In diepte: Noordwes wil donkies teel vir China

donkies-02

Daar het ʼn winsgewende swartmark vir die uitvoer van donkievelle ontstaan. China wil glo minstens jaarliks ook 5 000 donkies, soos hierdie in Okahandja, van Namibië koop. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Toe die Afrikaanse liedjieskrywer Chris Blignaut destyds die wondere van die donkie besing het, het hy sekerlik nie tablette, tonikums of strope in gedagte gehad wat van donkievelle gemaak word nie.

Tog het daar in die afgelope paar jaar ʼn uiters winsgewende swartmark vir die uitvoer van donkievelle, in veral Suid-Afrika, ontstaan. “ʼn Donkie word vir tot R300 van ʼn stamhoof gekoop, of anders word die donkies eenvoudig net gesteel. Die velle word vir tot R7 000 verkoop en een besending velle kan tot R8 miljoen inbring,” het Ashley Ness, ʼn inspekteur van Highveld Horsecare Unit, gesê.

Diereregte-organisasies, wat na die welsyn van perde en donkies omsien, het verlede week saam met die polisie se veediefstaleenheid op sowat 3 500 donkievelle in Benoni, Gauteng, beslag gelê. Bure het gekla oor die stank wat oor die kleinhoewe in die omgewing hang, waarna daar ondersoek ingestel is en op die gedroogde velle afgekom is.

“Ons glo ons het ʼn afsetpunt van een van die grootste sindikate wat in die diere se velle handel dryf, gevind. Ons kon met ons ondersoek vasstel dat daar byna weekliks soveel velle van hierdie kleinhoewe verskaf is vir uitvoer na China. Die donkies word uit Noordwes, Limpopo en Noord-Kaap verskaf en hulle velle word vir uitvoer vanaf plekke soos Delmas, Randfontein, Benoni en Boksburg verwerk.”

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het ook verlede week die borgtogaansoek wan twee mans teengestaan wat honderde donkies op ʼn plaas in Olifantshoek in die Noord-Kaap op ʼn grusame wyse vir hulle velle afgeslag het.  Grace de Lange, ʼn woordvoerder vir die NDBV se plaasdiere-eenheid, sê die organisasie is in besit van beeldmateriaal waarin donkies grusaam doodgemaak word of selfs lewend is terwyl hulle velle gestroop word.

In Oktober verlede jaar het die NDBV ook op ʼn vragmotor vol donkies in Limpopo beslag gelê. Die 41 donkies was vir Gauteng bestem en sommige van die diere was reeds dood tot die vragmotor voorgekeer is. Die vier mans is van dieremishandeling aangekla. De Lange het bevestig dat hulle intussen ook skuldig bevind en tot agt maande tronkstraf gevonnis is.

Albei diereregte-organisasies sê hulle is veral bekommerd oor die onmenslike manier waarop die diere gehanteer en doodgemaak word. “Die karkasse van die donkies word dikwels gestort, maar ons weet ook van gevalle waar die vleis verwerk en verkoop is. Ons is besig om dit te ondersoek,” het Ness gesê.

Sy sê China het hulle tot Afrika se donkies gewend nadat die land se eie donkiebevolking sedert die 90’s gehalveer het. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die industrialisering van China se ekonomie wat donkies oorbodig gemaak het. Die donkie is egter nie net ʼn trekdier in die land nie, sy vel is die bestanddeel in ʼn gewilde tradisionele Chinese medisyne.

ʼn Tradisionele geneesmiddel wat vir alles kan help

Die donkievelle word gekook om die gelatien te bekom wat ʼn hoofbestanddeel in ejiao is. Chinese glo die gelatien het teenverouderingseienskappe en kan slapeloosheid en duiseligheid behandel. Ejiao word ook as ʼn bloedtonikum beskryf, wat onder meer kan help om bloeding te stelp en ʼn mens se bloed te versterk terwyl dit ook glo bloedsirkulasie verbeter. Volgens die Independent word die gelatien in ʼn harde jel verkoop wat in warm water of alkohol opgelos word. Dit kan ook as ʼn room vir beensere aangewend word.

