Nuuskommentaar: Misbruik van Mandela

Oudpresident Nelson Mandela

‘n Storm het losgebars oor beeldmateriaal wat die SAUK se TV-nuus van oud-pres. Nelson Mandela tydens ‘n besoek van pres. Jacob Zuma en verskeie ander ANC-leiers uitgesaai het. Wat die ANC en die SAUK oor die gebeure opgedis het, verskil hemelsbreed van dit wat die kyker met sy eie oë kon waarneem, naamlik ‘n tjoepstil Mandela wat nikssiende en reaksieloos voor hom uit staar. Klik hier om die video te sien.

Dit is lank nie meer ‘n geheim dat Mandela nie meer ten volle bewus is van wat om hom aangaan nie. Byna ‘n jaar gelede het emeritus aartsbiskop Desmond Tutu reeds gesê Mandela se hart sou bloei as hy nog ten volle bewus was van wat om hom aangaan, en kon sien hoe dit nou in die land gaan.

Dit is nie ‘n nuwe ding dat die ANC Mandela gebruik – dalk misbruik – om bepaalde politieke doelwit te bereik nie. Met algemene verkiesings word ‘n hele sirkus gemaak van beeldmateriaal wat toon hoe Mandela (na bewering) weer sy kruisie vir die ANC trek. In ‘n land waar die ampte van uitvoerende en seremoniële staatshoofde saamgevoeg is, is dit in ieder geval ‘n oop vraag of dit protokol is dat iemand wat almal se president was, na sy uittrede so ten gunste van ‘n bepaalde party ingespan kan word.

Dit is in elk geval ‘n akademiese vraag, soos blyk uit die ANC se woede toe ook die DA in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing, ‘n vroeëre stelling dat dit eintlik die DA is wat Mandela se nalatenskap verteenwoordig, ‘n stap verder gevoer het.

En die man self, is volgens Tutu en ander, al lank nie meer “ten volle” bewus van wat om hom aangaan nie.

Ten spyte van die ANC se kluitjies dat Mandela wel tydens die jongste TV-sirkus meegedoen het, en die geloofwaardigheidskrisis wat dit vir die party skep, word daarmee volgehou.

Hoekom?

Die ANC berei hom vir volgende jaar se verkiesing voor. Dit is nie sommer enige verkiesing nie, dit is die twintigste jaar aan bewind van die ANC, en die party mik boonop na 70 persent van die stemme. Dit is ook die eerste algemene verkiesing waarin Zuma se eie presidentskap behoorlik deur die kiesers beoordeel sal word.

Maar die ANC se prestasiemandjie om mee na die kiesers te gaan lyk maar erg gehawend. Die party roem graag hoe hy die getal mense wat maatskaplike pensioene en toelaes ontvang vermeerder het, maar dit is immers ‘n prestasie van die belastingbetalers se vermoë om ten spyte van, en nie as gevolg van die ANC se bewind nie, aan te hou om te midde van die slagting onder die ganse wat die goue eiers lê, steeds dié eiers te laat inrol – al is die prys van goud op die oomblik nie waffers nie.

Verder haper dit wyd. Dit is vandag Werkersdag, maar die land het, soos ds Theunis Botha van die CDP uitwys, ‘n enorme werkloosheidskoers, en boonop is die inkomstegaping in Suid-Afrika, aldus die Wêreldbank, die grootste in die wêreld. Zuma se “verweer” is dat dié gaping nie gemeet word nie (en hiermee is die bedenkinge oor die “adviseurs” waarmee hy hom omring verder verdiep)

Die FW de Klerkstigting meen ook daar is min rede om Werkersdag te vier. Die uitgebreide werkloosheidskoers in die land is meer as 40 persent – terwyl die ekonomie se absorpsievermoë vir indiensneming 41,3 persent is, een van die laagstes ter wêreld.

Ten spyte van sosio-ekonomiese ingenieurswese in die vorm van rasbegunstigde bevoordeling, kaderontplooiing en ander onproduktiewe maatreëls word volgehou met dié destruktiewe praktyke van die gans slag, eerder as om die ekonomie vir ‘n hoër indiensnemings-absorpsievermoë te stimuleer.

Die regering het wel met ‘n veelgeprese ekonomiese ontwikkelingsplan vorendag gekom wat ten spyte van teenkanting uit radikale vakbondlede, uitspraakgewys amptelike regeringsbeleid bly. In die praktyk lyk sake egter heel anders. Minister Rob Davies probeer nou wetgewing deurgevoer te kry wat dié plan, wat skerp op deregulering fokus, deur die hart en ‘n ander deel van die anatomie skiet. Dit het in die handel en wandel die naam smouswet gekry. Die doel daarvan is om entrepreneurskap te bevorder, maar die reeds versmorende burokrasie waaronder selfs die kleinste onderneming onderwerp is word uitgebrei om te vereis dat alle sakebedrywighede voortaan handelslisensie moet hê. Dié lisensies moet deur die burokratiese (en gewoonlik disfunksionele) munisipaliteite uitgereik word. Oor byna die hele spektrum, van die handelswêreld tot Solidariteit, die FW de Klerkstigting tot die media argumenteer oortuigend dat dié wetsontwerp in sonde ontvang en gebore is. Dit gaan ‘n toets word vir die regering se verbintenis tot die ontwikkelingsplan en die wegwerk van werkloosheid.

En wat vir Werkersdag as rede om iets te vier geld, geld bykans elke ander nie-godsdienstige vakansiedag.

Vertel nou die bruin DKD-amptenare in die Wes-Kaap wat weens hul velkleur vir bevordering oor die hoof gesien word dat hulle rede het om voluit Vryheidsdag te vier. Vertel ‘n jong wit presteerder wat nie keuring of ‘n studiebeurs kon kry nie oor sy of haar velkleur dat almal ten volle vry is.

Vertel vir ‘n verkragte vrou dat vroue in hierdie land volle rede het om Vrouedag te vier.

En vertel vir diegene wat by verlede jaar se Kliptownberaad waar van die regering se sprekers rassepolarisasie aangeblaas het dat Versoeningsdag en Welwillendheidsdag sin maak.

Of is die land se hoë egskeidingsyfer met Gesinsdag versoenbaar?

Mandela se onlangse hospitalisasie het die besef behoorlik laat deurslaan dat partye wat op sy nalatenskap wil verkiesing voer, dit nou gou sal moet doen.

Tensy dit vir hierdie instansies duidelik word dat die kiesers dié gebruik by die stembus gaan straf, sal dit skerp toeneem solank Mandela nog vir ‘n mediaspektakel regop laat sit kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

william ·

Mandela se beeld word opgeblaas. “”Greatness was thrusted upon him”. Ons vyande gebruik hom net. Mandela is n Xhosa ,en hy is van die Thembu groep. Hy is nie my leier nie,was nog nooit nie. Hy het nou nog nie geweld afgesweer nie. Hy is n kommunis . Wat het hy gedoen om Suid Afrika op te bou. Net mooi niks. Ek sal nie trane stort as hy heengaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.