Nuuskommentaar: Keer dat regbank wankel

hof-hamer

Argieffoto.

Terwyl al dae lank koppe gestamp word oor premier Helen Zille se twiet oor kolonialisme, het ’n saak sy opwagting gemaak wat ernstiger aandag verdien – die diefstal van rekenaars uit die kantore van hoofregter Mogoeng Mogoeng en nog verskeie aanvalle op regters.

Verskeie aanvalle op regters of die regbank, waarvan die inbraak by regter Mogoeng Mogoeng se administratiewe kantore, het tot ernstige vrae gelei. Oor ’n wye front word gevra of dit nie ’n poging is om die regbank te intimideer nie, en of die staat dalk op die een of ander manier hieragter sit.

Die tydsberekening ná die howe ’n rits uitsprake teen die regering gelewer het, en die aantal aanvalle binne ’n kort rukkie laat die moontlikheid van toeval byna buite rekening.

Die feit dat drie mense so gou ná die inbraak aangekeer is, en ’n vierde geïdentifiseer is, sal moontlik daartoe bydra dat die publiek nie te lank sal hoef te wonder nie. Ongelukkig is die gesteelde rekenaars nog nie opgespoor nie. Is dit inderdaad ’n opgewarmde Watergate, dan gaan die Suid-Afrikaanse politiek baie gou voor ’n gans nuwe dinamika te staan kom. Die departement van staatsveiligheid ontken egter aandadigheid.

’n Ander moontlikheid is dat georganiseerde misdaad nou sulke afmetings aangeneem het dat byna geen teiken buite perke is nie. Die onlangse rooftog by die Internasionale Lughawe OR Tambo het kenmerke hiervan gedra. Ook daar is mense in hegtenis geneem.

Suid-Afrika kan nie toelaat dat regspraak in hierdie land deur intimidasie en ontvoerings, en selfs moord, ontspoor nie. Dit sou herinner aan ’n tyd toe die Mafia en die Rooi Brigades Italië se regbank gyselaar probeer neem het. Die Rooi Brigades het selfs sover gegaan om Aldo Mori, die eerste minister, te ontvoer en ná 55 dae te vermoor.

Dit bly belangrik om so gou moontlik agter die kap van die byl te kom. As die staat of groot misdaadsindikate hieragter sit, is dit eintlik lagwekkend dat daar, met so ’n groot bedreiging, nou al amper ’n week lank hewig debat gevoer word oor premier Helen Zille se twiet oor kolonialisme, veral teen die agtergrond dat daar skynbaar nog geen gevolge was nadat ’n ANC-LP tydens die debat oor plaasaanvalle uitgeroep het die boere moet lewend begrawe word nie.

Wat die regbank betref, of dit nou foute maak of nie, moet genoeg respek afdwing om die land op soveel fronte “aanmekaargelap te hou”. Nie alleen moet die misdaadprobleem sonder vrees aangepak word nie, dit moet ook (en te dikwels) die regering tot orde roep. Die reëlmaat waarmee die regering die Grondwet vertrap, is onaanvaarbaar en die howe verdien lof dat hulle verseker dat Suid-Afrika ’n land bly waar die oppergesag van die reg bly geld, en so rug styfmaak teen politici wat die land in ’n diktatuur van die meerderheid probeer omskep. Pres. Jacob Zuma het hom al erg bitterbek hieroor uitgelaat.

Sonder ’n onafhanklike regbank wat as beskermhere van die Grondwet optree, sal dit moeilik wees om die vlakke van persvryheid en vryheid van meningsuitdrukking te handhaaf, en die reg van nie-regeringsorganisasies om lede se belange te beskerm onmoontlik word.

Laat ons sommer gou gerusgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AL ·

Drukgroepe moet die situasie fyn dophou dat regering nie n wolmus oor die oë van ons trek nie. Stoere ANC lede is gelukkig baie ontevrede oor die ANC se afdraaipaaie en het reeds 5jr met Zuma probeer kommunikeer

John ·

As ons regstelsel ineenstort en daar geweer-in-die-rug uitsprake gelewer word, kan ons maar oppak. Waarheen is ‘n ander kwessie. Wat wel seker is, is dat die buiteland moeg is vir die diesulkes wat wil maak en breek… hulle sal tuis moet bly… en gou sal hulle agterkom hoe lekker dit is dit sonder die kolonialiste se innoverende hulp… ha, haaa!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.