The African Exponent berig dat China jaarliks minstens vier miljoen donkies benodig om in die vraag na die vervaardiging van ejiao te voorsien. Meer as 5 000 ton ejiao word jaarliks in die land vervaardig. Daar word geraam dat China se donkiebevolking tans op net 1,8 miljoen diere staan.

donkies-01

ʼn Donkie word vir tot R300 van ʼn stamhoof gekoop, of anders word die donkies eenvoudig net gesteel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Donkies in die res van Afrika

“Suid-Afrika is nie die enigste mark vir die verskaffing van donkievelle nie, ander Afrikalande soos Kenia en Tanzanië verskaf ook velle aan China,” het Ness verduidelik.

Verskeie Afrikalande het egter verlede jaar besluit om uitvoer van donkies en hulle velle te verbied, nadat die vraag daarna die bevolking van die trekdiere dramaties uitgedun het. Volgens CNN het Niger in September die uitvoer verban, nadat 80 000 diere in een jaar aan China verkoop is in vergelyking met net 27 000 in 2015. Regeringsbeamptes het gewaarsku dat die land se donkiebevolking heeltemal uitgewis sal word indien die tendens voortgesit word. In Augustus het Burkina Faso dieselfde stappe gedoen nadat 45 000 donkies van ʼn bevolking van 1,4 miljoen in net ses maande geslag is.

Die waarde van donkies in albei lande het gestyg, en die bedryf het ʼn waardevolle inkomstestroom geword, maar die groei het teen ʼn koste gekom. Buiten die skade aan die donkiebevolking het die nuwe bedryf omgewings- en ekonomiese probleme veroorsaak. Slagpale, wat byna oornag opgerig is om die donkies te slag, het dikwels bloed en afval in die drinkwater van boere gestort. Die verkope van donkies het ook ʼn indirekte uitwerking op die inflasie van die prys van ander vee gehad, terwyl party boere besluit het om eerder met donkies te boer omdat hulle meer uit die diere kon verdien.

Die donkie se toekoms

De Lange en Ness het dit eens dat die uitvoer van donkievelle na China beslis eerder gereguleer moet word.

“As al die diere by geregistreerde slagpale geslag sou word, sal die nodige gesondheids- en veiligheidsbepalings gevolg word, wat minstens beteken die donkies word so menslik moontlik behandel tydens die slagtingsproses,” het De Lange gesê.

Daar is sprake van ʼn amptelike ooreenkoms tussen China en die Noordwes vir ʼn boerderyprogram vir donkies, sowel as die oprig van ʼn slagpale in die provinsie vir die uitsluitlike doel van die slag van hierdie diere.

“Daar is ʼn getekende ooreenkoms wat die belangstelling aandui vir moontlike samewerking tussen Noordwes en ʼn tegnologiese maatskappy in China om hul tegnieke te gebruik om die produksie van donkies in die provinsie te verhoog. Daar is ook verdere samespreking oor hoe om die diere op ʼn wettige en menslike manier te slag, maar geen besluit is nog tot dusver geneem oor hoe om voort te gaan met die konsep nie,” het dr. Langa Madyibi, ʼn beampte van Noordwes se departement van landbou, gesê.

“Ons verkies ook dat die hele bedryf gereguleer word, maar my grootste kommer is dat so ʼn soort program nie behoorlik deurdink is nie. ʼn Mens moet onthou so ʼn teelprojek neem tyd en sal nie dadelik genoeg volwasse donkies lewer om in die mark se vraag te voldoen nie,” het Ness gesê.

donkie-marokko

Afrika moet nou voorsien in die tekort van sowat vier miljoen donkies wat benodig word vir die vervaardiging van ‘n gewilde Chinese medisyne. Foto: JohannaBe/Pixabay.com

Die departement van landbou, bosbou en vissery het onlangs bevestig dat hulle bekommerd is oor die toenemende onwettige slagting van donkies en handel in donkievelle. Volgens Bomikazi Malopo, woordvoerder vir die departement, is daar ʼn taakspan saam met die polisie gestig om die onwettige aktiwiteite op ʼn nasionale vlak te ondersoek en aan bande te lê.

