Nuuskommentaar: Maak die Grondwet ons vry?

Op Vryheidsdag kan die nuwe Grondwet gevier word. Daar kan ook besin word of ’n ander staatkundige model nie ’n beter oplossing as die huidige sou kon gee nie, maar veral kan daar besin word oor die beste metodes om die leemtes en die geleenthede in die Grondwet te benut om die huidige wantoestande so doeltreffend moontlik die hoof te bied.

Maak die Grondwet ons vry?

Die ANC self verskaf (deesdae) hier die antwoord, maar om ’n heel ander rede as wat minderheidsgroepe dit sou beskryf, naamlik “nee”. Voortgesette armoede (en aanverwant soos ongelykhede) vereis “nog ’n bevryding”. Om nie van minderheidsregte te praat nie.

Dit is ligjare verwyder van ’n moontlik anekdotiese aanhaling van Kwame Nkruhma met Ghana se onafhanklikheid: “Ontvang hiermee die politieke vryheid en alles sal vir julle daarby gevoeg word.”

Toe nou nie.

Soos belowe, kyk ons vandag na ’n aantal verskillende staatkundige modelle ter wille van lesers wat nie weet hoeveel opsies daar met die onderhandelinge om ’n nuwe Grondwet beskikbaar was nie.

Grondwetlike modelle

As eerste opmerking kan gemeld word dat lande met ’n heterogene bevolkingsamestelling gewoonlik na ’n grondwetlike model neig wat meer gedesentraliseerd is, terwyl lande met ’n homogene bevolking na ’n unitêre stelsel neig tensy daar historiese of ander faktore soos die grootte van die land ter sprake is.

Met Suid-Afrika se besonder heterogene bevolkingsamestelling sou staatsregtelik en politiek wetenskaplik verwag word, gegrond op politiek-sosiologiese empiriese data, dat Suid-Afrika ’n Grondwet met sterk federale karakter sou kry, en in die besonder dié van ’n etniese federasie soos Indië en België. Dit was aanvanklik ook duidelik die doel van die destydse Suid-Afrikaanse regering en die Nasionale Party wat wesenlik onder een opdraggewende gesag gestaan het.

Die opdragte en aanwysings aan diegene wat namens onder meer die administrateurs voorleggings aan die onderhandelingspan by Kodesa moes maak, was dus byna klakkeloos geneem uit ’n studie van die staatkundige komitee van die presidentsraad, Besluitnemings- en Konflikbeslegtingsmeganismes en -tegnieke in staatkundige stelsels.

(Die uwe dra eersterangs kennis van dié opdragte en hul inhoud, want ek was getaak om die Vrystaatse administrateur se insette op te stel – deurnag tuis op ’n IBM-rekenaar sonder harde skyf.) Die volgende dag is dié stukke Kempton Park toe aangery.

Uit mediaberigte oor die onderhandelings is die gevoel egter gekry dat hierdie insette wat in opdrag van die regering, en volgens bepaalde riglyne, opgestel moes word, deur die regering se onderhandelaars ongelees in die asblik gesmyt is, veral ná Roelf Meyer hoofonderhandelaar van die regering geword het. Die uwe is dus dalk subjektief wanneer hy met ’n joernalistieke juweeltjie van die vermaarde rubriekskrywer, dr. Leopold Scholtz, saamstem dat die regering sy derde span se reserwes as onderhandelaars ingestuur het. Hieroor is Scholtz destyds erg deur Cape Libs gekritiseer, wat sommer ’n aanduiding gee dat die Grondwet as ’n liberale, unitêre grondwet beskryf kan word, en dikwels steeds so deur liberale ontleders bemark word … en baie kwaad word vir minderheidsgroepe wat die elemente wat minderheidsregte (behoort) te beskerm, aanwend “om die pilare van ’n liberale grondwet mee om te trek”.

Dit moet net bygevoeg word dat die kabinet uiteindelik die voorgestelde oorgangsgrondwet goedgekeur het, wat beteken dat die onderhandelaars in ’n stadium die kabinet se koppe by wyse van spreke heeltemal moes draai. Daar was wel sekere beskermingsmeganismes in die oorgangsgrondwet wat nie in die finale een opgeneem is nie, soos dat die regte van ’n amptelike taal soos dit voor 1994 bestaan het, nie verminder mag word nie. Die ANC was onversetlik dat hulle dié bepaling wou verwyder, wat ’n goeie beeld gee van hul onverdraagsaamheid teenoor minderheidsregte.

