Nuuskommentaar: Noord-Korea neem verhoog in wêreldpolitiek in

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Pres. Donald Trump se bombardement van ’n Siriese lughawe ná ’n gifgas-aanval op burgerlikes het oor die wêreld weergalm, maar in Noord-Korea het dit ’n paranoïese reaksie tot gevolg wat die moontlikheid van konflik in die Verre Ooste nader aan breekpunt bring.

Wat was eerste? Die hoender of die eier?

Is die wêreldspanning rondom Noord-Korea die gevolg van Noord-Korea se dreigende houding in die wêreld met veral ’n obsessie teen die VSA, of van veral pres. Donald Trump se jongste reaksie daarop?

En hoewel Trump al verskeie uitlatings oor Noord-Korea gemaak het, kom die boodskap dat iets “finaals” aan die Noord-Koreaanse situasie gedoen gaan word, uit Sirië waar Trump ’n lughawe laat bombardeer het van waar die Siriese lugmag glo gifgasaanvalle op ’n dorp wat deur rebelle beset word, laat uitvoer het.

Die situasie is ongelooflik kompleks. Noord-Korea sowel as die VSA word nou regeer deur presidente wat nie juis die beeld van rasionaliteit uitstraal nie.

Tevredenheid met Trump se vertoning as president het sedert hy die bewind aanvaar het, flink in meningspeilings gedaal. Dit het pas aldus Rasmussen weer skerp gestyg en staan nou op 50%. Pew sowel as Gallup wys daarop dat Trump se steun vir sy vertoning onder die Republikeine op ongeveer 90% staan, en onder die Demokrate op sowat 10%.

Dit sal interessant wees om soortgelyke data onder mense buite die VSA oor Trump te kry. Trump het groot steun gekry onder mense wat niks slegs van die Russiese president, Wladimir Poetin, wil hoor nie, en dit het baie tot die onverdraagsaamheid teenoor kritiek of bedenkinge teenoor Trump bygedra. In hierdie kringe was daar ’n groot verwagting van spoedige noue bande tussen Rusland en die VSA, verwagtinge wat gou geknou is oor ’n rits verwikkelinge waaronder ’n algemene Amerikaanse opvatting dat Rusland ’n groter bedreiging vir die VSA inhou as China. Bewerings oor Russiese inmenging in die VSA se verkiesingsproses het die vertroue ook geskaad.

’n Groot keerpunt bly egter Trump se besluit om die Siriese lughawe te gaan bombardeer. Uit die berigte blyk dit dat Trump weinig strategiese oorweging aan die dag gelê het, maar byna instinktief die gifgasaanvalle (op onder andere kinders) gaan straf het.

’n Nederlandse kommentator het ’n dekade gelede geskryf dat Nederland se politiek heeltemal te skisofrenies is vir ’n buitelander om te verstaan. Iemand wat meen hy verstaan die binnewerking van politiek en konflik in Sirië praat gewoon bog. In so ’n etniese en godsdienstig heterogene land soos Sirië, wat boonop deur ’n kliek van ’n minderheid in ’n minderheid regeer word, is elke aspek van konflik iets met sy eie stel diep, diep wortels, en die verskuiwingslyne loop boonop ook na die buurlande. Boonop is Turkye erg vyandig teenoor die Koerde in Sirië (en elders), wat weer deur die geallieerde magte in Sirië en Irak as die “goeie” voetsoldate ingespan word.

Pres. Basjar al-Assad se bewind het nuwe lewe gekry toe Rusland as bondgenoot tot die oorlog in die land toegetree het. Die geallieerdes het Rusland erg verkwalik dat dit naas sy aanvalle op Isis (ook bekend as IS) en Al-Kaïda-verwante organisasies, ook aanvalle van stapel gestuur het op rebelle wat demokratiese doelwitte nastreef. Waar die geallieerdes Al-Assad as deel van die probleem beskou het, het Russiese toetrede ’n situasie begin afdwing waar Al-Assad deel van die oplossing sou wees. Al-Assad, gekoester deur die Russe, het weer begin optree asof hy die enigste oplossing is. Vredespogings het lomp ooreenkomste opgelewer, en die handhawing daarvan bly broos.

En toe kom die gifgasaanval (nie die eerste nie, en dit sou sekerlik ook nie die laaste wees nie) en die VSA slaan toe. Rusland is verstaanbaar erg ontsteld.

Die bomontploffings op die lughawe het egter oor die hele wêreld geëggo.

Noord-Korea het oor die jare in sy relatiewe isolasie net een soort reaksie op gebeure wat hy as bedreigend vir sy eie veiligheid ontwikkel, naamlik om te dreig. En net om die daad by die woord te voeg, sal ’n missiel gelanseer word, of in besondere gevalle, ’n kernbom ondergronds ontplof laat word.

Noord-Korea se dreigemente en optredes word deur ’n groot deel van die wêreld as erg provokatief en gevaarlik beskou. Selfs China, wat Noord-Korea se veiligheid waarborg, wend verskeie vreedsame metodes aan om Noord-Korea tot bedaring te bring.

