Wys bejaardes liefde en ondersteuning

Foto: www.pixabay.com

Foto: www.pixabay.com

Vanjaar se Tooi Turkoois vir Bejaardes-veldtog vind plaas van 15 Mei tot 15 Junie. Dié bewusmakingsveldtog is daarop gerig om jaarliks aandag te vestig op omgee en versorging van ouer mense.

Tooi Turkoois vir Bejaardes verskyn op die nasionale kalender vir spesiale dae en is gemeenskapsgedrewe met ondersteuning van die nie-regeringsorganisasie, Plesion.

Magda van Deventer, woordvoerder vir die veldtog, sê ouer mense wil ook graag veilig in vrede leef met waardigheid.

“Turkoois is die kleur waarmee gemeenskappe sigbaar aandui dat hulle omgee vir ouer mense. Om hul ondersteuning vir ouer persone te wys, word die publiek gevra om turkoois-klere en strikkies te dra en hul omgewing van 15 Mei tot 15 Junie met turkoois te versier,” het sy gesê.

Vanjaar gee dié veldtog ook spesiaal aandag aan die versorgers van bejaardes. Ds. Marius Bacon, een van die mense wat betrokke is by die veldtog, sê dit vat baie deursettingsvermoë en liefde om ouer mense te ondersteun.

“Daar is duisende familielede, verpleërs en versorgers wat met soveel moeite en deernis na bejaardes omsien. Hulle het baie geduld om al die klagtes, seer en verdriet van bejaardes aan te hoor en hulle te vertroos en met die wonderlikste toewyding te versorg,” het hy gesê.

Lede van die publiek en organisasies wat wil deelneem aan die veldtog, word uitgenooi om die webwerf te besoek of ʼn epos te stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.