Verbruikersake: Wil jy ʼn franchise koop? Lees éérs hier

entrepreneur-onderneming-rekenaar-selfoon-skootrekenaar-skryf-notas

Foto: Pixabay/Pexels.com

Mense gebruik dikwels die geld wat hulle ná ʼn aflegging of aftrede kry om ʼn franchise te koop, maar ongelukkig het hulle nie altyd die sakekennis wat nodig is om van ʼn eie onderneming ʼn sukses te maak nie. Al is die Wet op Verbruikersbeskerming gerig op die beskerming van verbruikersregte en nie soseer die regte van ondernemings nie, word die koop van ʼn franchise juis deur die wet gedek omdat gewone verbruikers dit dikwels koop. Ina Opperman verduidelik hoe die wet jou regte beskerm en waarvoor jy op die uitkyk moet wees as jy daarin belangstel om ʼn franchise te koop.

Wanneer jy ʼn franchise koop, is dit eerstens belangrik om te sorg dat jy al die inligting het wat jou in staat sal stel om ʼn ingeligte keuse te maak. Die inligting sluit al die klousules in die kontrak en verpligte openbaarmaking in, wat die kopers van franchises moet beskerm teen onbillike en onregverdige voorwaardes en risiko’s.

Die franchise-ooreenkoms

ʼn Franchise-ooreenkoms sluit bepalings in dat die koper betaal vir die reg om sake te doen in Suid-Afrika, die franchise-verkoper se dienste en die gebruik van die handelsnaam en bemarking, soos reklame, handelsmerke, handelsimbole, kentekens en etikette wat die verkoper se eiendom is. Die ooreenkoms dui ook aan dat die verkoper die een is wat die stelsel of bemarkingsplan bepaal en dat die onderneming sal voldoen aan die franchise se vereistes oor hoe dit moet lyk.

Hoe om die ooreenkoms te kanselleer

Die verbruiker kan ʼn franchise-ooreenkoms kanselleer sonder om enige koste of boetes te betaal binne tien werksdae nadat die ooreenkoms geteken is, deur op skrif kennis te gee aan die verkoper dat hy die ooreenkoms wil kanselleer.

Artikel 5(6)

Volgens Artikel 5(6) van die wet word ʼn franchise-koper nie net beskerm nadat die franchise-ooreenkoms geteken is nie, maar ook in die geval van:

  • Navrae oor ʼn franchise-geleentheid
  • Aanbiedings van ʼn franchise-verkoper om ʼn ooreenkoms te sluit met ʼn voornemende franchise-koper
  • ʼn Franchise-ooreenkoms of ʼn ooreenkoms wat volg op ʼn franchise-ooreenkoms en die verskaffing van goedere en dienste aan ʼn franchise volgens die ooreenkoms.

Artikel 7

Artikel 7 van die wet vereis dat franchise-ooreenkomste op skrif moet wees, in gewone, verstaanbare taal en dat albei partye dit onderteken. Dit moet ook die volgende insluit:

