Nuuskommentaar: ’n Vis vrot van sy kop af

Zuma antwoord Woensdag vrae in die parlement. Foto: Twitter

Zuma antwoord Woensdag vrae in die parlement. Foto: Twitter

’n Vis vrot van sy kop af. Hierdie uitdrukking is so antiek, niemand weet met sekerheid in watter wêrelddeel dit ontstaan het nie. Die Grieke, Russe en die Chinese maak byvoorbeeld almal daarop aanspraak. Die Engelse kan waarskynlik pa staan vir hul eie weergawe – ’n vis stink van sy kop af. Die bedoeling bly egter dieselfde, en niemand kan daaroor twyfel nie.

Maar is Suid-Afrika nou ’n vis?

Die aandag was gister weer op pres. Jacob Zuma. Eers het ’n omstrede stelling oor tienerswangerskap die nuus gehaal, en voorts het sy houding op die kritiek daarop ontstel.

Hierna het die aandag na die sirkus, ekskuus, parlement, verskuif. Eers is ’n joernalis buite die parlement deur die nou reeds berugte “wit hemde” hardhandig hanteer en gedwing om die foto’s van sy kamera te verwyder. Toe is die speaker, Baleka Mbete, ’n uur lank gebraai in die aanloop tot die president se antwoordsessie op ses vrae. In die uur is oor en weer lesse uitgedeel oor parlementêre reëls, alles skynbaar in ’n poging om te verseker dat die president behoorlik verantwoording aan die parlement doen – en natuurlik van die ander kant ’n walgooiery om die president van die hoek af te kry.

En toe was dit die president se beurt …

Omtrent al wat ’n mens na afloop daarvan kan sê, is: Zuma bly Zuma. Vol selfvertroue het hy hom as die kop gevestig. Hy het selfs ’n rits versoeke van die speaker om te gaan sit sodat ’n lid op ’n punt van orde ’n woord kan inkry, geïgnoreer, en daarna verklaar hy het die speaker nie gehoor nie.

Dit was gister, toegegee, leeuwêreld vir die speaker, maar sy het self van die leeuhokke oopgemaak. Haar stelling dat Zuma “niemand se gelyke is nie” (en dus op spesiale behandeling geregtig is soos om te kan wegkom met die verbreking van reëls) slaan die demokrasie vir ’n ses. Sy het lomp probeer verduidelik niemand is ook Shenge (Buthelezi) se gelyke nie.

By geleentheid wou sy ook nie beslis nie, omdat sy die bewoording glo nie gehoor het nie. Sy sal nou eers die Hansard raadpleeg voordat sy ’n beslissing gee.

Een LP was baie beswaard omdat ’n ander hom glo “jou g*t, man” (nogal in Afrikaans) toegesnou het. Dis ontken.

Vir diegene wat gedink (en gehoop het) dat die president se loopbaan dalk kortgeknip kan word oor die regsproses deur die DA om vervolging teen Zuma heringestel te kry (waarvan die sogenaamde spioenasiebande deel uitmaak), is daar slegte nuus. Volgens Zuma is daar nou geen ondersoek teen hom nie, net gesprekke oor gesprekke.

Terwyl die president weer kort-kort heerlik gelag het, het Suid-Afrikaners steeds nie veel wys geword oor Nkandla nie, afgesien daarvan dat die minister van polisie (nog) moet bepaal of die president enigsins vir onregmatige verryking moet opdok, en indien wel, hoeveel.

Na berig word, het die presidensie laat gisteraand aangekondig dat Zuma vanjaar ’n vyfde keer vrae in die parlement sal beantwoord. Die bykomende geleentheid was bedoel dat onafgehandelde vrae van verlede Augustus se chaotiese sessie afgehandel word. Die bykomende geleentheid sal egter nou eers op 3 November geskied.

