OB-opvolger: ‘G’n plek vir ʼn skoothondjie nie’

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die proses om ʼn nuwe openbare beskermer (OB) aan te stel is goed op dreef. Nico Strydom het gaan ondersoek instel na die OB se verantwoordelikhede, regte en magte, asook wie moontlik volgende in die warm stoel gaan inskuif.

Alle oë is tans op die proses om ʼn nuwe OB aan te stel. Thuli Madonsela, huidige OB, se termyn verstryk in Oktober.

Die ad hoc-komitee wat op die been gebring is om die nuwe OB aan te stel het ʼn somtotaal van 73 benoemings en aansoeke ontvang. Sewe kandidate, insluitend oudpres. Nelson Mandela se vrou, Graça Machel, staatsaanklaer adv. Gerrie Nel en die voormalige minister van finansies Nhlanhla Nene, het hul benoemings van die hand gewys. Talle ander kandidate kon nie betyds in die hande gekry word om hul benoemings te bevestig nie en daar is ʼn totaal van 59 kandidate wat oorweeg sal word vir ʼn kortlys.

Die komitee sal ná die munisipale verkiesing op 3 Augustus met onderhoude begin, wat regstreeks op televisie uitgesaai sal word. Die komitee hoop om die proses teen 31 Augustus af te handel. ʼn 60%-meerderheid van die Nasionale Vergadering moet ten gunste van die kandidaat wees waarna pres. Jacob Zuma ʼn aanstelling sal maak.

Die lys van kandidate sluit onder meer talle prokureurs en advokate, twee regters, ʼn paar landdrosse en vier LP’s in.

Loyiso Mpumlwana is tans ʼn ANC-LP en dien op die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste. Dr. Phillip Dexter was eers ʼn ANC-LP en toe later ʼn Cope-LP. Hy is tans direkteur van verskeie maatskappye. Jonas Sibanyoni en Tshepiso Rhampele was albei vroeër ANC-LP’s.

Meeste van die kandidate het ʼn regsagtergrond.

Ander interessante kandidate sluit in:

  • Willie Hofmeyr, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging,
  • Kevin Malunga, huidige adjunk- openbare beskermer,
  • Dali Mpofu, nasionale voorsitter van die EFF,
  • Rhulani Baloyi, ʼn forensiese ondersoeker by die spesiale ondersoekeenheid (SOE),
  • Pierre de Vos, ʼn grondwetkenner van die Universiteit van Kaapstad,
  • Pumeza Futshane, ʼn hoofstaatsaanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG),
  • Mamiki Goodman, ʼn voormalige adjunk- openbare beskermer,
  • Zarina Kellerman, adviseur vir die minister van minerale hulpbronne,
  • Themba Mthethwa, voormalige hoof van die openbare beskermer se kantoor en
  • Krish Naidoo, ʼn konsultant vir die ANC by Luthuli-huis en regsadviseur vir die ANC se nasionale dissiplinêre komitee,

Prof. Marinus Wiechers, grondwetkenner, sê destyds met die opstel van die Grondwet het hy en ander swaargewigte met die gedagte vir ʼn OB vorendag gekom. “Die vraag was of ons dit ʼn ombudsman moes maak. Ons het gedink dit moet iets meer wees en dis toe dat ons uitgekom het by ʼn openbare beskermer.”

Volgens Wiechers inkarneer ʼn persoon ʼn amp en dit is wat Madonsela gedoen het. “Sy het die amp haar eie gemaak. Sy het dit Thuli Madonsela gemaak. Dit is die voorbeeld van ʼn goeie leier – iemand wat dit regkry om ʼn amp of ʼn posisie te inkarneer.”

Wiechers sê Madonsela se groot bydrae was dat sy vasgeskop het met die Nkandla-verslag. “Sy was bereid om grondwethof toe te gaan na ʼn vorige hof se uitspraak.” Die konstitusionele hof het in sy uitspraak oor die Nkandla-kwessie beveel dat Zuma die regstellende stappe wat Madonsela beveel het, moet toepas. “Dit is meer as net aanbevelings maak en dis ʼn posisie soortgelyk aan dié van ʼn regter. Indien iemand nie tevrede is met die OB se bevindinge nie, moet hulle hof toe gaan.”

