Nuuskommentaar: Gaan Wes-Kaap nou “bevry” word?

Grafika ter illustrasie

Grafika ter illustrasie

Die ANC-woelinge in die Wes-Kaap maak deel uit van ’n strategie om dié provinsie, soos die ANC dit stel, te bevry. Die proses is egter uiters kompleks, en Herman Toerien het oorsigtelik daarna gaan kyk.

Dit woel, wat die ANC betref, in die Wes-Kaap, die enigste provinsie wat dié organisasie nie op provinsiale vlak in die sakkie het nie, en ook op plaaslike vlak maar net die septer oor ’n paar “brak kolle” swaai.

DA-geleide koalisies is eerder aan die orde van die dag. Binnelandse besoekers spreek gereeld hul afguns uit oor hul ervaring om in gebiede te kom waar munisipale dienste behoorlik gelewer word soos dit moet.

Die Wes-Kaap is egter nie aldag ’n maklike provinsie om te regeer nie. Bendeverwante aktiwiteite, gepaardgaande met drank- en dwelmgewoontes, maak dat dié provinsie die hoogste moordsyfer in die land het. Die provinsie keer jaarliks die meeste dronkbestuurders aan, maar dis nie duidelik of dit weens die groot getalle dronkies op die pad is, en of dit weens beter wetstoepassing as elders in die land is nie.

Die provinsie, wat nie oor groot myne beskik nie, ervaar ’n groot instroming van mense – aanvanklik byna uitsluitlik uit die Oos-Kaap. Die ANC wou die stuipe kry toe na hulle as “ekonomiese vlugtelinge” verwys is. Nou kom hulle van oor die hele wêreld, met onder meer groot getalle Somaliërs wat hul stempel afdruk.

Die provinsie, met sy bruin meerderheid, was voorheen ’n bruin voorkeur-ontwikkelingsgebied, kompleet met ’n ontwikkelingskorporasie.

Die ANC het ’n termyn as bewindhebbende party in die Wes-Kaap beleef nadat die destydse NNP by die ANC aangesluit het. Na berig word, het bruin mense wat al lank onder brûe gewoon het skielik ervaar hoe hul name op waglyste vir wonings terugsak terwyl betreklik nuwe aankomelinge uit die Oos-Kaap voorkeur kry. Versoeke dat die waglyste so gepubliseer word dat ongerymdhede vasgestel en ondersoek kon word, het op dowe ore geval.

Hoewel die ANC se vastrapplek onder bruin kiesers geërodeer het, het die ANC steeds plek-plek ’n stewige houvas.

Nogtans het die dae vervaag toe die ANC in die Wes-Kaap deur prominente bruin persoonlikhede soos dr. Allan Boesak, eerw. Chris Nissen, prof. Jakes Gerwel en mnr. Trevor Manuel gerugsteun is.

Die man wat die vaandel vir die ANC onder bruin mense moes dra, is Marius Fransman. Hy het ná die NNP-amalgamasie ’n geval geword van meer Rooms as die pous wees. Hy het werklik sy bes gedoen om indrukwekkend as leier oor te kom, en stellig hard gewerk, maar het ook foute gemaak wat verhinder het dat hy die afgeronde statuur ontwikkel van die bruin leiers van ouds. Trouens, die persepsie dat hy eintlik vir die ANC ’n blok aan die been is, het wyd posgevat.

Terwyl die Wes-Kaapse ANC (waar ’n magstryd heers) nog kleigetrap het oor wat om met Fransman te maak nadat ’n klag van seksuele teistering teen hom aanhangig gemaak is, het Luthuli-huis ingegryp en is hy kantlyn toe geskuif. Ook die Wes-Kaapse ANC-sekretaris, Faiez Jacobs, is kantlyn toe geskuif nadat hy van aanranding op ’n ANC-werknemer aangekla is. Nou het die ANC die Wes-Kaapse ANC onder administrasie geplaas.

Of hierdie stap van die ANC in die Wes-Kaap enigsins daartoe gaan bydra om die provinsie te kan oorheers, sal die tyd leer.

Die ANC is in die proses immers nie van alle bruin leiers in die provinsie gestroop nie. Boonop stel die ANC ʼn hoë premie, soos voorheen ook al geblyk het, op die rol wat me. Jesse Duarte vanuit Luthui-huis kan speel om te keer dat bruin kiesers van die ANC vervreemd voel.

Die ANC staar egter ’n paar belangrike faktore in die gesig. Die belangrikste is stellig die ANC se beleid van nasionale demografie in sy “affirmative action”- (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie) aanstellings in die Wes-Kaap. Die DKD het immers ná bloedneuse in die howe telkemale hieroor geappelleer. Dit staan in die waterskeidingskonteks van Jimmy Manyi, eertydse regeringswoordvoerder, se berugte uitlating dat bruin mense in die Wes-Kaap oorverteenwoordig is. Eers nadat prominente bruin politici, soos Trevor Manuel, voet hieroor neergesit het, het die ANC halfhartig teruggekrabbel, maar dit het niks aan die praktyk verander nie.

