Nuuskommentaar: ‘Blackfacing’ en ander slaggate

Bron van foto onbekend.

Bron van foto onbekend.

Het die jongste voorval wat verkeerdelik as blackfacing veroordeel word dalk nou die kwessie in ’n kookpot van polarisasie laat ontaard? Dit toon net weer hoe opgeskerp ’n mens in ’n heterogene land moet wees, waar dinge soos blackfacing en die sing van “Kill the Boer, kill the farmer” polariserende gevoelens kan losmaak.

Vir baie mense, onder wie die uwe, is dit nogal grillerig hoe veral snelboulers hul boularms laat tatoeëer. Vermoedelik is die doel daarvan om die kolwers binne die reëls op die een of ander wyse om te krap. Teen die wit gesigskerm moet dit nogal steurend wees.

Argeologiese navorsing dui daarop dat die mensdom al duisende jare lank om verskillende redes hul velkleur “aanpas,” waaronder deur die aanbring van tatoes. Trouens, tatoeëermerke is vandag nog deel van sekere kulture, soos sekere Polinesiese kulture, wat ook duidelik in sekere rugbyspanne neerslag vind. Maar kleurbedekkings het, en geskied steeds op verskillende maniere. Die fabel van die goudstad, Eldorado, het skynbaar ook ontstaan uit ’n stam wat periodiek hul stamhoof in goudstof oordek, en in die middel van ’n meer gaan skoonwas het. Om swart gesigte wit te verf is alledaagse gebeurtenisse by inisiasieskole en ander kulturele aktiwiteite.

Op baie apteke se rakke is talle middels wat gebruik kan word om donker velle ligter te maak.

Blackfacing” het egter sy eie geskiedkundige verloop, en is ook al ’n paar keer in Maroela Media in detail behandel. Dit is veral op 6 Oktober 2014 in detail behandel onder die opskrif, “Blackface en rassisme”.

Die probleem is dat nie almal bewus is van die sensitiwiteit van “blackfacing” nie en dikwels heel onbewus daarvan bloot ’n held uitbeeld wat toevallig swart is. So onkundig oor die sensitiwiteit is die “plegers” dikwels dat hulle die foto’s op Facebook laai – en dan breek alle hel los.

Maar, so blyk dit, herhaalde berigte om ’n saak algemene kennis te maak, bereik nie almal nie. ’n Goeie voorbeeld het hom pas weer op Maroela afgespeel toe oor die aardbewing in Taiwan berig is. Die Amerikaanse USGS, wat aardbewings wêreldwyd meet, gebruik nié die Richterskaal nie, maar die momentmagnitudeskaal. Op enkele uitsonderings na gebruik die wêreld nou al ’n paar dekades lank die USGS se skaal, met Suid-Afrika een van die enkele uitsonderings wat die Richterskaal (en in SA se geval boonop ’n aangepaste Richterskaal) gebruik, met die Marconiskaal wat feitlik in onbruik verval het.

Die verskillende skale meet verskillende aspekte en kan daarom nie van die een na die ander omgereken word nie. As die USGS dan die sterkte van die Taiwannese aardbewing verskaf, weet niemand wat dit volgens die Richterskaal moes wees nie, tensy iemand dit onafhanklik daarvolgens gemeet het.

Dié feit, saam met ander agtergrond, is oor die jare by herhaling verskaf wanneer lesers Maroela Media “kap” omdat die Richterskaal buite Suid-Afrika nie gebruik word nie. Gister is Maroela weer uit ʼn “taalhoek” gekap omdat die Richterskaal nie gebruik is nie. Weer is verduidelik, en weer en weer sal verduidelik word. Intussen probeer die SAUK en ander groot media ook die regte terminologie invoer, maar die Richterskaal glip periodiek, soos oor naweke wanneer ’n verkleinde personeelkorps aan diens is, deur.

Om ’n ganse bevolking oor iets belangriks in te lig is geen geringe taak nie. Vir meer as ’n dekade lank “val” daar steeds elke jaar talle mense vir die “poets” dat Mars so na aan die aarde gaan kom dat dit so groot soos die maan sal vertoon.

Talle instansies, waaronder die owerheid, gebruik nou reeds die storielyne van sepies om belangrike boodskappe soos die aanbreek van die belastingseisoen oor te dra.

