Kaapstad is pas deur die New York Times aangewys as die nommer een plek wat toeriste moet besoek, het die stad Sondag gesê.
Kaapstad het Los Angeles, die Vatikaan en die Seychelle-eilande uitgestof op dié lys van 52 plekke wat in 2014 besoek moet word.
Sy natuurlike skoonheid, diversiteit van mense en die rol wat die stad in die oorwinning van demokrasie gespeel het, is van die redes wat aangevoer word waarom dit wêreldwyd as ʼn voorkeurbestemming beskou word.
“Die ekonomiese inspuiting wat ʼn vooruitstrewende toeriste-bedryf bring is noodsaaklik indien werkskepping gedoen moet word vir die inwoners van Kaapstad,” het die stad in ʼn verklaring gesê.
Volgens die New York Times word Kaapstad beskryf as ʼn plek om te mediteer oor vryheid en die kreatiewe lewe wat daaruit spruit.
Kaapstad is ook deur die International Council of Societies of Industrial Design (ICSID) aangewys as die wêreldontwerp-hoofstad vir 2014. ICSID wys elke twee jaar ʼn stad aan in erkenning van die stad se doeltreffende en kreatiewe pogings om ontwerp as ʼn instrument vir vooruitgang te gebruik.