Nuuskommentaar: ‘Regering haat nie wit mense’ – Zuma

President Jacob Zuma in die parlement. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

President Jacob Zuma in die parlement. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Is Zuma se versekering in die parlement dat “ons” nie wit mense haat nie (hê-hê, hêê), bloot nog ʼn stukkie fopnuus in die post-waarheidera? Word na ’n omvattender prentjie gekyk, is Zuma self dikwels die vlieg in die salf – deur uitlatings of versuim om sy pligte volgens sy ampseed na te kom.

Daar behoort nie hieroor ’n vraag te gewees het nie. Haat Zuma en/of die regering die wit mense? Die vraag is in die parlement deur dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, aan Zuma gevra. Die eed wat Zuma afgelê het, bepaal immers dat hy in die beste belang van al die land se mense moet optree, en dit laat uit die aard van die saak nie ruimte vir haat teenoor een of meer groepe nie. Maar so is dit nou maar, die land se hoogste hof, die konstitusionele hof, het bevind dat Zuma (en sommer die parlement ook) die Grondwet oortree het.

Zuma het die haat teenoor wit mense ontken.

Maar dis nie die indruk wat gekry word nie. Net te gereeld gebruik hy die vernederende en kwetsende term van “white supremacists” as hy na wit mense, of minstens sommige wit mense verwys.

En net om die ding komplekser te maak, een van sy provinsiale lakeie moet nou om verskoning vra nadat sy bruin mense “h*tn*ts” genoem het. Sy het die stryd in die howe gaan voer oor haar reg om dit te doen, en bloedneus gekry.

En terwyl die verskoning afgewag word (sy is duidelik nie oorhaastig nie), gebruik minstens een parlementslid van die ANC dit weer in die parlement. Die speaker was egter selektief doof.

Dan was daar die DKD-saak waar die regering tot in die konstitusionele hof geappelleer het vir die “reg” om teen bruin mense te diskrimineer, en sedertdien is ’n saak van minagting van die hof oor basies dieselfde saak weer aanhangig gemaak.

Dit klink ook nie baie vreedsaam as die president by openbare vergaderings sê wit mense het die grond by swart mense gesteel nie. Hy het nou, in sy repliek in die parlement, dit versag na “baie het dit nie gekoop nie”.

Maar, en dit is die eintlike vraag, mnr. Zuma, het die hoofman op wie se grond Nkandla opgerig is, of sy voorouers, die grond gekoop? Die grond was immers in die besit van die land se oorspronklike inwoners, die Khoi-San. So ook die grond van koning Goodwill.

En sou die oudit van pre-koloniale grondbesit behoorlik gedoen word wat die heethoof Nkwinti beoog, sal dit ook blyk dat die Khoi-San die groot verloorders was. Maar dit is ’n onderwerp op sy eie.

Miskien is haat nie heeltemal die regte woord nie, en die wyse waarop die ANC dit kort voor verkiesings gebruik het om stemme te trek was ook nie Zuma se uitvindsel nie. Hy het dit ook nie vervolmaak gekry nie, masjiengeweer ofte not. Die rede hiervoor is dat peilings toon dat Suid-Afrikaners ander kwessies soos werkloosheid en armoede as baie groter probleme ervaar as rassedisharmonie.

Maar Zuma doen bitter min om die persepsies van anti-wit te besweer. Die veroordeling van plaasaanvalle wat, reg of verkeerd, soos taks nuwe stoom verskaf aan die verbrokkeling van rasseverhoudinge, is so skaars soos hoendertande. Veel eerder gaan verkoop hy kluitjies soos dat wit mense swart mense se grond gesteel het, en dat die grond wat swart mense gekry het meestal in die droër, onvrugbaarder dele van die land geleë is. Enige reënvalkaart sal dit verkeerd bewys, maar dan, ’n president wat sakelui gaan probeer wysmaak dat Afrika die grootste kontinent is en dat die ander kontinente saam in Afrika kan inpas, is seker nie die beste kaartleser wat daar is nie.

Boonop het hy in sy repliek gesê hy sal voortgaan met regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming. In Afrikaans klink dit amper mak, maar hy het Engels gepraat, en die woorde “affirmative action” gebruik wat iets heel anders as regstellende aksie is. Dit stel op die aarde niks reg nie, en so trek iemand op grond van die een of ander affiniteit in senior poste in sonder dat meriete enige oorweging geniet. So word die ekonomiese koek wat vir enige vorm van die groei van welvaart beskikbaar is nie groter nie – dit krimp eerder, en niks positiefs word vermag nie.

Die SEB-wetgewing word al meer direktief. Dit kon in teorie werk as daar genoeg hulpbronne sou wees, maar ’n hoë werkloosheidskoers verklap dat die appel se skyfies reeds mikroskopies dun gesny is. Soos dr. Christo van Rheede onlangs op Netwerk 24 geskryf het: “Die beoogde radikale maatskaplik-ekonomiese transformasie sal derhalwe van baie min hulp wees. Dit is nie net só weens gefragmenteerde staatsingrypingstrategieë, beleidsonsekerheid en korrupsie nie, maar veral ook omdat dit wetsgehoorsame, belastingbetalende en innoverende entrepreneurs op grond van etnisiteit as die boos­doeners uitsonder … Vergelding in die vorm van die wegneem van diegene wat ekonomiese aktiwiteit stu en die verryking van die paar met politieke konneksies sal selfs groter ekonomiese ontbering in Suid-Afrika meebring.”