So kan dit ook met veiligheid gesê word: Ondanks die omvang van die storms wat ná elke “blackfacing”-voorval plaasvind, gaan dit weer en weer uitslaan deur iemand wat die hele ophef “gemis” het. Veral as iemand heeltemal nierassig grootgemaak is, en geen “vreemdheid” oor velkleur het nie, moet die ophef ’n anderwêreldse onverstaanbaarheid inhou totdat die agtergrond verduidelik is. En so leer ons regstelsel, iemand moes die opset gehad het om die misdryf te pleeg. Om as deel van studentepret heel onkundig in die slaggat te trap, val kwalik onder die beginsel van “opset”.

Daar moet egter perke wees waar besef word dat sekere dinge sekere rasgroepe aanstoot sal gee. Neem byvoorbeeld die aanstoot wat “liedjies” soos “Kill the Boer, kill the farmer” het. So is dit moeilik denkbaar dat iemand nie sou weet dit sou aanstoot gee om swart baaiers apies te noem nie.

Daar is moeiliker gevalle, soos ’n raadslid wat ’n mederaadslid weens vermeende stiksienigheid ’n bobbejaan genoem het. Die probleem is dat die raadslid wat so genoem is, swart was, en ’n rasseherrie ontketen is. Noodwendig moet wit mense onder mekaar nou ook versigtig wees om mekaar nie in bepaalde omstandighede “ape” of “bobbejane” te noem nie, want in ’n onbewaakte oomblik (waar juis ’n ontspanne rasse-omgewing ’n mens laat vergeet van die rasding en ’n anderskleurige so laat noem) kan ’n mens teen die skandmuur vasgespyker laat.

Maar nou het twee vroue-Matiestudente hulle donkerpers laat kleur, met die gedagte om blinkertjies op te sit wat sterre verteenwoordig, as deel van ’n funksie wat die ruimte uitbeeld. Foto’s van die twee, nog sonder die sterretjies, het op die internet verskyn waar hulle op sommige uitbeeldings swart gesmeer lyk. Geen verduideliking kon die storm temper nie.

Uit die sosiale kommentare is dit duidelik dat die kwessie daardie perk bereik het waar bitter baie mense voel die wydte waarmee die net van veroordeling uitgegooi word, het die perke van belaglikheid oorskry. Wanneer beland jy dalk nou self in so ’n storm sonder vergifnis terwyl jy nie die minste bedoeling of opset tot kwetsing gehad het nie? Gaan die blote feit dat jy asemhaal jou nie in die sop laat beland nie?

Open Stellenbosch het die twee meisies om verskoning gevra nadat die werklike feite op die lappe gekom het. Dié organisasie was bloot sonder die feite vasgevang in die anti-blackfacing-stroom. Die verskoning is egter van die organisasie se Facebookblad verwyder.

Die ANC bou sy “verkiesingstrategie” rondom die kwessie van rassisme en herverdeling van grond. Die strategie teen rassisme is egter pikant gegewe die ANC wat self agter die deur staan, en dikwels as katalisator tot polarisasie dien. Nogtans meen die ANC halsstarrig dat hy hierdeur op die een of ander manier die sogenaamde “moreel hoë grond” gaan betree. Hierdie onderwerp gaan nog tot die verkiesing snuifgetrap word.

Volksblad neem ook vandag die pers-verwery in sy uitstekende hoofartikel onder die loep, en sluit af: “Die US se verteenwoordigende ondersoekspan behoort onder meer die bedoeling van die twee studente, die ‘rassisme’ in die voorval en die opregtheid van die ‘aanstoot’ geneem te meet. Met geen vaste stel reëls wat hiervoor bestaan nie, is dit onbenydenswaardig. Hopelik kry die twee studente se regte en trauma ook aandag.”

Voorkoming is uiteraard beter as genesing, en dit is stellig maar beter om ’n mens te weerhou van handelinge wat as “blackfacing” misverstaan kan word; maar ook om die wag voor die mond te hou wanneer daar meer as een ras teenwoordig is. In die voor-1994-era het die staat gereeld kundiges gekry om lesings aan amptenare aan te bied oor hoe om kulturele verskille, misverstande en ontevredenheid te voorkom.

Dis nie altyd maklik nie. Die woord “Mangaung” kan op drie maniere uitgespreek word, elk met sy eie betekenis. So kan ’n verkeerde uitspraak “die plek van die (groot) katte” verander na iets wat vertolk kan word as die “plek wat stink”.

