‘n Soldaat wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) beseer is, het in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gesterf.
“Een van die lede wat in die SAR beseer is, het Maandag in ‘n hospitaal in Bloemfontein gesterf,” het brig.gen. Xolani Mabanga, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), gesê. “Hy is op 19 April uit die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria ontslaan en is terug huis toe, in Bloemfontein. Hy het Maandag ineengestort en is na die hospitaal gehaas. Hy is na 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein gehaas voordat hy na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas is. Hy het in die hospitaal gesterf.”
Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie en sal eers beskikbaar wees sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is.
Dertien SANW-soldate is op 23 Maart dood in ‘n skermutseling met rebelle naby die SAR se Bengui-grens. ‘n Verdere 27 soldate is gewond. Die SANW het soldate na die land gestuur op grond van ‘n ooreenkoms wat tussen Suid-Afrika en die ontsetelde president Francois Bozize gesluit is.