Kenners meen terwyl die vraag na donkievelle van China ʼn gulde geleentheid vir ʼn nuwe soort boerdery in Suid-Afrika, en die res van die Afrika bied, sal dit fyn beplanning van owerhede oor die vasteland verg om te verseker dat die hulpbron nie uitgeput word en plaaslike mense ontneem van ʼn dier wat dikwels die enigste vervoermiddel vir die armste van mense is nie.

Slagpale wat aan al die nodige vereistes voldoen en boere wat opgelei is om donkies te teel is maar net van die voorvereistes vir die volhoubaarheid van die bedryf.

China se vraag sal na verwagting net verhoog namate die land se groeiende verbruikersklas gewillig is om meer geld aan luukse goedere soos ejiao te bestee.

Die uitdaging gaan wees om te verseker dat die handel in donkievelle ʼn positiewe bydrae tot lande soos Suid-Afrika se ekonomie lewer, en nie ʼn las word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Afskuwelik ·

Alles oor GELD. Dis absoluut afskuwelik, veral in die lig van die feit dat die mense in SA hierdie arme donkies lewendig afgeslag het en hulle so afskuwelik behandel het. Hulle word nie eers ordentlik kos en water gegee nie, en hope is GESTEEL. Hulle lewe verskriklike lewens totdat hulle doodgemartel word. Dit is lewende wesens wat pyn voel, maak nie saak wat se die nie-diereliefhebbers nie. NIEMAND wil lewendig geslag word nie, geen dier of mens nie. Die Sjinese het altyd een of ander renosterhoring of vloeistof of pilletjie wat hulle moet drink of eet om hulle wulps te maak of een of ander siektetoestand aan te spreek wat belaglik is en geen bewyse voor is nie. SA sal enigiets verkoop vir geld, hier is anyhow nie meer waardes nie .. Klink vir my niks anders as MUTI nie. HOEKOM TEEL CHINA NIE HULLE EIE DONKIES NIE??

Rob ·

Eers die Renosters nou die donkies waar sal dit eendag eindag.

lw ·

Alles in die naam van geld – China plunder ons vasteland in meer as een opsig.

KP ·

China wil hierdie land stroop van alle diere om watter belaglike rede ook al. PATETIES.

Grassie ·

KP – nie net diere nie. Ek het verneem dat hulle besig is om Mosambiek te stroop van kiaatbome.

Pat ·

Only when the last tree has died and the last river been poisened and the last fish been cought will man realize he cannot eat money!
Die Chinese moet gestop word. Alles wat uitgeroei word se vraag begin by hulle. Ietermago’s, kameelperde, renosters, en nou donkies. Daar is nie einde aan hulle vraag nie.
Dink baie mooi as hulle die wereld regeer watse plek dit vir jou nageslag sal wees. Hulle het eers die wereld se myne opgekoop, toe die wereld se grond, nou die wereld se diere. Wat is volgende? Die mense. Word wakker, en dink baie mooi hoe jy hulle ondersteun. Ons westerse geld het hulle daardie mag gegee. En nou misbruik hulle dit om die wereld te verwoes. Die era van die Chinese het aangebreek en ons almal gaan daaronder lei – mens, dier en natuur. Ek kan net bid dat ons land ‘n leier soos Trump sal kry wat hulle sal teenstaan ipv aan help……

M'Lady ·

China moet uit Afrika geskop word. Hulle het glad te veel se. Besig om alles te plunder wat hulle hulle hande op kan le. As hulle honde lewendig kan kook wat is hulle nie nog alles tot in staat nie?

