Nuuskommentaar: Is minderheidsregte regs?

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

In Suid-Afrika manifesteer die opneem van minderheidsregte gewoonlik as ’n “regse verskynsel” en ongewens. Maar word die wêreld in geheel beskou, is minderheidsregte dikwels juis ’n manifestasie van ’n liberale ideologie, en heel fatsoenlik.

“Solidariteit en AfriForum verwerp die polities gemotiveerde beskuldiging dat die benutting van grondwetlike regte ‘regs’ is of dat die uitoefening van regte ’n poging is om bevoorregting te verskans.” So skryf Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, onlangs in ’n artikel op Netwerk 24.

Drie lede van die Seunse Weenkoor was onlangs baie vinnig uit die blokke om adv. Gerrie Nel se besluit om by AfriForum aan die hoof van ’n private vervolgingseenheid te staan, te kritiseer. Die vierde lid het later soos ’n derde gelui ook ingeval.

Gerrie Nel verdien nie die onwaardigheid waarmee die Seunse Weenkoor oor sy kop losgetrek het nie. In die kriminele leeuwêreld daarbuite is die beoogde vervolgingseenheid ook geen luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid.

Trouens, die werklikheid is ligjare verwyder van die glans, magsvertoon en triomf wat vir vanaand beplan word om die parlementsopening en staatsrede te probeer inspan om pres. Jacob Zuma se beeld behoorlik afgestof te kry.

Dis ’n gedugte taak wat die ANC het om Zuma statuur te probeer gee. Volgens ’n gewildheidspeiling wat pas bekend gemaak is, Approval Ratings-meningspeiling van Ipsos en eNCA, behaal Zuma nou vier uit tien, met Julius Malema die enigste politikus wat getoets is, wat swakker as hy gevaar het.

’n Beduidende bevinding is dat Zuma se eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die gewildste onder die geselekteerdes was, selfs gewilder as adjunkpresident Cyril Ramaphosa en die DA-leier, Mmusi Maimane, asook minister Pravin Gordhan.

Tensy sy intussen tot ander insigte gekom het danksy haar flouerige ekskursie by die Afrika-unie, is die nuus oor Dlamini-Zuma se gewildheid vir diegene wat minderheidsregte ’n plek wil gun, baie slegte nuus. Tydens die Kliptown-beraad in 2012, en wat versoening in die oog gehad het, het Dlamini-Zuma ’n skerp aanval van stapel gestuur op diegene wat minderheidsregte nastreef. Maroela Media het destyds in ’n nuuskommentaar geskryf dat Dlamini-Zuma, toe minister van buitelandse sake, minderheidsgroepe verwyt omdat hulle nie bloot by die meerderheid integreer nie.

Die betrokke nuuskommentaar behandel vervolgens die kwessie of minderheidsregte ’n “regse” of “linkse” konsep is. Die bekende eertydse Nederlandse premier, Joop den Uyl, se regterhand in sy fel stryd teen apartheid, Max van der Stoel, is destyds pas oorlede. Daar kan geen twyfel wees nie dat hierdie twee here so links op die politieke bankie gesit het dat hulle gevaarlik na aan aftuimel was.

Maar ná sy dood is Van der Stoel nie vir sy stryd teen apartheid onthou nie, maar sy veldtogte en aksies ter bevordering van minderheidsregte. Hy het onder meer sweet van sy arbeid en finansies vir die stryd bygedra.

En in die Europese konteks is dit nie vreemd nie. Om ’n lidland van die Europese Unie te word, moet lande behoorlik aan minderheidsregte beslag gee. In Spanje het Katalonië en Biskaje ’n groot mate van selfregering gekry. België het soos Indië ’n etniese federasie geword, Skotland het weer sy eie parlement gekry, Wallis ’n verteenwoordigende liggaam, en selfs Cornwallis het ’n vorm van selfbestuur gekry.

En heel ironies het die Skotse parlement pas simbolies téén Brexit gestem, wat nog ’n vooropgesette idee ’n duik op die kop gegee, naamlik dat sosialiste nie ook nasionaliste kan wees nie. Die regerende Skotse Nasionale Party lê ideologies baie na aan die Britse Arbeidersparty.

In Frankryk is die mosie om die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke ná byna ’n eeu erken te kry, deur linkse partye gedryf, en verbete deur regse partye teengestaan.