Kan ’n mens uit die antwoorde aflei dat die regering nou met die nodige erns van die land se knellendste probleme soos dienslewering op munisipale vlak gaan aanspreek? Ongelukkig verskil die antwoorde in inhoud en styl nie genoeg van talle soortgelyke ondernemings waarvan dadels gekom het nie.

Plek-plek is hy deur die speaker gehelp om hom soos ’n paling uit vrae te wikkel, soos sy seun wat nou ’n stywe tender losgeslaan het.

Bitter min het gebeur om die publiek – die kiesers – se vertroue in hul verteenwoordigende liggaam, die parlement, te herstel. Die ANC se meerderheidsoptrede het ewe min laat blyk dat onregte en euwels aangespreek sal word.

Daar was klein, subtiele tekens van beterskap, soos die skynbare inskiklikheid van die president om sy verantwoordbaarheid aan die parlement behoorlik uit te leef. Die positiewe tekens sal egter aan die meule van tyd onderwerp moet word voordat ’n mens daaroor opgewonde raak.

Al wat waarskynlik gebeur het, is dat polarisasie verdiep het. Nog meer ontnugterde kiesers sal waarskynlik hul gewig by burgerlike instellings inwerp wat deur allerlei optredes, ook hofoptredes, verseker dat die grondwetlike regte nie verder weggevreet word nie. Want die vreet-en-praathuis vol “honourables” het nog heelwat werk om te doen alvorens vertroue herstel sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henry ·

Stem saam oor die vrot kop ding.
Moet egter noem dat hierdie ‘vis’ meer ooreenkomste met ‘n baber toon wat in vlak modderwater aan’t spartel is.

Charles ·

Sleg mens daai maar benoude katte maak benoude spronge my ouers altyd gese van lekker lag kom lekke huil

Jean ·

You mr President are an embarrasment for even the banana republick…en ag blok dit maar weer modereeders….

Jimmy Grundlingh ·

Julle kan van hierdie kêrel sê net wat julle wil maar dom is hy beslis nie. Hy het die vloer gevee met almal wat hom probeer aanvat het. Die DA en die VF en die EFF en die UDM. Niemand kon iets feitelik teen hom laat klou nie. Geen wonder nie hy lag almal uit – hy is goed voorbereid en dink baie vinniger as hulle op sy voete.

Dirk ·

Hierdie artikel word vooraf gegaan met ‘n letterkundige les. Dan word die Afrika kultuur aangeval. Dit is nou nie UBUNTU nie. Daar na was daar ‘n kritiek op die ekonomiese rewolisie wat tans in die land gevoer word. Kan nie gestuit word op die manier nie.

Daar is eintlik weinig verskil tussen die geval en die Voster/Rudie/Mulder skandaal.

Die enigste verskil tussen die twee voorvalle was dat die drie skurke bedank het. Die kiesers het en sal altyd dieselfde bobbejane volg. Toe, nou en vir altyd. Die ape in die verhaal bly die kieser. Kieser lojaliteit was nie deur die Voster/Rudie/Mulder skandaal geraak en dit sal nog minder deur die Nkandla-skandaal geraak word.

Die volgende oor ‘n grondwet:
Constitutional illusions are what we call a political error when people believe in the existence of a normal, juridical, orderly and legalised—in short, “constitutional”—system, although it does not really exist. – Lenin

Plato weer: FROM REPUBLIC
I suppose the makers of the laws are the weaker sort of men, and the more numerous.

None are so hopelessly enslaved, as those who falsely believe they are free. The truth has been kept from the depth of their minds by masters who rule them with lies. They feed them on falsehoods till wrong looks like right in their eyes.
-Johann von Goethe

Herman kom ons raak eerder meer ernstig oor die gemors wat heers.

Henrietta Klaasing ·

Gun my om ‘n paar woorde by hierdie verleentheid te spreek ( soos Oom Oubaas gereeld sê). Zuma en Mbete ly albei aan dieselfde siekte: “Foot-in-Mouth”-sindroom.

*foot in mouth: when one accidentally says something offensive or stupid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.