Nuuskommentaar: Rassisme: Kruis wen ek, munt verloor jy

demokrasie

Argieffoto.

Die Solidariteit Beweging neem dapper stappe om die regering se ongebreidelde rassisme, asook onewehandigheid met optrede teen rassisme en haatspraak, na verskillende internasionale forums te neem. Dit is ’n gedugte en komplekse projek, en verdien elke regdenkende Suid-Afrikaner se steun – in landsbelang.

’n Ou, herhalende tema in flieks, waar onder Taxi, Taxi, is van ’n effens slimmer karakter wat sy effens minder slimmer maat slag om slag ore aansit met die opskiet van ’n munt: “Kruis wen ek, munt verloor jy.”

Dit laat ’n mens dink aan ’n deeltjie van ’n gedig van wyle Adam Small: “Die Here het gaskommel, en die dice het verkeerd geval vi’ ons.” Hierby wil ’n mens voeg – aan die hand van die ANC het die “dice” weer vir die meeste bruin mense verkeerd geval. Dink maar aan Solidariteit se DKD-saak wat dié feit tot in die konstitusionele hof geveg het … en gewen het. Maar die fynskrif is dat dit nou maar aanvaarbaar is om teen wit mense op grond van hul velkleur te diskrimineer.

En, so lyk dit, wit mense word nie net die slagoffer van formele ras-diskriminerende wetgewing nie: Wit word sommer ook die slagoffer van ongebreidelde rassistiese en selfs haatspraak-uitsprake, en deur die onewehandige optrede deur onder meer die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), verkry dit eintlik pseudo-formele status. Veral as dit by senior politici, soos die president, kom, is wit mense vrybuit vir rassepraatjies wat die spanning die hoogte in jaag.

Solidariteit se Navorsingsinstituut het dié onewehandigheid in ’n verslag behoorlik bewys, en onder meer die MRK daarmee gekonfronteer – met ’n woordvoerder van die MRK wat dit probeer goedpraat het.

TLU-SA het pas met ’n vernuftige stukkie voetwerk vorendag gekom as teenvoeter vir aanhoudende praatjies dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel (en dat die Grondwet daarom sodanig gewysig moet word dat grond sonder kompensasie onteien kan word). TLU-SA het nou ’n prys van R100 000 uitgeloof vir enigeen wat met bewyse vorendag kan kom dat enige grond inderdaad gesteel is. Hopelik gaan die regering kennis neem, en end kry met die polariserende praatjies.

Die Solidariteit Beweging en sy filiale, veral AfriForum, sit die voet nou behoorlik neer. Verskeie sportkodes word in terme van arbeidswetgewing hof toe gesleep oor hul kwotabeleid. Die organisasies word ook internasionaal verkla, enersyds weens regeringsinmenging in sport wat deur die meeste internasionale sportbeheerliggame se grondwette verbied word, asook rassisme, wat eweneens verbied word.

In die Stop Rassisme-week word verskeie internasionale organisasies, onder meer die internasionale arbeidsorganisasie, die VN se menseregtekommissie en die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie opgesoek. Alle moontlike invalshoeke word gebruik om internasionale sanksie (nie sanksies nie) teen regeringsgeleide rassisme te verkry.

Anders as in die apartheidsjare toe Suid-Afrika ’n enorme rolspeler in die internasionale nuus was – en dikwels om die verkeerde redes – het Suid-Afrika sedert 1994 geleidelik uit die internasionale oog gegly. Periodieke nuusdekking was wel negatief, maar Suid-Afrika is nou net nóg ’n Afrika-land en byna irrelevant. Waar Suid-Afrika se vyande voor 1994 maklik met selfs ’n totale bogstorie ’n sneeubaleffek kon bewerkstellig, kos dit nou baie harde werk om die internasionale gewete wakker te maak.

Maar dit durf ook nie agterweë bly nie en Solidariteit en AfriForum verdien groot lof om hierdie komplekse prosesse met moeilik bereikbare uitkomste aan te durf.

Indien die veldtog onsuksesvol sou wees, is dit inderdaad ’n geval dat die wit mense voor ongeveer 1990 internasionaal verguis is vir ’n beleid, en ná 1994 deur die toepassing van basies dieselfde beleid wéér verguis word: Kruis verloor ek, munt wen jy.

’n Ekonomie wat ontwerp is om verloorders op te lewer, veral om die bedrewe deel wat gewoonlik die ekonomie laat groei te laat verloor – en blywend sonder sonsondergang en bloot op grond van ras, te laat verloor – gaan ineenstort. Die ineenstorting kan al hoe skouspelagtiger word namate die proses van statutêre verskraling tirannieke eienskappe kry, soos onteiening sonder vergoeding. Vra maar vir Mugabe hoe lyk ’n kruiwa vol miljoendollarnote waarmee jy kwalik ’n brood en ʼn Coke kan aanskaf.