Maar … die veronregtes moet ook weet dat daar gevalle sal wees waar selfs mense met die beste bedoelings uit onkunde in ’n slaggat kan trap, juis omdat so iets nie opsigtelik aanstoot behoort te gee nie, en dit onmoontlik is om al die taboes van ’n kultuur van ’n ander te ken, veral as dit teen die bors gespeel word.

Kan skole nie ’n groter rol speel in burgerskapopvoeding nie? Daar is jare lank, en dalk nou nog, foute in leerplanne maar net van jaar tot jaar oorgedra, soos dat Rooihuide in wigwams woon (en dan ’n prentjie van ’n tipi, oftewel tepee daarby plaas). In werklikheid het slegs enkele stamme in wigwams en tepees gewoon – veel minder as wat in huise in die Asteekse hoofstad gewoon het.

Die vasskop van die Richterskaal by die publiek kan waarskynlik ook na skole teruggevoer word omdat selfs die meeste Suid-Afrikaanse akademici by die USGS se internasionale meting ingeval het.

Sou dit dan nie meer sin maak om ons jong mense te leer oor sensitiwiteite soos “blackfacing” en die kwetsende aard van “Kill the Boer, kill the farmer” nie?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

8 Kommentare

Heinrich ·

Ai tog; nou is ek weer lekker deurmekaar! As jy nie vir ‘n swart persoon ‘n bobbejaan mag noem nie, want dit is rassisme, wat noem jy dit dan wanneer die ANC jeugliga en EFF mekaar bobbejane noem soos hier voor Zuma se groot opening?

Kees ·

Onthou swartmense kan NIE rassiste wees nie. Selfs al se hy vir iemand van n ander bevolkingsgroep “hy/sy is n bobbejaan”

Joh. 3:16 ·

Herman. Jy verduidelik die konflik mooi. Stem saam. Wil net byvoeg. Opvoeding moet altyd die reël van konsekwentheid aanmoedig: almal moet saam stem oor waaroor saam gestem moet word, totdat almal saamstem daar kort ‘n aanpassing. Sonder konskwentheid raak almal verward en geneig om aan eie waarhede vas te gryp; selfs tot die dood toe. Ironies is dit die hele Westerse orde wat verval in inkonsekwentheid. Die Ooste en Afrika bly konsekwent. Dit maak van die Westerse denkers ‘puppets on strings’. So is dit ons wat nie kan eers kan saamstem oor die defenisie van die woord ‘rassisme’ nie. Daarom gee, die wat vir ons wil onderdruk, enige tyd enige betekenis aan die woord. Ons bly die slagoffer van ons eie inkonsekwentheid. Die tragiese is dat ons vyand nie sterk hoef te wees om ons so totaal te vernietig nie. Ons kanker is in onsself. Stem beslis met jou saam. Ons het het dringende eenstemmige of konsekwente onderwysing en opvoeding nodig. My hoop is dat ons weer ons oorspronklike wortels sal vind. Saamgevat: Christelik, Protestants, Gereformeerd, Calvinisties.

Blondi ·

Rasvervolging is aan die orde van die dag in hierdie land . Net soos Christinskap vervolg is in China en baie ander lande. Dis wat gebeur as jy die land aan kommunisme oorgee onder die dekmatel en mooi praatjies van demokrasie . As jy wit is sal jy vervolg word vir jou vel nie jou liberale of “regse ” denke en bedoelinge nie. DIT IS JOU STRAF IN DONKER AFRIKA AS WITMENS.

Lynette ·

Ek het berig mooi deurgelees maar weet steeds nie wat die herrie oor “black facing” is nie. MAROELA het dit in 2014 gedek maar ek het nie op daardie stadium van Maroela se bestaan geweet nie. Kan julle dit asb weer plaas? As swartmense hul gesigte wit kan verf, waarom MAG ek nie myne swart verf nie? Dis my gesig waarmee ek mos kan doen wat ek wil.

Blondie ·

Ek verstaan nie, waarom fyngevoelig weea oor jou velkkeur. …God het elkeen van ons so gemaak soos ons is. ..jy kan nie jouself verander nie. …ekke gaan nie n herrie opskop as n anderskleurige sy gesig wit verf nie. ..ekke is trots op Wat ekke is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.