Nuuskommentaar: Jansen se siening onvanpas vir Grondwet

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Die gewese rektor van Kovsies het in ’n nuwe artikel laat blyk dat nog min geskuur is aan die persepsies waarmee hy landuit is. Maar hoeveel kan die Grondwet ondergrawe word “ter wille van” hulle wat historiese persepsies ten koste van ander koester en tot geweld oorgaan?

Prof. Jonathan Jansen, oud-rektor van Kovsies, is bekend daarvoor dat hy soms wydsprakig kan wees (en soms gekruide taal daarby kon inspan), en dat hy vaste, vooropgesette idees oor AfriForum en Solidariteit het.

Pas het daar weer ’n artikel uit sy pen op Netwerk 24 verskyn, waarin hy sy verstek-posisies bevestig. Hy beskryf Solidariteit en AfriForum as “regse konserwatiewe” organisasies.

Nou skryf hy dat Afrikaans nie op (voormalige Afrikaanse) kampusse sal oorleef nie.

Hy tree uit die aard van die saak sterk in die bresse vir pogings van verskeie voormalige Afrikaanse universiteite om Afrikaans op hul onderskeie maniere uit te rangeer. Hy gebruik steeds die verskoning van “uitsluiting” wat Afrikaans teweeg sou bring en trap op al die alternatiewe pogings om juis die uitsluiting te voorkom.

Maar, en dit is waar die probleem die meeste in dryfsand vasval, hy gee toe dat universiteitsowerhede voorsien het dat van hierdie planne in die howe sou beland.

Jansen gee toe dat die posisie van Afrikaans grondwetlike en ander erkenning geniet: “As die standbeeld van Cecil John Rhodes ’n simbool van die rasse-uitsluiting, wit bevoorregting, en marginalisering by die Engelse universiteite was, het die grondwetlike bepalings en institusionele statute ter beskerming van Afrikaans as onderrigtaal presies dieselfde funksie vervul in die oë van swart studente op plekke soos Tukkies, Kovsies en Stellenbosch.”

Hier raak Jansen aan ’n aspek wat gereeld in die debat ter sprake gekom het, en waaraan akademici en filosowe deelgeneem het, en ook die skrywer-digter Breyten Breytenbach gereeld sy mond ter behoud van Afrikaans uitgespoel het. Dit is naamlik dat die Grondwet aangebied is as ’n soort Kersboom waarvan betrokkenes net hoef presente af te haal waarvan hulle hou. Grondwetlike bepalings wat nie die breër narratief pas nie moes dus weggebêre word, of in die howe aangedurf word (met die hoop om politieke uitsprake te kry?).

’n Kortpad word dus uit ’n probleem gesoek en selfs die Grondwet staan nie in die pad van hierdie kortpad nie.

’n Interessante aspek is dat universiteite wat verengels dit aanbied as sou hulle hiermee veeltaligheid bevorder. Jansen verwys egter hierna doodgewoon as verengelsing waar Afrikaans verwyder (moet) word.

Watter weergawe moet dan aan die howe opgedis word?

Maar kan die Grondwet so beskou word as sou dit bloot “lastighede” oplewer wat ter wille van kortpad-oplossings ondergeploeg moet word? Het die land nie reeds groot genoeg probleme met ’n regering wat sy meerderheid wil gebruik om ’n tirannie van die meerderheid te skep, en dan kort-kort deur die howe tot orde geroep moet word nie? Tot groot ergernis van die regering.

Moet universiteite as plekke van akademiese uitnemendheid nie juis die voorbeeld stel deur suiwer met die Grondwet om te gaan nie? Moet die wye verskeidenheid vakdissiplines nie ingespan word om eerstens strategieë te ontwikkel wat die probleme wat ervaar is, te voorkom nie, en dit dan na behore só te bestuur dat dit juridies korrek en billik haalbaar teenoor minderhede en hul internasionaal erkende minderheidsregte is nie?

Ten laaste. Dit is nie van pas dat iemand wat aan die hoof van ’n land of instelling gestaan het, daarna uitsprake maak wat as ’n soort voorskriftelikheid aan sy opvolger beskou kan word nie. Só word die outonomie van die nuwe rektor en die ander partye soos AfriForum en Solidariteit se hande eintlik gebind as hulle, synde ’n nuwe besem by Kovsies, tot ’n skikking in goeie gees wou kom.

Die opweeg van menseregte teen mekaar, hetsy individuele of minderheidsregte, is soms baie eenvoudig, maar soms kan die grenslyn baie moeilik bepaal word. Dit word beslis nie opgelos deur die een stel regte te ontken of as minderwaardig te beskou nie.

En dit raak veral tragies dat, as in ’n opvoedkundige opset, die Grondwet na die maan gestuur word deur ’n wil om vandalisme en geweld af te dwing.

Dit beteken ook nie die regte benadering is dat hardvogtig aangedring moet word dat Afrikaans se grondwetlike regte eerbiedig moet word, maar niks gedoen word om negatiewe persepsies oor die taal te besweer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Sanet ·

Dit is as gevolg van mense soos hy dat rassisme nooit sal uitsterf in SA. Hy is ‘n groot gif vir ons pragtige land en ons wonderlike mense.

Gerhardus Petrus Padda ·

Ek weet regtig waar nie hoekom Afrikaners enigsins aandag gee aan enigiets wat JJ te sê het nie. Dit is tog duidelik dat in sy ideale staat, iets soos die “Afrikaner” nie bestaan nie. Hy het dit gemeen met die Kommuniste en die “Liberales”.

Die kompromieë wat in die Grondwet toegestaan is ten opsigte van taal en kultuur is so swak geskryf en word so maklik ondermyn deur slinkse grondwet “kenners” soos Pierre de Vos dat hierdie “regte” heeltemal niks beteken nie.

