die bankstate van die afgelope drie maande wat die salarisinbetalings wys, of dokumentêre bewys van inkomste of die afgelope drie maande se bankstate indien die verbruiker nie ʼn salaris verdien nie. Verbruikers wat vir hulself werk, of werk waar hulle nie bewys van inkomste het nie, moet die afgelope drie maande se bankstate indien of hul jongste finansiële state.

Verbruikers moet al hul finansiële verpligtinge aandui en die kredietverskaffer moet dit volgens die voorgekrewe tabelle bereken saam met die verbruiker se vooruitsigte, soos inkomste voor aftrekkings, statutêre aftrekkings, kredietbetalings, onderhoud en ander verpligte uitgawes om die bedrag te kry wat beskikbaar is vir terugbetaling van nuwe skuld.

Wat gebeur met roekelose kredietooreenkomste?

Die howe kan die verbruiker se regte en pligte met betrekking tot die kredietooreenkoms tersyde stel of die ooreenkoms opskort en die verbruiker hoef dan volgens artikel 84 van die wet nie verder te betaal nie.

Kla hier as jy dink iemand het roekoos krediet aan jou toegestaan:

Bel die NKR by 0860 627 627 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justice ·

R1m as boete is niksseggend in ag genome dat Shoprite `n multi miljard rand maatskappy is en dit nie eens uit hul kleinkas rekening gemis sal word. Die Nasionale Verbruikerstribunaal sal beslis meer tande moet kry om as afskrikmiddel te dien.

Niccy ·

Wonder of die wet vir die banke ook geld wat so maklik Krediet kaarte aan pensioenarisse toestaan?

Anoniem ·

Wat van die ander kant van die munt? Hoe werk jou kop as jy wil geld leen, maat jy weet jy sal dit nie kan terugbetaal nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.