Die ideale stelsel lewer net wenners op, waarvan sommiges, wat die enjinkamer beheer, noodwendig groter wenners is. Daardie enjinkamer word egter te maklik vir die gans wat die goue eiers lê aangesien, en pogings aangewend om die gans te slag. Voeg hierby om splyting deur staatskaping te stimuleer waar daardie afgesplyte deel in staat gestel word om fabelagtige rykdomme te versamel – maar die ekonomie in die proses van groeikapitaal te stroop.

’n Rassistiese, kleptokratiese en kannibalistiese ekonomie gaan bly noustrop trek en die kreeftegang gaan totdat dit inplof.

Of daar kan eerder gefokus word op ’n stelsel wat optimaal funksioneer en uiteindelik net wenners oplewer.

En hieraan werk die Solidariteit Beweging tuis, formeel en informeel, saam met baie nieregeringsorganisasies en burgerlike instellings, asook opposisiepartye. Solidariteit gee egter met sy internasionale veldtogte ’n nuwe dimensie daaraan en verdien almal se steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik ·

My groot vrees is, het ons ‘n plan B? Ek het groot vrees dat ons soos die laaste klomp jode in Duitsland koppig bly glo dinge sal goed uitdraai, terwyl die doodsvonnis al geteken is. Wek Afriforum, solidariteit en so aan in die agtergrond om die voortbestaan van ons mense te verseker? Of gaan ons wanneer die pot oorkook soos die slagoffers in Rwanda word?

Dit word bitter duidelik dat ons nie welkom in Suid Afrika is nie. Is iemanad in die agtergrond besig om te werk daaraan om Vlugteling status vir die Afrikaner te probeer reël?

Hermn Toerien ·

Hallo Hendrik. Gaan soek gerus literatuur oor die Solidariteitbeweging se Plan B op. Dis omvattend en sluit alle arms soos Helpende Hand en AfriForum in, met Akademia as ‘n deel van die plan wat besig is om te ontvou.

al ·

Ons ervaar nog nie so erg vreemdelinghaat soos immigrante van res van Afrika nie.
Op hierdie stadium het is ons mede landgenote meer verdraagsaam teenoor ons en word ons net op ñ rassistiese wyse hanteer ens.
Ek dink die immigrante moet erg negatief staan veral omdat al hul besittings waarvoor hul gewerk het, afgebrand, geplunder word ens.

Woedend ·

En wraggies, het iemand nou ‘n hele artikel gaan skryf op news 24, oor witmense wat rasisties is, teenoor mense van kleur. En nie in een vd voorbeelde wat genoem word, is iets rasisties, gesê nie.
Maak my woedend. Ek is bly dat iemand, opstaan vir ons regte.
Ons het lank genoeg stilgebly.

al ·

Als begin by die topbestuur van die land. Dis waarom dit uiters belangrik is dat ñ president met ñ gemagtigde uitkyk ñ land lei. Onder Zuma se bestuur en leiding, stort die ekonomie in duie, geen tugstappe word toegepas op invloedryke staatsamptenare nie en Zuma stook self die rasse vuur aan, terwyl hy die gans wat die goue eiers lê, se nek omdraai.
Net soos wat Codessa (opstel van die grondwet) nie kon voorsien dat ñ totaal onbevoegde president die land in sy maai in regeer nie, netso kon die ANC nie voorsien dat hul met ñ tameletjie sit deur hul president van die ANC en president van die land hul in ñ moeilike posisie plaas nie. Tog hoop hul om vas te klou aan hom, dat dit ñ verenigde front sal voorhou.
Dankie Afriforum en Solidariteit. Jul het ongelooflike deursettingsvermoë en stamina deur ñ Mount Everest uit te klim.

al ·

Ek wonder wat wil hul bewys deur ant-wit te speel? Dit vererger net die situasie – selfs die liberale sluimerende anti-wit oë begin stadig oopgaan.
Terwyl die ‘verkrampte’ Afrikaners lankal op die horison gesien het wat gaan kom en hul kritiek ten sterkste afgekeur is.
Wit is nie die gemeenskaplike vyand nie – armoede, werkloosheid, korrupsie, nepotisme ens.

marous ·

Die voorspellings oor hierdie dinge het reeds by die Indaba twak uit die Afrikaner se mond gekom. Dit was met minagting deur die verligte “dit sal nooit gebeur nie” mede volksgenote verwerp . Hoop julle wat nog hier is se vliegtuie se wiele val af …. net voor julle die landingstrook nader oorsee …binnekort.

al ·

Ons almal kan nie bekostig om te immigreer nie. Nie alle dele van SA is sleg om in te woon nie. Inteendeel het ons nog baie om voor dankbaar te wees.
Ons is bevoorreg om in groter ruimtes te leef waarvoor jy miljoene rande sou opdok oorsee.
Dis politiek wat almal se lewens versuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.