  • Die presiese woorde: ‘a franchisee may cancel a franchise agreement without cost or penalty within ten business days after signing such agreement, by giving written notice to the franchisor. (Section 7(2) Consumer Protection Act 2008)’, soos voorgeskryf deur regulasie 2.
  • Bepalings wat die verbruiker beskerm teen onbillike en oorgewaardeerde fooie, pryse of ander direkte of indirekte betalings of onregverdige optrede oor die risiko’s van een van die partye, of die werklike sakebelange van die franchise.
  • ʼn Klousule dat die verkoper nie ʼn onverklaarde direkte of indirekte voordeel of vergoeding mag kry van verskaffers nie, tensy die kopers van die franchise skriftelik daarvan verwittig is.
  • Die naam en beskrywing van die soorte goedere of dienste wat die franchise-koper kan verskaf, vervaardig, maak of verkoop, sowel as die verkoper en koper se verpligtinge en ʼn beskrywing van die franchise.
  • Direkte of indirekte betalings wat die koper aan die verkoper moet betaal.
  • Besonderhede van die gebiedsregte, indien daar is, wat aan die koper toegestaan word en ʼn beskrywing van die perseel en ligging van die onderneming, sowel as die aard en omvang van die verkoper se betrokkenheid by die goedkeuring van die perseel.
  • Wanneer die koper of sy boedel die regte en verpligtinge in terme van die franchise kan oorplaas of toewys aan iemand anders.
  • ʼn Beskrywing van die handelsmerk of enige ander intellektuele eiendom wat die franchise-verkoper besit of lisensieer en die voorwaardes vir die gebruik daarvan.
  • Die identiteit van die meesterverkoper as daar een is, sowel as die verkoper se regsnaam, handelsnaam, geregistreerde kantoor en franchise-kantoor, straatadres, posadres, e-posadres, telefoonnommer, faksnommer en die verkoper se direkteure of soortgelyke amspdraers se name, identiteitsnommers, dorp waar hulle woon, posisie en kwalifikasies.
  • Indien die maatskappy nie genoteer is nie, besonderhede van die eienaar, lid of aandeelhouer.
  • Inligting oor opleiding en bystand van die verkoper aan die koper.
  • Die voorwaardes vir beëindiging, hernuwing, klandisiewaarde en toekenning van die franchise, sowel as die opsie om die franchise uit te brei of te hernu.
  • ʼn Geskrewe verduideliking van enige voorwaardes wat die koper nie heeltemal verstaan nie.
  • Enige beperkings op die franchise-koper.
  • Bevestiging dat enige deposito’s van die koper in ʼn aparte bankrekening gehou word en hoe hierdie geld gebruik sal word.
  • Volledige besonderhede van die koper se finansiële verpligtinge, wat die voorafbetaling, koop of huur van die perseel, koste om die perseel te verander, dekor en letterskilderwerk, toerusting, meubels, personeel, opleiding, voorraad, regs- en finsieringskoste en aanvanklike bedryfskapitaal insluit en ʼn aanduiding hoe dit bereken is.
  • Watter uitgawes ingesluit is in die aankoopprys.
  • Die finansiering wat beskikbaar is van die verkoper, die voorwaardes daarvoor en die totale bedrag wat die koper moet bydra voordat die geld aan hom geleen kan word.
  • Enige bedrae wat die koper gereeld aan die verkoper moet betaal en of dit altyd dieselfde gaan bly en of die koste vir goedere en dienste wat die koper by die verkoper moet koop, daarby ingesluit is. Die datums vir die betalings moet ook aangedui word.
  • Enige heffings vir administratiewe dienste en wat hierdie dienste behels.

Regulasie 2

Volgens regulasie 2 moet die koper direk of indirek bydra tot die fonds vir reklame of bemarking en die ooreenkoms moet die bedrag daarvoor aandui. Kopers moet ʼn afskrif van die finansiële state kry wat die fonds se inkomste en uitgawes vir die afgelope finansiële jaar wys, binne ses maande ná die einde van die finansiële jaar. Geld uit hierdie fonds mag nie gebruik word vir reklame of bemarking vir die verkoop van nog franchises nie. Die koper moet ook ʼn sertifikaat kry van ʼn geregistreerde ouditeur dat die fonds se rekening geoudit is en dat die state korrek is.

Regulasie 3

Regulasie 3 bepaal dat die verkoper ʼn dokument aan die koper moet gee wat inligting oor die franchise verskaf, minstens 14 dae voordat die ooreenkoms onderteken word. Hierdie dokument moet deur die verantwoordelike persoon geteken word en die volgende inligting gee:

  • Die aantal winkels in die franchise;
  • Die groei van die franchise-verkoper se omset, netto wins en die aantal winkels wat in die vorige jaar geopen is;
  • ʼn Verklaring dat daar geen belangrike veranderinge in die verkoper se finansiële posisie was sedert die laaste sertifikaat deur die ouditeur uitgereik is nie;
  • Geskrewe vooruitskattings oor die vlakke van moontlike verkope, winste of ander vooruitskattings en hoe dit bereken is;
  • ʼn Sertifikaat op ʼn amptelike briefhoof van die ouditeur dat die onderneming ʼn lopende onderneming is, in staat is om sy huidige verpligtinge na te kom en dat die finansiële state opgestel is volgens wetgewing;
  • ʼn Lys van die huidige franchise-houers en -winkels en die name van die verteenwoordigers, die fisieke adresse, e-posadres en telefoonnommer;
  • ʼn Verklaring dat die voornemende koper ander franchise-houers kan kontak of ander winkels in die franchise mag besoek om seker te maak die inligting is korrek;
  • ’n Organogram wat wys hoe die ondersteuningstelsel vir franchise-houers werk.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor franchises wat skeefloop. Besoek die Nasionale Verbruikerskommissie se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.