(Die paar aanhalings laat nie reg aan die oorspronklike artikel geskied nie.)

Wat grondhervorming betref, was daar so ver vasgestel kan word ’n dawerende stilte oor Nkwinti se mededeling dat die Grondwet verander sal moet word sodat dit moontlik sal wees om grond sonder kompensasie te onteien. Dit is niks anders as grondroof nie, en Zuma kom nie sy ampseed in hierdie verband na nie.

Het Zuma al ooit enige kommer uitgespreek oor die onewehandigheid waarmee die kwessie van haatspraak hanteer word, en op sigself nou ’n probleem geword het? Dit is mooi uitgewys deur AfriForum tydens die Menseregtekommissie se ondersoek na haatspraak op die sosiale media.

Is die probleem net Zuma en ’n paar van sy getrouste kornuite, of is die probleem die hele ANC?

Daar kan, en word gereeld, sonder ’n sweem van twyfel gesê dat Zuma ’n enorme probleem en verleentheid vir die land is, hê-hê, hêê. Oor of die ANC self so ’n groot probleem onder post-2019-leierskap sal wees, kan moeilik vooruitgeskat word. Dit is egter die ANC se keuse om Zuma tot op die laaste moontlike nippertjie in die saal te hou, wat kiesers wat iets vir die land en al sy mense omgee, in wese dwing om veilig te speel en nie vir die ANC te stem nie.

Want so kan dit nie aangaan nie.

En nee, hierdie kommentaarskrywer put geen genot daaruit om die een negatiewe rubriek ná die ander te produseer nie. Daar is positiewe nuus, maar dit verdrink alles so maklik wanneer Zuma weer iets kwytraak. Opgeblaasde positiewe nuus is ook maar fopnuus, maar dit beteken nie dat die silwer randjie nie met ywer nagejaag moet word nie. Maar nou lê ’n knypende begroting eers voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Eugene ·

Stem saam deur sy uitspake sweep hy een ras teenoor n ander ras op . Hulle ontwikkel dan die persepsie wit mense is sleg en skelm.Hoekom sal hulle ons dan nie haat?

A ·

Nee, hy haat nie. Hy maak net seker dat daar geen blanke gaan oor wees om hom te bevraagteken nie.

Ek wonder net wanneer ons boere gaan opstaan en mobiliseer teen die plaas aanvalle.

Winston ·

Ek het ook gewonder oor die kwessie van plaasmoorde. Die regering blaas dit aan en kriminele elemente op grondvlak “spog” selfs al deur te sê “ek weet ek sal niks oorkom nie” Let daarop dat hierdie soort ten volle op hoogte is van sy regte en hoe om die waarheid te verdraai. Motiewe altyd roof, diefstal, huisbraak ens. Dit is leuns waarmee die werklike motief verbloem word. Slagoffers het GEEN MENSEREGTE nie? Word arresteer as hulle hulself beskerm.
Dankie Herman vir n objektiewe klomp “leuns” wat jy bereid is om te sê!

Deon ·

Die boom word nie geken aan die gesuis van die wind deur die blare nie,maar aan die vrugte wat uit die boom voorkom. Ons wit mense is deel van hierdie land. Ongeag watter polities stelsel,is daar nie n verge lyk bare land in Afrika nie.n Mens moet dus aflei dat dit wit mense se inisatief is wat dit geskep het.!

AL ·

Die SONA-bok is skynheilig want hy weet die wereld se oe is op hom tydens sy toespraak.

AL ·

Ons waardeer die nuus, hoe negatief dit ook soms is. Ons moet ingelig wees sodat ons onsself kan bemagtig.

Kaufman ·

“Opgeblaaste positiewe muis is ook maar fopnuus” – Hierdie woorde is baie waar en som die probleme in die probleem van massamedia en breinspoel van die massas perfek op. Deel gerus hierdie artikel met studente en akademici in kommunisasiekunde, media en politiek.

Kaufman ·

Jammer Herman wat ek jou belangrike aanhaling so opmors in my kommentaar, ek bedoel nie muis nie maar nuus. Autocorrect funksie is lastig.

pieter ·

Ek is reeds 40 jaar ‘n dosent en kan die lesers verseker dat links, liberale standpunte subtiel en dikwels blatant die oorhand het by ons universiteite. Ons enigste hoop is privaatuniversiteite soos Akademia.