Sedertdien is die ANC se lywige NUK byna volledig van bruin verteenwoordiging gestroop.

Selfs Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, meet gereeld sy woorde versigtig hier af om verdere bruin vervreemding van die ANC te probeer voorkom.

Maar sonder bruin steun, sommer baie bruin steun, gaan die ANC die Wes-Kaap nie gou “bevry”, soos die beweging dit stel nie. Daar sal nog aansienlike getalle swart kiesers uit die Oos-Kaap moet migreer – dermate dat die ANC gereeld die idee opper om die Wes- en Oos-Kaap as een provinsie saam te smelt.

Hoewel setels in die provinsiale parlement nie met die komende verkiesing op die spel is nie, bied die komende munisipale verkiesing aan partye ’n belangrike geleentheid om hul voetwerk vir die volgende algemene verkiesing reg te kry. Die ANC sal graag nog vele munisipaliteite onder sy beheer probeer kry. Sy uitdaging gaan dan wees om dienste op dieselfde vlak te bly lewer sodat die strategie nie met die algemene verkiesing boemerang nie.

Die ANC het wel nog een kopsorg om op kort termyn uit te pluis, naamlik hoe om te maak met die prins van die Karoo, Truman Prince. Prince het reeds met die vorming van ICOSA getoon dat sy ondersteuners, en hulle is baie, deur dik en dun by hom staan. Sy kleurryke, omstrede geskiedenis verander niks hieraan nie. Die jongste bewerings teen Prince (tenderkierang en aanranding van ’n verkeerspolisievrou) is ernstig en behoort die laaste strooi te wees wat die kameel se rug breek.

Dit is egter duidelik dat die ANC eers deeglik gaan weeg en heroorweeg oor wat om met die geval Prince te doen.

Intussen moet die ANC die bal van illusies dat die hele saak niks met ras te make het nie, in die lug probeer hou. Die ANC het immers reeds duidelik getoon dat dit ras en rassisme hard as deel van sy verkiesingstrategie gaan gebruik, en veral enige denkbare ding wat die DA doen as rassisme gaan brandmerk en kritiseer. Die ANC moet darem minstens ’n poging probeer aanwend om nie te laat blyk dat dit self agter die deur staan nie (dit word met kwasi-ideologiese retoriek eerder as feite weggepraat), maar daardie vyeblare is reeds erg verweer.

Dit is jammer dat die stryd om Wes-Kaapse verkiesings hoogstens slegs deels om die regeerprestasies van die DA en DA-geleide koalisies sal handel. Tog gaan hierdie suksesse nie heeltemal ongesiens verby nie, en sal dit plek-plek elders in die land neerslag vind wanneer mense stembus toe opruk. Intussen moet die DA waak om in sy eie regskud nie meer vyande as vriende te maak nie. In die Wes-Kaap gaan dit by die stembus saak maak as hy ook bruin en wit kiesers vervreem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jordaan ·

So wat is dan die verskil tussen regstellende aksie en “affirmative action” as dit nie verwar moet word nie asb?

herman ·

Die onderwerp is al dikwels in detail bespreek. Dit kom kortliks daarop neer dat daar ‘n voosiening vir regstellende aksie in die grondwet gemaak word om its wat verkeerd was reg te maak, en affirmative actions soos die ANC dit as ‘n sort rasnepotisme laat neerslag vind het. Dit stel op die aarde niks reg nie.

Trolle ·

Oorlog tussen blou en geel klink soos die kleurebyeenkoms op skool wie gaan wen?ek sal maar op kantlyn staan en kyk en cheer want op die ou einde sal Mal Ema se rooi span oorvat dis tog waarvoor die wereld nou gaan om alle lande komunisties te maak.

Rynhardt ·

ANC wil Wes-Kaap bevry? Anc en DA hou SA en Weskaap vir jare gevangene! Misdaad is landwyd en in Wes-Kaap buite beheer.Kyk daai wit liberale hand om Anc-spies.SA politiek is gelykstaande aan goedkoop prostitusie.

johny ·

Ons kan praat tot ons blou is en redeneer tot ons pienk is.ANC het mos gese hulle sal regeer tot JESUS .ons kom haal .Die getalle is aan hulle kant.Soos in amerika begin die getalle ook op te bou teen hulle.Die bybel se alles moet eers tot niet gaan.Die duiwel op aarde is baie bedrywig.As hy eers verslaan word en ons weet nie hoe lank nog nie .Dat sal die wereld eers weer regkom.Kyk hoe word die volk van GOD oor die wereld aangeval en vervolg ,en stelsel matig vernietig

Johann Marx ·

Dis wat gebeur as ‘n “struggle” organisasie probeer om ‘n land te bestuur…..Dit kan nie suksesvol wees nie, want alles moet eers in ‘n “struggle” verander word, voordat hulle weet wat om daarmee te doen. En so “struggle” hierdie land van die een fiasko na die ander…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.