Dat die Grondwet op bykans haas elke terrein onder druk sou kom, deurdat dit nie die bevolkingswerklikheid erken het nie, is dus te wagte.

Watter alternatiewe opsies was daar?

Federasies

Hoewel nie die losste vorm nie, word federasie eerste bespreek omdat dit die behandeling van ander modelle vergemaklik. Definisies verskil redelik wyd (soos ook by ander modelle) en die “vereistes” wat hier gestel word, is nie noodwendig by alle federasies teenwoordig nie. Tipies sou ’n federasie bestaan uit ’n land wat uit ’n aantal deelstate saamgestel is, en dié deelstate beskik oor ’n wye verskeidenheid oorspronklike en gedelegeerde magte waarby die sentrale regering nie mag inmeng nie. Onderwys en polisie is twee tipiese voorbeelde. Die sentrale regering beskik weer oor soewereine gesag soos buitelandse sake, verdediging en sekere maatskaplike kwessies. Dit is egter algemeen dat oor tyd heen, en namate so ’n staat ’n hegter eenheid word, die sentrale regering deur kruipende sentralisering al meer magte sou oorneem, gewoonlik deur “sekere maatskaplike aangeleenthede” te “rek”. Dit kan tot oneindige hofsake aanleiding gee, soos nou in die VSA oor sommige state wat by skole kospakkies voorsien, en ander state nie.

België was tot enkele jare gelede nog ’n unitêre staat, maar sy heterogene karakter het ’n proses van “groeiende federalisme” aan die gang gesit, tot dit nou as (etniese) federasie bekend staan. Trouens, in sommige bronne word gemeen dat België nou reeds kenmerke van ’n konfederasie begin toon, hoewel daardie waarnemers dalk ’n definisie vir konfederasie gebruik wat te ver van die algemene staan. Trouens, die regerende party, die NV-A, het betreklik onlangs die konsep van konfederalisme vir bespreking oopgestel, maar is oor ’n wye front, ook in die media, die kop gewas.

Benewens ’n geografies gebaseerde federasie kan in beginsel ook ’n korporatiewe federasie bestaan. In die ou VSA het twee stamme dikwels dieselfde grond bewoon en daarop gejag, maar elke stam het totaal onafhanklik oor sy eie stamgenote die septer geswaai. Dié stelsel is veral geskik waar (van die) bevolkingsgroepe te verspreid woon om sinvol geografies ondervang te kan word. Die Maori-kongres (voorheen parlement genoem) beskik oor sekere regeermagte oor Maori’s ongeag waar hulle woon. (Hulle het ook, soos die oorspronklike inwoners van Indië, gewaarborgde setels in die nasionale parlement.)

Konfederasies

In ’n tipiese konfederasie geld die internasionale reg, eerder as nasionale reg, tussen die deelnemende state. Ander definisies bepaal dat die samevoeging van dié state deur verdrae bepaal word, wat dan kan insluit dat daar wel ’n nasionale parlement en nasionale wetgewing kan wees. Tipies sal deelnemende state ook sonder belemmering uit die konfederasie kan tree.

Die interessantheid is dat die bekendste lande wat hulself ’n konfederasie noem, soos die Switserse Konfederasie, of, soos reeds genoem, die Konfederasie van suidelike state van Amerika, verreweg nie as konfederasies kwalifiseer nie.

Switserland kon wel tot ongeveer 150 jaar gelede as konfederasie kwalifiseer, maar nadat ’n wegbreekpoging van Rooms-Katolieke kantons met wapengeweld gekeer is, is dit geen konfederasie nie maar eerder ’n klassieke federasie.

Die “konfederale” state in die VSA het vanuit die staanspoor ’n grondwet aanvaar wat sterk ooreengekom het met dié van die noordelike state (’n federasie). Met die grondwetskrywing is selfs afskeiding verbied – iets wat in die noorde wel tegnies moontlik is, hoewel baie moeilik.

Die naaste aan ’n hedendaagse konfederasie is die Europese Unie, hoewel sommige waarnemers meen dit bevat elemente van federalisme.

Konfederasies was algemeen onder voor-koloniale bevolkings in Noord- en Sentraal Amerika, byvoorbeeld die Tolteke en Asteke.