Prof. Koos Malan, grondwetkenner van die Universiteit van Pretoria, meen die persone wat ondersoek is en die aard van die ondersoeke het Madonsela in die kalklig geplaas. “Ons het baie meer van die sake gesien as in die verlede en sedert Zuma aan bewind gekom het was die fokus in die besonder op hom. Korrupsie was altyd daar en het net erger geraak. In dié geval is ʼn staatshoof daarby betrek.”

Volgens Wiechers kan Madonsela se opvolger nie sommer enige persoon wees nie. “Haar opvolger gaan in die eerste plek ʼn klomp sake erf wat nog nie afgehandel is nie en sal baie sterk moet staan om die nodige geld te kry vir die ondersoek. Die opvolger moet ook weet dat die publiek ʼn groot verwagting het vir ʼn waardige opvolger.”

Malan sê daar wag ʼn baie warm stoel op Madonsela se opvolger. “Die persoon sal aan Madonsela se standaard gemeet word en die posisie kan in gedrang kom indien dieselfde standaard nie gehandhaaf word nie.”

Wiechers sê dit is van kardinale belang dat daar nie soos Madonsela se voorganger ʼn skoothondjie aangestel word nie. Lawrence Mushwana, ʼn voormalige ANC-LP, het telkens onder skoot gekom omdat opposisiepartye van mening was hy beskerm die ANC.

Volgens Wiechers speel die media ʼn waghondrol hier. “Die media moet seker maak dat die benoemde kandidaat se geskiedenisse bekyk word sodat die burgery ook as waghond kan optree en hul stem laat hoor.”

Wie en wat is die OB

Die OB is een van die instellings waarvoor voorsiening gemaak word in hoofstuk 9 van die Grondwet. Hierdie instellings is onafhanklik en slegs onderhewig aan die Grondwet en die oppergesag van die reg. Hulle moet onpartydig wees en hul magte en funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel uitvoer.

Die funksies van die OB, soos vervat in die Grondwet:

  1. Die OB het volgens nasionale wetgewing die mag om:
  2. ondersoek in te stel na enige optrede in staatsake, of in die openbare administrasie in enige regeringsfeer, wat na bewering of volgens vermoede onbehoorlik is of lei tot enige onbehoorlikheid of benadeling
  3. oor die gedrag verslag te doen; en
  4. gepaste regstellende stappe te neem.
  5. Die OB het bykomende bevoegdhede en funksies wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word.
  6. Die OB mag nie hofbeslissings ondersoek nie.
  7. Die OB moet toeganklik wees vir alle persone en gemeenskappe.
  8. Enige verslag wat deur die OB uitgereik word moet tot die publiek se beskikking wees, tensy daar ingevolge nasionale wetgewing beslis word dat daar buitengewone omstandighede is wat vereis dat ʼn verslag vertroulik gehou word.

Persone wat benoem word vir OB moet ʼn Suid-Afrikaanse burger wees wat geskik en gepas is vir die amp en:

  1. ʼn regter van ʼn hoë hof is; of
  2. toegelaat is as ʼn advokaat of ʼn prokureur en vir ʼn kumulatiewe tydperk van minstens tien jaar na toelating gepraktiseer het; of
  3. gekwalifiseerd is om toegelaat te word as ʼn advokaat of ʼn prokureur en vir ʼn kumulatiewe tydperk van minstens tien jaar nadat die kwalifikasie verwerf is ʼn lektor was in regte aan ʼn universiteit; of
  4. gespesialiseerde kennis of ondervinding het vir ʼn kumulatiewe tydperk van minstens tien jaar in regspleging, openbare administrasie of openbare finansies; of
  5. vir ʼn kumulatiewe tydperk van minstens tien jaar ʼn lid van die parlement was; of
  6. enige kombinasie van ervaring opgedoen het, soos genoem in paragrawe (b) tot (e), vir ʼn kumulatiewe tydperk van minstens tien jaar.

Die name en CV’s van die benoemde kandidate verskyn hier op die parlement se webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa B ·

Hierdie gaan ook nou weer ‘n pêllie, pêllie pos wees. Daar sal NOOIT weer ‘n Tuli Madonsela wees nie. Baie hartseer.

Lorraine ·

Ek dink ‘n goeie kandidaat kan Devi Sankaree Govender van Carte Blanche wees want sy laat haar nie sommer stuit nie.

egmond ·

as ek my beskeie opinie kan lug sal daai tannie Thuli Madonsela n ordentlike president uitmaak .ek dink n paar korrupte omies sal uitwyk na ander lande en korrupsie sal uit die woordeboeke uit verdwyn ,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.