Aanvaar hulle is die vyand en handel in ooreenstemming daarmee as jy wil hê dat die Afrikaner nog enigsins kan voortbestaan.

Johan. H. ·

Stem saam humor. Laat hy aanbeweeg, gedra hom soos n LORD.

Eugene ·

Kyk hoe Kovsies gelyk het voordat hy daar oorgevat het,en hoe dit nou lyk.

Blondie ·

Ek wens iemand wil vir my verduidelik hoekom die landverlaters se monde altyd die grootste is! Hulle put oneindige genot daaruit, om die onmin, waarmee ons moet saam leef, te stook en aan te blaas!

Amelia ·

Ja en ek het hom destyds persoonlik ontmoet. Toe het die gees te vertelle dat Afrikaans vir hom die mooiste taal is, daarom het hy moeite gedoen om te leer om Afrikaans te praat. Glo my, hy het my noggals oortuig. Het selfs Sarie Marais op n clavier gespeel en gesing. Wys jou net hoe kan mens jouself oortuig as dit om n salaris gaan ne.

zahn ·

Enigiemand wat die man ernstig opneem, moet verligting soek in Disprins. JJ het politieke aspirasies, en besef dat hy dit nie sal kan regkry as hy nie op iemand trap nie. Skande vir homself.

Pietman ·

Ag nou ja. Wat is nou verkeerd om as “regs konserwatief” bekend te staan? Ou Jansen haat die Afrikaner met ‘n passie en dit gaan nie verander nie. Laat dit maar so wees.

Mathys ·

Was ‘n jakkals in skaapklere toe hy op Kovsies se kampus was en voet in die wind geslaan toe hy agterkom dat hy nie mas gaan opkom nie. Ontpop as ‘n beter-weter-alles-weter.

Piet Pille ·

Amalia, ja jy was weggevoer deur sy verkleurmannetjie toneelspelery. As jy mooi terug dink het hy daardie Sarie Marais net so vals gesing soos wat hy is.

Eish ·

Die tipering van Afriforum en Solidariteit as regs en konserwatief uitsluitlik oor die doelwitte wat hul nastreef is ongevraagd. Die organisasies word in die nastrewing van minderheidsregte en die afdwinging van die bestaande wetgewing en die grondwet om in die doelwitte te slaag, uitgeken. In die besonder dan die Afrikaanssprekende minderheid se regte. In die proses word geen onderskeid gemaak tov ras nie en is hul styl baie akkomoderend.Die groot hoeveelheid bruin Afrikaans sprekendes van die department van korrektiewe dienste wat bygestaan is die afgelope paar jaar dien ter stawing. Verder is die organisasies nie rassisties nie synde die die hulp verleen in Natal aan swart Suid Afrikaners in hul poging om n beloofde skool te bekom. Dat van die lede regsgesind is, is waar, maar geen fout mee nie aangesien die grondwet vryheid van spraak en assosiasie waarborg en geen wet tot dusver het enige persoon verbied om nie konserwatief of regs te wees nie. Dat hul Christelike waardes aanhang is waar aangesien dit n hoeksteen van die organisasies se missie is. Gevolglik gaan diegene wat nie die genoemde waardes aanhang nie, baie ontuis voel in die organisasie. Soos wat n blanke prokureur ontuis gaan voel in die Black Lawyers Association, wat uitsluitlik op rassebasis gestig en bestuur word. Tov die res van die geleerde se kommentaar, dra hy geensins by tot blywende oplossings nie, net soos sy gewese kollegas terwyl hul entlik die toon moet aangee soos die skrywer pragtig uiteensit.

Veritas ·

Die groot verskeidenheid redes waarom die Afrikaner geteiken word, kom almal neer op een. Dit word genoem ‘Jaloesie’. Nie-Afrikaners of Afrikanerhaters kan nie die sukses van die Afrikaner verteer nie. Op alle gebiede het die Afrikaner hom onderskei as mededingend en in sommige gevalle as bobaas. Dit moet vir die vyand ‘n bitter pil wees om te sluk wanneer die Afrikaner hom op só baie terreine as meester bewys. Dié nasate van ongeletterde Boere het, met enkele uitsonderings na, uitgestyg bó die beperkings wat die Britte op hul gestel het en is nou ook te koppig om te swig onder die aanslag van Afrikanerhaters. Wat ‘n nare teenstander is die Afrikaner tog nie. Dit moet waarlik ‘n gevoel van neerslagtigheid in die gemoed van die vyand laat.

janneman ·

Ongelukkig is daar te veel JJ’s in hierdie land om dit gewoon net af te maak. En moet nie te veel op die grondwet en howe staatmaak nie…..ons taal, kultuur en menswees is n groot opgestelde teiken.

Tensy ons daadwerklike stappe neem is dit neusie verby…..staak alle skenkings aan die universiteite en weerhou belasting tot ons grondwetlikke regte erken word?

Eish ·

Dronkverdriet. Verlang na die kospotte van Egipte. Hy is dalk totaal uit sy diepte waarookal hy hom bevind.

Ken2 ·

Die anerikaners sien deur hom en hy gaan moontlik nie meer lank daar wees nie.

Henk ·

Jonathan Jansen sal nie onthou word as die beste rektor wat die UV/UOVS ooit gehad het nie; inteendeel…. Hy is die vent wat die versekering gegee het dat so lank as wat hy rektor van UV is, Afrikaans as onderrigtaal “veilig is”.

Ken2 ·

Wat beteken transformeer? Dit beteken jy moet bloot wat jy en jou voorgeslagte hard aan gewerk het weggee sonder om te baklei, jy moet net stilbly en wegstap anders word jy as rassis gebrandmerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.