Alida ·

Ek sien ek is gesensor. Die Chinese moet hul eie donkies teel en ons uitlos. In SA is hulle edel diere en pragtig.

Johanna Botha ·

NEE ! Die mense is te wreed en barbaars …gee niks om vir die arme weerlose diere !

Justice ·

Hier by ons op die afgelee plase en plakkerskampe is donkiekarre nog `n allerdaagse vervoermiddel vir algemene vervoer en karwei werk soos hout aanry ens. Baie van die mense is werkloos en het nie geld vir openbare vervoer nie – hulle gaan beslis met diefstal geteiken word wat hul lewenskwaliteit nog verder gaan verlaag. Is dit die beste wat die Regering van die dag kon regkry vir sy mense met `n duur sake besoek om ekonomiese sake belange uit te bou met China? By benadering beslis nie die intelligenste van onderhandelinge nie. Klink nog steeds of die donkiekar eienaar nie die een gaan wees wat die geld gaan maak nie en slegter af gaan wees op die lang duur. Donkiekarre gaan beslis nou uitsterf wat eintlik tragies is.

Alida ·

Verban die Chinese uit ons land. Hulle doen barbaarse goed eet tot honde en katte. Vieslik. Zuma is mos hand om die blaas met hulle.

Nico K ·

Ek weet nie waar kom die mense daaraan dat donkies uitgeroei gaan word nie. Daar is te veel donkies in hierdie land. Al die donkies wat ek langs die paaie sien is maer en verhonger. As ‘n goeie prys daarvoor behaal word kan mense daarmee begin teel en geld maak. Daar is niks wat so vinnig aanteel as ‘n donkie nie.

Pat ·

Dit gaan nie oor of hulle te veel is en verkoop word nie, dit gaan oor wat met hulle gebeur nadat hulle verkoop is. Dis skandelik!

Goeie prys ·

Nico, wat se redenasie is dit, die donkies wat jy sien is HONGER EN VERMAER, so maak maar ‘n geldjie met hulle????? Dit is hoe dit lyk as sekere mense met donkies ‘teel’. .. so jy praat dit goed? Neeman .. regtig .. as jy honger en vermaer as ‘n boerdery sien waarmee jy geld kan maak is ek nog meer geskok in die mensdom as wat ek was …

SONNIE ·

Chunese produkte moet heeltemal geboikot word en die regerig moet die handel in donkievel verban, oortreders moet swaar strawwe in die gesig gestaar word. Hemel, kyk steek die Chinese lewendige honed aan die brand om te eet, wat gaan gebeur as al die diere dood is dan gaan hulle begin focus op mense. STRENG MAATREELS MOET TOEGEPAS WORD OM HIERDIE HANDEL TE BEKAMP..

Hanna ·

Dit is nou absoluut nonsens. Dis ‘n klomp bygelowe van die Chinese, wat ons lieflike regering soos soet koek op eet. Die Chinese sal bly glo dat een of ander dier ‘n tipe genesings middel bevat, en so onskuldige diere vermoor, vir goed wat nie eers klinies bewys is nie, want dis alles net in hulle koppe. Dan moet die mens ook mos sekere goed bevat wat een of ander iets kan genees, wanneer gaan hul mense begin moor, vir die jellie wat in ons oë en tussen ons joints is. Of die murg in ons bene, of een of ander snert. Nee hul begin te veel oor vat in ons land, hulle moet gekeer word voor dit te laat is. Die Here sê duidelik dat net gesplete hoef diere geslag mag word, nie diere soos donkies, perde, katte en honde nie. Hierdie is glad nie slag diere nie, hulle is nie bestem of deur God gemaak om geslag te word vir vleis en vel nie. Hoe kan ons net agteroor sit en hierdie barbaarse snert toe laat. Ons is net so sleg soos die Chinese as ons nie iets hieraan doen nie, God het ons in beheer van die diere geplaas om na hul om te sien, en te beskerm, en lief te hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.