In Suid-Afrika is die konsep van minderheidsregte egter duidelik “regs”. Dis nie konsekwent nie. Dlamini-Zuma se party is byvoorbeeld sterk ten gunste van ’n onafhanklike Wes-Sahara en ’n Palestynse staat.

Die vertolking van die Suid-Afrikaanse Grondwet geskied ook dikwels deur ’n ideologiese bril. By geleentheid, op RSG se program Kommentaar, het Max du Preez en Jan-Jan Joubert, albei openlik liberaal, die Grondwet as ’n unitêre grondwet beskryf. Nog ’n deelnemer, ook liberaal, prof. Christi van der Westhuizen, stuit hulle toe in hul spore deur na artikel 235 te verwys wat vir selfbeskikking, sowel geografies as korporatief, voorsiening maak.

Dit is egter so dat minderheidsregte nie so sterk soos individuele regte in die Grondwet geaksentueer word nie, en dikwels deur ander artikels wat die Grondwet aan die internasionale reg verbind, “ingetrek” moet word.

Nog verspreide bepalings in die Grondwet wat skynbaar aan minderheidsregte beslag gee, word nou onder meer in die hofsake oor die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigmedium by ’n paar universiteite getoets.

’n Bekende liberale voormalige akademikus en ontleder het by geleentheid die regses verwyt dat hulle die Grondwet benut om die liberale pilare daarvan om te trek. ’n Sinnelose opmerking soos dit mag wees, demonstreer dit tot die “skisofrenie” dat ’n duidelik liberale grondwet tog ook ankertoue na minderheidsregte kan hê.

In dié stadium lyk dit taamlik duidelik dat die Zuma-bewind baie Afrikaners, links of regs, tot die besef bring dat iets gedoen moet word om te keer dat almal saam met die res van die land die kreeftegang gaan. Met die mediadekking wat geweldsmisdaad en vergrype kry, help dit nie om die publiek te oortuig om die land meer oorhoofs en kontekstueel te beoordeel nie – daar lyk dit mediagewys ook soos ’n oorlogsone.

Ander beplan om die land te verlaat of maak hul kinders groot met die konsep dat hulle die land sal verlaat.

Om minderheidsregte as “regs” of outyds of ongewens af te maak, is nie “links” of liberaal nie, dis gewoon ’n miskenning van die internasionale reg.

In die ruïnes van ’n Maja-stad is ’n soort platform ontdek, wat deur navorsing geblyk het die plek te wees waarheen lede van minderheidsgroepe in die stad van tyd tot tyd geneem is om deur die egte Majas gespot te word en selfs met voorwerpe bestook te word. Dit herinner aan die Seunse Weenkoor wat woorde en beledigings na die Solidariteit Beweging en sy filiale slinger. En ja, dit dra daartoe by dat die hunkering na minderheidsregte as ’n manifestasie van regs voorgestel word, al is dit ook hóé vals.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

skorra ·

Weereens – soos die een van gister – ‘n weldeurdagte en insiggewende artikel dankie Herman! Boonop het jy dit reggekry om my gemoed met die “Seunse Weenkoor” sommer so paar grade te lig!

tamboti ·

100% Herman, geluister na vanoggend se gesprek tussen 8 en 9 op radio sonder Afrikaners – linkses glo om links te wees is reg, en alles wat regs is is verkeerd! Dit is soos om te argumenteer dat net blankes rassiste is.
Linkses vind dit ook baie regverdig om dubbele standaarde te handhaaf soos: jy mag assosieer met wie jy wil maar nie dissosieer soos jy wil nie. Jy mag enige amptelike taal in die hof gebruik maar op universiteit slegs Engels of jy is verkramp. Jy mag teen niemand diskrimineer behalwe teen regse Afrikaners, dis inteeldeel jou plig om hulle uit te sonder maar nie afsonder nie, want eintlik het hul nog nooit ‘n bestaansreg gehad nie??????
O ja en dieselfde ANC wat selfbeskikking vir die Palesteine en Wes-Sahara steun, steun nie Taiwan nie en beskou die Dalai-Lama as rebelle leier!!!!
Groetni,s Regs en Aweregs

Job Schoeman ·

Bravo Herman!
Ongelukkig is diegene wat kennis moet neem (die ANC, Max du Preez en soortgelykes) horende doof en siende blind omdat die waarheid tog net nie moet inmeng met hul eie ideologiese vooroordele nie.