Die VSA se ongebreidelde dreigemente die afgelope weke laat die ou China egter tande wys. Hieruit is dit duidelik dat eensydige militêre optrede teen Noord-Korea deur die VSA, ongeag die slaankrag van so ’n aanval, geen eenvoudige saak is nie.

Donald Trump

President Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Dit plaas die VSA in ’n redelike dilemma. Noord-Korea dreig al ’n geruime tyd om langafstandmissiele te ontwikkel waarmee die VSA getref kan word, en om daardie missiele met kernplofkoppe toe te rus. Die een of ander tyd gaan Noord-Korea tegnologies hierin slaag. Intussen bly Japan en Suid-Korea die kwesbaarste met Seoel, die hoofstad van Suid-Korea met ’n bevolking van 10 miljoen mense, wat minder as 60 kilometer van die gedemilitariseerde sone is. Noord-Korea het al verskeie kere gedreig: Sou die land aangeval word, omskep hy Seoel in ’n see van vuur.

Noord-Korea se dreigemente kan nie maar net ligtelik opgeneem word nie. Die land beskik oor ’n weermag van ongeveer een miljoen man. Parades toon talle tenks en missiele, asook ander wapentuig. Die verwagting is dat baie van dit wat nodig is om aanvalle op buurlande uit te voer, waaronder kernwapens, in tonnels diep onder die aarde geberg word om dit teen bomaanvalle te beskerm.

’n Strategiese realiteit is dat Japan erg gevoelig is oor die moontlikheid dat ’n missiel wat vir die VSA of Amerikaanse belange bestem is, en wat bo-oor Japan afgevuur word, per ongeluk in Japan kan val. Veral die moontlikheid van ’n kernplofkop staan Japan nie aan nie. Japan dreig om enige missiel wat deur sy lugruim trek af te skiet.

Terwyl dit so is dat Trump en sy administrasie effe stadiger oor die klippe moet beweeg voor Noord-Koreaanse dreigpraatjies in gelyke munt terugbetaal word, is dit ook so dat Noord-Korea uiters onverantwoordelik was om ’n splinternuwe Amerikaanse president met oorlogpraatjies te gaan dreig.

Maar sal Noord-Korea se huidige leierskap enigiets anders as hierdie “tradisie” ken?

Objektief is ’n oorlog op die duur onafwendbaar, tensy die Kim-dinastie met sy ystergreep op die land op ’n ander manier tot ’n val gebring kan word, en ’n meer gematigde leierskap, wat al onder meer gesien het hoe ’n vermoedelik dislojale persoon met ’n lugafweerkanon tereggestel is, as’t ware uit die gate kan kruip.

Daar is talle aanduidings dat Trump se aanvanklike storm-en-drangfase afgeplat het, en China is byvoorbeeld hoog in sy skik met nuwe Trump-standpunte, soos die erkenning van slegs een China. Die teenoorgestelde geld egter in Noord-Korea, en op ’n dag gaan ’n irrasionele leier ’n noodlottige besluit neem wat ’n bloedbad van ongekende proporsies kan oplewer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

4 Kommentare

Nico K ·

Ek glo dat die VSA nie hul kernwapens na die einde van die koue oorlog tot niet gemaak het nie. En hulle was in daai dae gereed om Rusland se kernmissiele met anti kernmissiele buite die aarde se atmosfeer uit te wis. (Ek dink dit was in Reagan se dae die “Star Wars” projek genoem. )

Loeis ·

Om Herman se verwysing na China se “een China” beleid hierbo in persketief te plaas:
aan die einde van die Chinese burgeroorlog het die regering van China na Taiwan (‘n klomp eilande) gevlug. Taiwan se grondwet verwys vandag nog na Taiwan as die Republiek van China. China erken nie Taiwan se onafhanklikheid nie, en het al gedreig om die eilande aan te val.

Die VSA het lank ‘n graad van beskerming aan Taiwan gebied, en Trump se beleid is dus ‘n afwyking hiervan. Dit is ironies, want die VSA roem hom op sy demokrasie, en Taiwan is ‘n baie demokratiese land.

Trump se ommeswaai in buitelandse beleid laat baie vrae. Moet op presidente nie vertrou nie…

Peet J ·

Noord-Korea mag wel oor ‘n sterk infanterie met militêre mag beskik maar suksesvolle oorlogvoering vereis intellektuele optrede wat sekerlik nie by die Amerikaners ontbreek nie. Noord -Korea moet hom liefs toespits daarop om sy samewerking aan Amerika te voorsien.

John ·

Die VSA se vergrype met atoomwapens in 1945 laat die wereld nog sidder en nou het die ergste gebeur, sulke wapens in die verkeerde hande… en Japan trek alweer aan die kortste end. Die VSA het vreeslike slaankrag maar min geduld met grootbek-manhaftiges soos hyself. Foute, swak berekeninge en die opwel van grootheidswane kan oorkook en vuurspuwende berge na niks laat lyk en selfs ons hier suid van alles se lewens vir altyd herrangskik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.