So kort op die hakke van die G20-beraad wat in Hamburg, Duitsland, plaasgevind het, kom die nuus dat Isis einde ten laaste uit Mosoel in Irak verdryf is. Hamburg is met heelwat betogerspuin agtergelaat, en Mosoel, veral die westelike gedeelte, is grootliks in puin gelaat.
In Hamburg het inwoners van woonbuurte wat nie deur die betogings geraak is nie, gou opgeruk met skoonmaakmiddels om hul stadsgenote vrywillig te help om die stad weer skoon te maak.
Mosoel, Irak se tweede grootste stad, se skade kan egter nie met besems, grawe en kruiwaens opgeruim word nie. Die Irakse regering het aangedui dat fondse vir die finansiering van die heropbou deur die sentrale staatskas voorsien sal word, maar die lae olieprys en bandelose korrupsie in die regering maak dat die begroting boomskraap is. (Kyk hier na foto’s van die verwoesting.)
Mosoel het vir sowat drie jaar lank as die hoofstad gedien vir dié deel van Isis se kalifaat wat in Irak val. Die “nasionale hoofstad” is Rakka in Sirië, en dié is self op die punt om deur Koerdiese vegters wat teen Isis sowel as die Assad-regime veg, oorgeneem te word.
Die koste aan lewensverlies, veral van burgerlikes en regeringsmagte, in dié offensief wat tot die herowering van Mosoel gelei het, moet nog bereken word, maar die aanduidings is dat dit enorm sal wees. Onberekenbare skade is ook aan antieke geboue aangerig wat deur Isis die lug in geblaas is. In die westelike deel van Mosoel is na berig word sowat 80 % van die stad vernietig.
Mosoel het tradisioneel ’n groot Christenbevolking gehuisves, en die goeie gesindheid tussen Christen- en Mosleminwoners was vir eeue lank bekend. Dit is egter te betwyfel of veel van die Christeninwoners wat aan die oprukkende Isis kon ontkom het, sou waag om terug te keer.
Voorts is nie alle nedersettings reeds van Isis bevry nie, en van hierdie Isis-beheerde gebiede bied gunstige wegspringplekke vir aanvalle op plekke soos Tikrit en Mosoel.
Daar is ’n magdom redes waarom die herowering van Mosoel nie outomaties tot vrede gaan lei nie.
Met die opbreek van die Ottomaanse ryk het onverskillige leiers grense getrek, met min aandag aan faktore wat heterogeniteit in die betrokke lande kenmerk. So het die Koerde, ’n volk van meer as 40 miljoen mense, en verspreid woonagtig oor Turkye, Sirië, Irak en Iran, nie ’n eie staat kry nie. Sirië en Irak het albei redelike groot Assiriese Christenbevolkings gekry, met Sirië wat danksy nog ’n verskeidenheid Christengroepe, ’n redelike groot (sowat 15 %) Christenbevolking gehuisves het.
Sirië word steeds, en Irak is tot die val van Saddam, deur verskillende faksies van die Baath-party regeer. Die twee faksies was in stryd met mekaar.
Sirië het ’n grootliks Soenni-meerderheid, maar word deur ’n Sjiïtiese minderheid regeer. Trouens, Assad se regime is gevestig in die Alawiete, ’n Sjiïtiese sekte. Irak, onder Saddam, is deur die Soenniete regeer, wat ’n minderheid teenoor die Sjiïete uitgemaak het.
Ná die val van Saddam het die Sjiïete die Irakse bewind oorgeneem. Dit het egter saamgeval met die opkoms van die radikale Salafitiese Islam, ’n “vertakking” van die Soenni’s. Dit het onder meer gemanifesteer in Al Kaïda, Boko Haram, Al-Sjabaab en verskeie ander wat nou in plekke soos Tsjetsjnië en die Filippyne hul wreedhede voortsit.
Isis het reeds getoon dat hy aanvalle in feitlik elke land van die wêreld kan uitvoer, en veral Brittanje en Frankryk het erg onder aanvalle deurgeloop.
Die verlies van Mosoel kan heel maklik tot weerwraakaanvalle in ander lande lei.
Miskien bietjie “Trivial info”.
Hedendaagse Mosoel en die Bybel se Nineve van Jona en die vis faam is een en dieselfde plek
Baie dankie vir die inligting.
Dankie Pieter, interessant om te weet.
Watter groep waar die minste of die meeste is/was, is subjektiewe inligting afhangende van wie wat beoog. Wat wel waar is, is dat Christene onder Assad grootliks van vervolging gevrywaar was, maar die opposisie staan gevoelloos en verskeie antieke Christen-vestings is reeds verwoes. Dis beslis nie die laaste woord oor IS in Sirie nie. Hulle is heel moontlik reeds ingebed in Libanon en die Palestynse gebied waarvandaan die laaste vesting van Assad en Israel bygedam kan word. Verwag erger as beter!