AL ·

Kritiek sal daar altyd wees, wie is in elk geval gepla oor die weense seunskoor se opinie? Ek steur my nie aan mense wat Solidariteit en Afriforum wil etiketteer nie. Indien jul nie vir ons regte opstaan nie, sou ons al lankal diep vertrap gewees het in die stof.

Nico K ·

Daar is groot verwarring wat is konserwatief (regs) en wat is libraal (links). Mev Merkel kry baie kritiek van regses oor haar beleid ten gunste van die Moslem asielsoekers. Maar in die Duitse politiek is sy aan die konserwatiewe kant (Christen demokraat). Regs is bloot mense wat nie graag verander en links is mense wat graag verander. En in daardie sin kan wat in een land as konserwatief gesien word wel in ‘n ander land liberaal wees.

JC ·

Dankie Herman, weereens perfek. Dlamini-Zuma kan ‘n eier gaan le, of doppies gaan blaas. Wanneer Afriforum/Solidariteit met haar klaar is, sal sy sommer volledige selfbeskikking vir Afrikaners preek!!Hulle sal ons nie verhoed om ons Afrikaanse Afrikaner minderheidsregte uit te oefen nie. Die grondwet is irrelevant en “useless” regtig, ons Afrikaners is WEEREENS op ons eie (behalwe vir die paar afvallige seunse weenkoor lede). Die pragtige ding is dat ons reeds soveel het om voor dankbaar te wees en op te bou, en niemand maar niemand kan dit wegneem nie!! Orania (ek is nou ook ‘n trotse lid van die Orania beweging), Kleinfontein is maar NET DIE BEGIN. So ook Akademia, Aros, christelik geskoeide tersiere onderrig soos die Afrikaanse Protestantse Akademie, EN Soltech. Die punt is dat ons selfbeskikkings oftewel outonome regte LANK REEDS ingemessel en gevestig is, en indien dit bedreig word sal ons Afrikaners dienooreenkomstig optree om ons outonome/selfbeskikkingsregte uit te beskerm. Die hippokrasie is lagwekkend van die “regering” d.i. hul ondersteuning aan Wes-Sahara maar afkeur van ons minderheidsregte hehe. Hulle kan eerlikwaar nie ernstig opgeneem word nie.

JC ·

“WEEREENS OP ONS EIE”. “Knegte van die Allerhoogste, TEEN DIE HELE WERELD VRY” Die Stem.
Die pragtigste, pragtigste lied ooit VAN ALLE TYE!

Regs ·

Ja dit is so vreemd dat omdat blankes uiteindelik vir hulle regte begin opstaan, dit nou as REGS beskou word. Meerderheidsregte wat op minderhede afgedwing word word as goed en geregverdig beskou, en ENIGE minderhede wat opstaan vir hulleself is rassiste. Ek dink ons blankes was te lank sensitief vir die woorde apartheid en rassisme en SKAAM om Afrikaans en WIT te wees. Wel jy kan kies .. gaan jy organisasie volg wat vir jou regte veg (hulle is nie regs nie, hulle TREE NET OP IN JOU BELANG), skud nou die skuldgevoel af, skud die REGSE idee af en help bou die toekoms vir jou eie mense. EN as iemand vra wie is jou eie mense, vra dit vir die ANC, wie is HULLE eie mense? Kyk na jou EIE MENSE, charity begins at HOME!! Dis nie regs nie, dit is REG!! Hoekom is LINKS reg en REGS verkeerd? TWAK, ons moet nou ophou om VERSKONING vra en dit wat ons wil he CHASE~!

PIETMAN ·

Opstaan vir wit minderheidsregte=regs, verkramp. Opstaan vir swart minderheidsregte= links, progressief. Laat enige-een maar hulle skuldgevoel / etikettering speletjie probeer speel. Die wittes is besig om uit n slaap te ontwaak.

JC ·

Ons moet NOOIT MAAR NOOIT ons uniekheid as Afrikanervolk en ons unieke posisie in die wereld vergeet en ons helde en heldinne van weleer vergeet wat SO BAIE gedoen het vir ons as volk nie. Afriforum en Solidariteit is besig om ons strewe na kulturele outonomie en selfbeskikking ‘n werklikheid te maak en HULLE KAN NIE GENOEG daarvoor geprys word nie! Waar sou ons sonder hulle gewees het? Die feit dat hul so baie aandag trek van die nuwe “verkramptes” (max en kie) WYS JUIS OP HUL SUKSES. HOE BOME VANG DIE MEESTE WIND, net soos ons Afrikaners op wie se prestasies ons mede Suid-Afrikaners en sommige “Afrikaners” bitter jaloers is!! Sjoe, praat nou van oikofobete!