Grondwetlike en parlementêre demokrasieë

Demokratiese state kan ook verdeel word tussen state waar die grondwet oppergesag het, en waar die parlement die oppergesag het. Pres. Jacob Zuma het al verskeie kere sy ontevredenheid uitgespreek dat die Grondwet die “meerderheidswil” frustreer, maar dit is die bes beskikbare verskansing teen ’n meerderheidsdiktatuur.

Selfregerende gebiede

Voorts kan selfs unitêre state selfregering toestaan aan streke waar minderheidsgroepe woon, soos die Kataloniërs en Baske in Spanje en die Skotte in Brittanje. Trouens, die Europese Unie vereis dit vir deelname aan die Unie en dis een van die vernaamste redes waarom Turkye se pogings om ’n lidland te word, nog nie kon slaag nie. Hierdie selfregering kan ook korporatief wees.

Bied die Suid-Afrikaanse Grondwet voldoende uiting vir minderheidsregte?

Dié kwessie is tot groot mate “sub judice” en sal waarskynlik uiteindelik besleg word wanneer die taalkwessie rondom Kovsies se verengelsing voor die konstitusionele hof dien.

Artikel 235 steek wel soos ’n pynlike vinger in die oog van diegene wat die Grondwet simplisties liberaal, unitêr wil beskou. Dié artikel maak vir geografiese of korporatiewe selfbeskikking voorsiening, maar nie vir volkome onafhanklikheid nie. Dit beperk, soos die internasionale reg, die gronde vir selfbestuur/onafhanklikheid tot taal en kultuur, en sluit ras as norm uit.

Benewens ’n skynbaar grootskaalse onwilligheid van minderheidsgroepe om hiervan gebruik te maak, is dit ook duidelik dat die toepassing van dié artikel teen die ANC-beleid indruis. Tydens die abortiewe Kliptownberaad in 2012 wat nasionale versoening moes bevorder, het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma byvoorbeeld in reaksie op ’n toespraak van dr. Pieter Mulder minderheidsregte vir die Afrikaner afgeskiet. Sy wou weet hoekom die Afrikaner nie eenvoudig deel van die meerderheid word nie.

(Met haar gewese man se huidige tirades teen wit mense en hoe wittes “gemelk” moet word en hul plek moet ken, is die antwoord taamlik voor die hand liggend – wit mense en Afrikaners is nie welkom as volwaardige lede van “die meerderheid” nie.)

Voorts het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, in ’n onderhoud met Beeld op ’n vraag oor minderheidsregte vir die Afrikaner die opsie van minderheidsregte vir wit mense heeltemal afgeskiet. (Dit is ’n ou taktiek van die ANC om ’n volkeregtelike entiteit soos die Afrikaner dadelik met “witte of wit mense” te vervang, wat nie oor positiewe volkeregtelike regte beskik nie.)

Is ons vry?

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerkstigting, bestaan daar vele vryhede, soos die vryheid om geloof te beoefen.

Intussen het Verslaggewers sonder Grense (VSG) se jongste persvryheidsindeks die lig gesien, en hoewel persvryheid op globale skaal ’n laagtepunt bereik het, het Suid-Afrika se posisie van die 38ste tot die 31ste plek verbeter. Dit moet egter vermeld word dat dié instansie die afgelope aantal jare foutiewe inligting oor Suid-Afrika koester, soos die stand van die sogenaamde snoerwet, en dat dié indeks wesenlik sy waarde verloor het. Veel meer waarde kan aan Freedom House se indeks geskenk word. Op VSG se indeks stof Suid-Afrika byvoorbeeld die VSA baie ver uit, terwyl Freedom House Suid-Afrika net as gedeeltelik persvry klassifiseer, en ook op die kreeftegang plaas.

Eloff wys egter ook op die volgende: “Baie Suid-Afrikaners, veral dié wat 1994 beleef het, sal vanjaar se Vryheidsdag as die laagtepunt van alle Vryheidsdae beskou.

Hoekom? Omdat ons sien wat op politieke, ekonomiese en maatskaplike gebied om ons gebeur. Daar is groot spanning in die regerende party – oor die huidige president, maar ook in die leierstryd vir ’n nuwe president. Daar is sprake van korrupsie, en staatskaping deur regeringsleiers en amptenare. Ons sien dat die ekonomie stagneer en dat ons land se finansiële stelsel basies na rommelstatus afgradeer is. Ons beleef rassespanning en ’n klaarblyklik totale gebrek aan versoening en gedeelde waardes.”

