Nuuskommentaar: Behou geloof vir beter toekoms

vlag suid-afrika

Argieffoto.

Die uitdaging om die land van grootskaalse korrupsie tot op die hoogste vlak te suiwer, raak al taaier namate diegene wat korrupsie omarm, meer en meer tyd kry om hul posisies te verskans. Het ons die geloof om te kan deurdruk, en het ons die wilskrag om inhoud te gee aan ons geloof dat dinge moet verbeter?

’n Mens wil soms heel politiek inkorrek ’n glimlaggie kry wanneer ’n mens die name hoor wat ouers hul kinders hoopvol gegee het. In Bloemfontein was daar byvoorbeeld ’n voorslag tuinman met die naam “Dokter”. ’n Dokter het hy nooit geword nie. Ander name soos Beauty en Pretty kan ook erg boemerang as die voorkoms eendag nie daarby pas nie. Maar watter boodskap van geloof het Faith Muthambi se ouers in gedagte gehad? Dat sy hulle eendag deur wanaanwending van staatsfondse en nepotisme sou bevoordeel?

Die manier waarop minister Muthambi nou minagtend teenoor regeringstrukture, waaronder parlementêre strukture, optree, en dat adjunkminister Manana tot nou toe nie in die bek geruk is oor sy manewales nie, skep die indruk van ’n segment van die regering wat eenvoudig bó die wet verhewe is. Hierteenoor word daar beplan om teen ANC-LP’s op te tree wat binne hul grondwetlike reg opgetree en die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma gesteun het, aan die pen te laat ry.

Twee heel verskillende maatstawwe, en die oordeel wie begunstig word, en wie vrybuit is, hang van lojaliteit teenoor verdagte handelinge van Zuma af – dinge soos korrupsie, patronaatskap en staatskaping….

Daar is ook ander op die lys, hoewel sommiges soos Hlaudi Motsoeneng en Brian Molefe skynbaar hul hande oorspeel het.

Intussen raak die koor wat in leserskommentare aandring dat AfriForum met sy aangekondigde private vervolgingseenheid begin toeslaan, byna histeries. Terwyl daar simpatie met die sentimente is, wys dit ook duidelik dat mense tog die nuus oor hierdie sake, en die ingewikkelde wetsvereistes, ook lees sodat AfriForum nie onnodig verkwalik word en selfs sleggesê word nie.

Daar is positiewe tekens, soos dat die parlement die reiskoste van Muthambi en haar direkteur-generaal wil verhaal wat skynbaar Kaapstad toe gereis het om voor die komitee vir te verskyn, maar toe stokkies gedraai het. Ook die ANC-LP’s wat weggebly het omdat daar (nog) nie teen die voorsitter, dr. Makhosi Khosa, opgetree is nie oor sy die ANC na ’n hoër morele grondslag wil voer.  Of daar iets van sal kom, soos met ander klagtes dat Muthambi kluitjies gebak het in haar getuienis voor die ad hoc-komitee oor die SAUK, sal nog gesien moet word.

Dit raak by die dag duideliker dat dinge in Suid-Afrika nie gaan regkom sonder dat mense op die een of ander wyse die hande uitsteek en spierkrag aan hul geloof vir ’n beter toekoms voeg nie. ’n Christen is immers gee fatalis nie, want die Bybelse doenlysie is nogal lank.

Suid-Afrika is nie al land waar wanhoop soms mense die handdoek laat inwerp nie. Sedert 2014 het 55 000 Brasiliane amptelik aangedui dat hulle die land verlaat. Die werklike getal is waarskynlik veel hoër. Dit is veral die hoogopgeleides wat moed opgee en elders ’n nuwe lewe gaan probeer oopkrap. Baie wat uitwyk kry nooit die geleentheid om ’n beroep te beoefen waarvoor hulle opgelei is nie.

Benewens ekonomiese stagnasie speel korrupsie ’n belangrike rol dat opgeleides hul land die rug toekeer. Die tweede agtereenvolgende president is nou vir korrupsie aangetree, en een het reeds tronkstraf gekry terwyl hy nog nie op al die aanklagte tereggestaan het nie. Iets gebeur nietemin, maar dit is nie genoeg om die uittog te keer nie.

In Suid-Afrika is al lankal gewaarsku oor die gevolge van selektiewe geregtigheid, soos dat dit tot algemene wetteloosheid lei. Die persepsie ontstaan naderhand by kriminele dat ook hulle bo die reg verhewe is, en al meer gevalle kom voor waar misdadigers in skietgevegte teen die wetstoepassers betrokke raak. Iemand wat hul “regte” wil verhinder, “verdien” eenvoudig om te sterf.

Om doeltreffend teen Muthambi en Manana op te tree, beteken ongelukkig dat die proses ook die magstryd in die ANC, en dat ’n deel daarvan korrup is, sal moet verreken. Die land en sy mense verdien eenvoudig beter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannes ·

Puik gestel. Slaan die spyker op sy kop. Ons sal moet sterk staan

Selfbeskikking ·

Die enigste oplossing vir ons is selfbeskikking want om die stemkrag hier te probeer verduidelik hoe ekonomie en geregtigheid werk is onmoontlik.

Eish ·

Die van ons wat hul bevind as behorende tot die groep tweedeklas burgers, is nie instaat om wettiglik enigsins iets meer te doen aan die saak as wat reeds gedoen is nie, synde dat die winde van verandering nie meer deur hul losgelaat kan word nie. Ons het petisies geteken, R10.00 sms’e gestuur, geoptog dat ons tonge uithang, geprotesteer, geproes en gehoes. Ons bid maar vir n inploffing van mag.

Veritas ·

Die feit dat die ANC steeds aan bewind is, is bewys dat dit op die regte pad is. Dít of ons sit met die probleem dat die grootste deel van die kieserskorps nie die vermoë het om tussen reg en verkeerd, goed en sleg, te onderskei nie. Indien laasgenoemde die rede is, is ons voorwaar in die nagemmer. Om die massas te leer om te onderskei tussen reg en verkeerd, gaan eeue neem. Berus maar daarby en pas aan of emigreer. Dit is die enigste twee keuses wat ons het.

Thinus ·

Puik berig maar ongelukkig val dit op dowe ore. Die Land is gebreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.