John ·

Waar in die geskienis kry mens ‘n meer linkse liberale menseregtelike versoenende heldedaad as toe die De Klerk-regering afgestap het en die land op ‘n goue skinbord aangebied het vir die swart bevolking en Mandela uit die tronk vrygelaat is; totale oorgawe selfs die ‘troon’, die weermag en finansies. Al wat die ja-stemmers op gehoop het was die voorreg om aan te gaan met hul lewens… maar dit was skynbaar te veel gevra, veral vir die wit ultra-ultra-liberale teemtienies. Waaroor kla laasgenoemde? Hulle wil nie he die Afrikaners moet aangaan met hul lewens nie; hulle moet totale selfvernietiging pleeg… Terloops, daar is mense wat beweer die ja-stem het nooit gewen nie en glo daar was ‘n groot konkelry met die stemtellery omdat die ruimhartige regering geglo het dit sou fataal wees indien hulle die destydse bestuurstyl sou bly volg. Beter behoudende regte vir die Afrikaners is glo nie eens oorweeg nie. Was dit nie ook ‘n onoortreflike en bomenslike liefdesdaad vir die naaste en vir versoening nie, sou dit waar wees?

JC ·

Baie goeie punt John :-) “Regte” Afrikaners is bevonk!
Die lede van die sg. seunse weenkoor is NIE die benaming werd nie, en doen dit ‘n onreg aan.

w ·

Ek sal baie graag wil weet of van die mense wie destyds ja gestem het se fam al vermoor of aangerand is. Hul wag seker steeds dat dit sal beter gaan maar inderdaad gaan dit net slegter en slegter in SA. Net die govt officials leef weelderig verby

Pietser ·

Ja en so ook baie (meer)) van my swart landgenote. Die probleem is nie net ‘n Afrikaner probleem nie of Afrikaners wat kwansuis spesifiek geteiken word nie. Jy weet mos nou dit is nie so nie.

Henry ·

Ag toggie.

Gelukkig is daar mense en organisasies soos Afriforum en Solidariteit met al hul vertakkinge, wat nietemin en ten spyte van die vervelige en voorpelbare geteem deur enkele agtergeblewe aandagsoekers, steeds voortstoom om ‘n positiewe verskil in mense van hierdie droewe land se wel en weë te maak.

Die gewone trolle*, oftewel kommintatorre wat op allerlei blaaie verveel met hul voorspelbare beledigings en venyn, verdien nie die aandag van ons mense nie. Van tyd tot tyd daag daar ook een of meer hier by MM op. Ignoreer is die beste geweer my Tjaaina’s!!!

Kyk vorentoe en stap aan deur die stowwe want om met diesulkes te argumenteer,is ‘n nuttelose oefening.

*Ag dit so jammer dat ek nie die beter omskrywing van die spul patete op hierdie gesinsblad mag gebruik nie!

JC ·

Ons is uniek in dat ons seker die enigste nasie op aarde is wat ‘n besonderse unieke twee-aardige duale taal, en ‘n tipe van ‘n kreoolse kultuur met ons mede Afrikaanses, wat mede verantwoordelik is vir die stigting, groei en ontwikkeling van ONS taal in al sy betowerende varieteit, deel. Ons is die enigste blanke stam van Afrika met Afrika bloed wat in ons are vloei (gemiddeld 3% Koina bloed). Ons beskik oor unieke argitektuur (Kaaps-hollands), met ‘n unieke calvinistiese uitkyk (EN ook BAIE WYN) en moet verenig wees in ons verskeidenheid as Afrikaanses (afrikaner en bruin) met al sy fasette van konserwatief tot minder so. Ons eien elemente van afrika kultuur toe op ons unieke manier gemeng met Eurosentrisme en ons het gedurende die Anglo Boereoorlog die wonder en admirasie van die wereld verdien met ons heldhaftige optrede van Generaals De Wet, De la Rey, Botha, Smuts, Henning P Viljoen, NJ vd merwe en andere. Ons het ‘n “storied” geskiedenis, wel soms vol skurke en kansvatters maar nooit vervelig nie! Gedurende die 20ste eeu in ‘n poging om ons kultuur te beskerm en agv die britte se toedoen en ons ondervinding daarvan, implementeer ons aparte onwikkeling maar ongelukkig word die projek van alle kante gestrek en verwrong en haal ons die afkeur van die post WW2 dispensasie op die hals. NOU BOU ONS EN ONS STAAN SAAM AS “ik ben een afrikander”.