Die vraag word dikwels gevra of Suid-Afrika nou beter daaraan toe is as sou daar nie ’n skikking bereik gewees het nie? Dit is ook oudpres. FW de Klerk se standpunt.

Maar wat van ’n opvolgvraag? Sou die land nie nog beter daaraan toe gewees het as die skikking ’n grondwet sou oplewer wat meer geskik vir die heterogene omstandighede is nie? Dit is immers waarom baie wit mense “ja” in die referendum gestem het dat onderhandelings kan voortgaan, maar met die “waarborg” dat ’n ondoeltreffende skikking in ’n opvolgreferendum geveto kon word. Dié referendum het egter nooit plaasgevind nie.

Alternatiewe opsies

Steeds glo baie mense uit minderheidsgemeenskappe dat die huidige Grondwet reg en goed is, en vergeet of ignoreer dat Solidariteit byvoorbeeld die DKD-saak gewen het om blatante diskriminasie teen bruin mense stop te sit. Trouens, daar word oor ’n wye front veldtogte en hofsake gevoer, en internasionale forums word gereeld opgesoek.

Solidariteit se Plan B wat binne die beperkings van die Grondwet lewensvatbare opsies bied, word deur verskeie liberale as ’n “onvergeeflike” mosie van wantroue teen die “wonderlike Grondwet” beskou, en skryf selfs dat die Solidariteit Beweging ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het. Gereeld gaan daar ’n geweeklaag van die Seunse Weenkoor op, en lê die Orakel van Stellenbosch misplaaste eiertjies.

Die land sit nou met ’n gegewe. Die sterkste aanduidings van grondwetlike veranderings wat kan kom, is waarskynlik Zuma en Kie se voorneme om die Grondwet so te wysig dat grondgryp-optrede sonder vergoeding moontlik sal word.

Die beste waarborg om die beste van die saak te maak is om by burgerlike instellings soos lidorganisasies van die Solidariteit Beweging aan te sluit.

Daar is volop opsies, sodat dit kortsigtig sou wees om te sê Netwerk 24 tas mis waar dit in vandag se hoofartikel onder meer skryf: “Wanneer die magshebbers dan vandag toenemend praat asof die Grondwet nie meer saak maak nie, is dit die moeite werd om woorde soos dié (van Mandela) te vier. Om ons te herinner dat ons Grondwet ’n saak is waarvoor mense gesterf het. Om wéér te bevestig dat ons dit nie sal prysgee ter wille van ’n individu (Zuma) se eng belange nie.”

Die Grondwet is nie volmaak nie, maar dit is nou al wat ons het om mee te werk, en dit gaan harde werk op talle fronte kos om die buigsaamheid in die grense daarvan so gestrek te kry dat dit tot voordeel van almal sal wees – ook die minderheidsgroepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

HEVW ·

Herman baie dankie. Baie briljant. Die moeite werd om deeglik te bestudeer. Ek kan net nie dink waarom Theuns se dat ons nog godsdiensvryheid het nie, want op skoolvlak is dit nie meer heeltemal die waarheid nie. Iets wat onderdruk word, word bedreig en is nie meer vry nie.

Leendert ·

Baie dankie Herman, veral ook vir die stukkie meedeel van wat destyds agter die skerms gebeur het. Dan kan mens ook sien hoekom mense vir sekeres, wat die skikking onderhandel het, soos Roelf en FW beskou as synde ons uitverkoop het, party noem hulle verraaiers. Ek het ook in ’94 ja gestem, met die verwagting soos aanvanklik belowe dat ons weer ‘n ‘inset’ sal kan lewer, of dan by wyse van ‘n opvolgreferendum, soos jy dit hier bo gestel het.

‘n Baie insiggewende stuk. My slotopmerking, na ek jou hier bo lees, kom ek weer onder die indruk daarvan dat hulle verkeerde mense by die onderhandelingstafel gehad het, jy kon gehelp het om ‘n verskil te gemaak het aan ons toekoms.

HEVW ·

Maroela ek dink jul het nou genoeg tyd gehad om my kommentaar te plaas.

Johanna Botha ·

SA sal werk soos dit is as die mense nie so korrup is steel plunder en alles verkrag nie en grootword met halfhartige skoling en geen morele waardes …goed wat alles by die huis geleer word aan kinders as hulle nog jonk is en waardes vasgele word …

AL ·

News 24 het ñ artikel geplaas dat mag wit mense ook vryheidsdag vier? Ek het dit nie gelees, want dalk is dit weer ñ klap na ons wittes. Ek glo dat as daar ñ manier is om hierdie rasgedrewe artikels te kan vasvat moet dit gedoen word.

Michael ·

Daar word baie gepraat oor vryheid maar die realiteit is net sekere Suid Afrikaners is vry , die intelegente persoon in Suid-Afrika weet die probleem is die dissipline stelsel wat bietjie vir bietjie afgebreek word deur of wetgewing of persepsies. Ek wil een voorbeeld gebruik die lyfstraf by skole hoekom kan ouers nie toestemming gee dat hulle kinders lyfstraf kry vir swak gedrag of swak dissipline by skole nie dit is waar dissipline en verantwoording vir jou dade geleer word

Johann ·

Met die raskonflik in die land soos dit is wat dit is? Wit onderwyser gee swart kind pak, of andersom?

Pieter ·

Mense moet wakker skrik, hulle wil dit nie so he nie, hulle wil die lanfd afbreek tot in gronde in so dat hulle kan oorbegin, maar sonder ons sal daar niks wees nie, die beste metode om die probleem op te los is om n nuwe volkstaats saam met die engelse te begin, dis die enigste uitweg vir ons mooie nasie. Ons as christene moet n besluit neem daaroor en dit doen want tyd is baie min

AL ·

Waar? Ons kan seker in die Wes-Kaap saam met bruin mense. Die NoordKaap is die yl bevolkste.

Catryn ·

Selfbeskikking (volle onafhanklike gebied) is eintlik ons enigste opsie en ook ons enigste pad van waarborge. Die huidige kommunistiese grondwet maak nie vir ons voorsiening nie en val ons heeltyds aan op alle vlakke wat ons menseregte onherroeplik skade berokken. Grond en bates kan slegs gewaarborg word as daar totaal en al afgestig word. Die 1994 Volkstaatraad het juis ‘n 37.5% mandaat wat ook gebiede ge-identifiseer het, hulle ondersoeke wys duidelik watter gebiede (in die ou ZAR en Vrystaat) ons geregtig is, natuurlik kan dit ook groter wees, maar dit was hulle aanbeveling aan parlement, dat ons ‘n provinsie verkry, met die oog op selfbeskikking – internasionale reg is duidelik dat elke volk, ook ons as Afrikaners en Boere, asook ander blankes wat hulle met ons assosieer, daarop geregtig is.

Waghond ·

Roelf en andere was liggewig onderhandellaars wat deur ‘n uitgeslape Ramaposa uitoorle is. Hoekom was Pik (as voorbeeld) nie deel van die NP se onderhandelingspan nie? Selfs die ANC kon nie glo dat die NP so maklik oor belangrike kwessies bes gegee het nie! Diegene wat belangstel kan gerus “Pik Botha en sy tyd” en “The last Afrikaner leaders” lees.

spiderman ·

Daar is iewers aangeteken of verslag gedoen dat ou pik spioen spioen gespeel het vir verskillende agentskappe – en daar was ‘n paar — iets soos 6

Vaalseun ·

Herman, had tog ‘n bietjie simpatie met die Orakel van Stellenbosch. Hy sit op Barrydale of Rosendal sy intreerede ter verdediging van sy toelating tot die Hemelse Poorte en skryf. Heerlik rustig agteroor in strandstoele langs Petrus, wag drie here uit sy verlede hom in met húlle lys ondersoekende vrae: Oud-Pres’e PW Botha en John Vorster, en Oom John se seun, Pieter, Oud-SR-Voorsitter van die US, ‘n tydgenoot van die Orakel. Ek verwag dat die Orakel sy ‘Die Tien Sleutels tot Volmaakte Linkse en Regse Politieke Leierskap’ aan hulle gaan bekendstel. Hulle gaan van hulle stoele afval!

Vaalseun ·

humor, wie is ons nou om oor só ‘n man hier op aarde die oordeel te vel?