tamboti ·

Pietser, as jy die geskiedenis ‘n klein bietjie beter ken as die bedrieglike koerant opskrifte en nuwe ANC verdraaide skoolleringe, dan moet jy weet Apartheid is deur die Britte begin is, en die Afrikaanse regering onder Malan het gefokus op “Afsonderlike ontwikkeling” met die groot klem op swart ontwikkeling. Nadat ek die syfers van die belegging daarin gesien het, glo ek ook nou “Apartheid” was verkeerd.
Die walglike stelsel van menslike onderdrukking vind egter nou plaas met KWOTAS en miskenning van minderheids groepe se behoeftes en aspirasies.
Vra jou ANC regering om dit af te sweer en hou op om jou liberale agenda te bevorder ten koste van ons wat ons eie belange wil beskerm!
Hoekom ons afkraak, is julle jaloers omdat ons die eerlike en reguit pad wil stap?
Nog ‘n vraag, berig hoofsaaklik swart koerante ook oor die (plaas) moorde van blankes as totaal onaanvaarbaar, wat van liberale koerante – kan jul enige goeie werk van Afriforum of Solidariteit aanprys, of is als van regterkant vrot en verfoeilik?

Theresa ·

Dankie tog vir Solidariteit en Afriforum, F A K en nog ‘n paar ander instansies wat hul nog bemoei met die Afrikaner se opbou en behoud. Dankie dat daar mense is wat nog besef dat links en regs en allerlei ideologië deesdae bitter moeilik onderskei kan word, want geloofsoorlog het ook al bygekom in die stryd. Dan nog die wreedheid van mense wat so byna afgeskaal word (deur sommiges) as net nog misdaad. Nee jongie, iewers rook party mense iets wat die kop lelik deurmekaar krap. En ek stem saam, los Maroela Media dan uit as dit nie leesstof is wat jou inlig of opvoed nie. Gaan lees dan maar iets anders waar jy meer tuisvoel.

JC ·

Dit is ‘n interessante gesprek die, want indien die swartmense, onderskeidelik, oenskynlik vere voel vir eie kultuurbelange en die uitoefening daarvan en nog meer die daaglikse en werklike realisering daarvan; (wat blyk die geval te wees indien bv. die aantal swart studente wat engels uitsluitlik verkies as onderrigmedium en nie hul eie tale nie, en geensins werklik belangstel in die akademiese ontwikkeling daarvan nie. hoekom PROBEER verhoed die regering ons om ons kulturele regte uit te oefen? Dit kan mos nie wees nie. Is hier dan sprake van twee botsende ideologiee, d.i. westers geinspireerde en die steeds aanwesige, ten spyte van gedeeltelike afrikanisering, klem op kultuur en taal van Afrikaners; versus die nog aanwesige “minderwaardigheidsgevoel” en onderhorigheid aan westers-koloniale idees en instrumente van, swart Afrikane? Wat ons dus sien is die botsing van twee denkrigtings of verskynsels d.i. die westerse klem op kultuur, en die tydsgebonde- en vasgevange penarie van selfontkenning waarin self ons swart landsgenote hulself bevind SONDER DAT groot dele van hulle ooit die onderwerp van kolonialisme of gedwonge assimilasie was; en asb; die verpligte aanbied van wetenskapvakke in Afrikaans in die vroeer jare 60’s en 70’s was NIE gedwonge assimilasie nie. Die vraag kan derhalwe gevra word, en is die huidige situasie ‘n paradoks: waarvoor is dan ooit “geveg” indien die doel daarvan nie kulturele vryheid en uitdrukking was nie? ‘n Rit op die soustrein? (soos al telkemale skaamteloos erken is)..

JC ·

Waarom beskik Afrikaners oor die eienskap van selfverwesenliking, maar ons mede Suid-Afrikaners oenskynlik nie?
Tyd vir kantonne ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.