Catryn ·

Herman, dankie –

Selfbeskikking (volle soewereiniteit) is ons enigste pad vorentoe wat binne die kommunistiese grondwet toegelaat word (artikel 235) sowel internasionale reg.
Met die bekragtiging van SA Grondwet, is dit ook so deur grondregters beslis dat daar aan internasionale vereistes voldoen moet word – en daar is ‘n paar vereistes om na te kom, dis nie moeilik nie. Daar is duisende wat daarin belangstel. Die VF het in 1994 ‘n mandaat verkry en ‘n politieke party is begin, onder oud Genl Constand Viljoen. Daar was ‘n 37.5% mandaat daarvoor. Die ander liberaal verligte blankes het NP en DP gestem. Die Volkstaatraad van 1994 het verskeie gebiede geidentifiseer, aanbevelings is gedoen vir ‘n provinsie vir ons in die gebiede met die oog op selfbeskikking – kan ‘n groot oplossing wees, dan is regering ontslae van ons en van sy diskrimerende B-BBEE wette. Dit moet uitgevoer word – en verder gevoer word, want daar bly reeds honderde duisende in die gebiede wat Volkstaatraad geidentifiseer het. Voldoen ook aan meeste internasionale vereistes. En nee dit is nie WK of NK nie.

Catryn ·

Selfregerende state sal nooit werk nie…. Wie sal in beheer wees van 50 staatjies? Federale bestuur, en weer eens sit ons met dieselfde situasie. Ons bly steeds minderheidstaat of twee teenoor die res….
Daar was Tuislande voor 1994, dit het almal Trustgebiede geword na 1994… Hulle was 10. Nou is hulle 11, want Khoisan het 6 groot gebiede in Noord-Kaap en Wes-Kaap / asook Oos-Kaap gekry, wat Trustgebiede vorm. Hulle het ook, nes die ander volke CPA’s gekry, soos o.a. groot aandele in die Kalahari en ander parke wat hulle uit Sanpark verdien. Ndebele’s verkry ook CPA’s uit die Krugerwildtuin uit.
Trustgebiede is so, elkeen het reeds hul eie konings, al sedert 1854, wat hulle dit kies, en het dit ook in Tuislande gehad. Shepstone beleid 1854 het ongelukkig dit as “gemeenskapsgronde” beskou, en vandag sukkel hulle om Titelaktes te bekom. Daarom sal daar altyd haat aangewakker word omdat hulle nie elkeen Titelaktes het nie. Daar is wel buite die gebiede waar daar wel gekoop word.
Daar is GEEN waarborge vir ons in Selfregerende state nie, grond en bates kan enige tyd genasionaliseer word, ook selfregering/trustgebiede is onderworpe aan Grondwet en Nasionale wette van die land.

Slegs volle soewereiniteit kan ons waarborge verskaf, ons eie onafhanklike gebied, eie regering, ekononie, veiligheid, weermag, polisie, ens.

Catryn ·

Artikel 235 moet mens saamlees met die bekragtiging van die Grondwet. Regters verwys na internasionale reg, dat die vereistes rakende selfbeskikking nagekom moet word. Dit verwys ook dat die huidige moederregering, geen magte het oor ‘n volk wat selfbeskikking verlang nie.

Neem kennis van die aanbevelings wat die 1994 Volkstaatraad gemaak het, dat ons wel regte het, dat daar reeds gebiede is, en dit is positief, daar is 2 groot gebiede oorvleuelend in Gauteng, Noordwes Mpumalanga, sowel 4 ander in Limpopo Vrystaat gebiede wat beslis voorheen deel was van die twee Boere republieke, wat reeds onafhanklikheid geniet het, en waar ons reeds vir geslagte woonagtig is, besighede bedryf. Dit is ‘n internasionale reg daartoe. Daar is REEDS gevestigde en redelik goeie infrastruktuur, skole, hospitale, opvoedkundige geleenthede, en as ons dit beter kan instand hou en opbou, is dit beter as om heeltyd teen B-BBEE vas te kyk of waar ons taal vernietig word, waar ons menseregte daagliks geskend word.

Catryn ·

Soos met Konfederale stelsels en federale stelsels, kan dit maklik gebeur dat B-BBEE en “nasionalisering” van bates/grond maklik gemaak word. Met ‘n onafhanklike staat, soos Switzerland of Botswana, is dit onmoontlik. Ons kan selfs binne in ons gebiede, soos in Switzerland, verskeie “kantons” hê.
Al ons trustgebiede (vorige tuislande) bestaan nie net uit een soliede gebied nie. Ingonyama Trust, (Ingonyama Trustwet is voor 1994 deur FW de klerk geteken), beslaan 9 aparte gebiede, 9 verskillende “chiefdoms” binne die slegs zulu “monargie” – net zulu’s mag voordeel trek uit die CPA’s spesifiek vir die zulu volkere. Khoisan het hul eie, so ook die Tswana, Ndebele het bv. 3, maar daar bly ook “Venda” en dis hoekom daar so baie baklei word, hulle is reg langs mekaar, en een maak ‘n minderheid uit (Phalaborwa), daar is ook “strydighede” in verskillende “tradisionele leiers” aan die gang. Bafokeng was dit presies dieselfde en is daar verskillende gebiede, kyk die Tuislandkaarte, baie liberales dink dit bestaan nie meer nie, dit bestaan 100% onder Trustgebiede. Parlement besluit feitlik daagliks oor hierdie aangeleentheid. Pedi het ook hul eie gebied en CPA. Miljoene swartes bly STEEDS apart in hul eie Trustgebiede.

Vaalseun ·

Baie dankie vir jou uiteensettings, Catryn. Is daar ‘n dokument wat dit alles vir ons verduidelil?

Catryn ·

Ja, Vaalseun, daar is ‘n Facebook groep waar ek al hierdie dokumentasie geplaas het. Die hooffoto is ‘n kaart van die 1994 se Volkstaatraad. Facebook groep se naam is
Selfbeskikking/Self determination .
Ek verwys baie na al die Trustgebiede (11 verskillende volke) en ook hulle het geen waarborge nie.
Ingonyama Trust is slegs vir die Zoeloe volk, die Khoisan, Pedi, Ndebele almal het hul eie wetgewing en CPA’s.

John ·

Kon… sou… moes… wou… ? Te laat. Waar op deeske aarde beloof enige grondwet vryheid aan inwoner?

Vaalseun ·

John, gelukkig gee die grondwet ons elkeen regte. Ongelukkig sê die grondwet nie wie waarborg dat elkeen se regte nie aangetas word nie. So, dit laat die staat toe om my regte te in te kort en sodoende iemand anders van sy keuse meer as regte te gee, naamlik voorkeur en voorrang.

Stephan de S ·

Insiggewende artikel met net soveel uitstekende kommentare. Dankie vir elkeen se bydraes ook die humoriste.

Catryn ·

Let wel: Selfbeskikking in ‘n gebied, sluit ook ander minderhede in… geen land in die wêreld waarvan ek bewus is, het nie ook minderhede nie. Ongelukkig word meeste minderhede onderdruk, hul menseregte geskend, soos ons sin: B-BBEE waar daar meer as 100 wetgewing is teen ons. Hoe kan ons vorentoe beweeg as ons uit die ekonomie geban is, omdat daar kwansuis in die verlede “bevoordeel” was. Gaan doen navorsing op Selfbeskikking, of gaan lees geskiedkundiges hoe daar deur die vorige regering, nywerhede geskep was, werksgeleenthede, wat Trustgebiede vandag steeds gebruik, selfs skole gebou. Verwoerd het skole in 1955 ge-erf, nadat buiteland en kerke onttrek het. Daar was geriewe. Selfs plaaseienaars het skole vir hul werkers gebou. Selfbeskikking/Self Determination.

Catryn ·

Oor grond en bates – lees die “aanhef” van die grondwet dat ons almal ‘n reg het, maar ons Afrikaner en Boere (blankes) se regte word hoegenaamd nie beskerm nie. Vergelyk dit met immigrante en hulle regte, waar hulle bly en werk, maar ons mag weens B-BBEE nie deelneem nie. Daagliks kla meeste politieke partye saam die anc daaroor. GEEN bates of grond of enige ander eiendom word in die Grondwet beskerm nie. Nie eers Trustgebiede se grond word beskerm nie en kan ook genasionaliseer word. (kommunisme)

Inteendeel as mens die Grondwet gaan lees met die Bekragtiging van die Grondwet spreek dit boekdele.

Wat gaan gebeur as al die kleiner sakelui op kleiner dorpies aangeval, geplunder en afgebrand word, soos wat in Cologny en Lichtenburg gebeur het. Watter versekering het enige sakelui dat hulle besighede kan voortbestaan nadat ‘n spul “terroriste en plunderaars” daardeur is en alles afgebrand het. Doen ons dit met hulle huise en besighede – wat as die prentjie omgekeer word? Misdaad is ‘n groot ekstra inkomste vir regering wat herhaaldelik 14% VAT op alles inpalm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.