Zoempie ·

You could have fooled me Zuma. UMSHINI WAM beteken wat? Kill the Boer, Kill the White beteken wat? Jy is die grootste voordanser en voorbok wat die haat teen die blankes aanvuur. Wat doen jy om moorde op wit boere op plase (wat vir jou kosgee) te bekamp? Jy spreek jouself nie eers daarteenoor uit nie, wat nog te sê iets daaraan doen. Verder bly druk jy BEE en Ekonomiese bemagting en GRONDVERGRYPE in almal se kele af .. wie target jy daardeur? Die blanke! Natuurlik haat julle blankes, dit is duidelik in julle uitsprake, die onttreking uit die Internasionale Strafhof, so ook die Grondwet wat julle wil verander, so ook die haatspraakwet. Alles word gedoen om die BLANKE te benadeel. Ons is nog nie laag genoeg na 22 jaar nie, ons moet nou verder afgebreek en vernietig word. Julle TARGET die blankes op alle moontlike wyses. Dit is HAAT, dit is RASSISME, dit is WRAAK!

Heleen ·

Jy neem die woorde so uit my mond uit. Ek is nogtans trots op wie en wat ek is en dit kan hy en sy gesante nooit van my af wegvat nie.

Paling ·

Die opposisiepartye moet hierdie feit dat die ANC bruin mense so afbreek wyd bekend maak in hul veldtogte.

Face ·

Ja shame, snaaks hoe van hulle steeds probeer om te BELONG. BEE was nooit vir bruinmense gewees nie, dit was nog altyd vir EEN etniese groep, hulle het net die bruinmense nader gehark om hulle stemme te kry. Baie bruinmense praat Afrikaans en AFRIKAANS word gehaat deur die huidige regering en alles word gedoen om Afrikaans te vernietig en af te breek en te verwyder, dit behoort ook vir bruinmense ‘n teken te wees dan nie? Hoeveel bruinmense het hoë poste by staatsinstansies, die parlement of by parastatals? Hulle suig ook maar aan die agterste speen .. Dalk moet hulle ook maar die waarheid FACE!

lw ·

Wat van n internasionale klag teen hom dat hy rasse haat aanhits in SA? Komaan dis die verligte eeu en menseregte is meer dominant as ooit tevore. Ons is mos deesdae n global village, en nie alleen op n eiland.

kylie ·

Die maanmannetjie is net nie reg in sy bles kop nie!!!!!hy self het n probleem en is n rasis!!!! hy wil die land Zimbabwe maak!!! die bewyse is klaar op die tafel…ons slaap nie! elke wit vel !! al is hy of sy n ander taal sien wat sy bedoelings is… omdat dit meer afrikaanse mense is wat boer of goeie besigheid doen en het… is hy uit om ons lewe hel te maak!! in sy toesprake en sy groepe beplan hulle wat gedoen moet word!!! ons sal ook veg tot die dood toe ne…

Alida ·

Hy wat bennie boekwurm is sing dan self die liedjie “kill the boer”. Wat verwag hy, Oor die algemeen word ‘n boer gekenmerk aan ‘n wit man met kakie klere aan. Sy onnosele aanhangers dink hulle moet dit letterlik opneem en uitvoer. Net so dom soos hy,

pieterdp ·

Wat word van die klagtis teen Zuma oor haat spraak. Dit sal ek graag wil weet. Ons sit met van die beste regslei. Hoekom gebeer nuks?????????

Johann ·

Kylie my vriend dit is voor die hand ligend dat hy na Zimbabwe verlang dit is waar hy sy miserabele opleiding ontvang het, maar ek het vir hom nuus ‘n boer skrik nie vir snert praatjies nie

Grassie ·

Ons moet nie net vir Zuma uitsonder nie, hy is net die spreekbuis van sy volgelinge. Die probleem met haat is dat dit ‘n reaksie het. Haat wek haat. ‘n Mens se gemoed het nie ‘n skakelaar wat haat aan of af skakel nie. Wanneer ‘n mens se volk voortdurend verneder, verguis en benadeel word ontstaan haat sonder dat mens daarvoor vra. Al wat ‘n mens daaraan kan doen is om dit te probeer beheer en nie onbesonne op te tree nie. Maar dit bou op, dit knaag aan ‘n mens se gemoed en die dag wanneer dit tot uitbarsting kom gaan die hare waai.

JY JOK! ·

Hy jok so hard hy glo homself!! Wanneer my kinders of my man vir my ‘n jok storie vertel, dan sê ek altyd: …. ja en dan is ek die paas haas!! Nou ja Mnr die president: dan is ons almal in S.A. paas hase!! he he he!!

John ·

Hy is sooo dom. Terwyl hy haatspraak aanblaas is meeste van ons besig om die skade wat hy in alle gemeenskappe aanrig, te probeer herstel en word ons met ope arms ontvang. Die probleem is sy kriminele vriende wat sy geheime opdragte uitvoer en sodoende die respek wat nog oral heers vir wittes te probeer ondermyn. Al wie daaronder lei is die wetsgehoorsame landsburger, hetsy wit, swart of bruin. Maar sy ou ogietjies is te toe, te blind, want hy is te gierig.

H.A ·

Iewers in die geskiedenis boeke staan dat ñ zoeloe gesê (of voorspel) het- ‘die son sal rooi opkom, daar sal ñ sterk wind kom en al die blankes die see in waai’. Wie was dit ?

REGVERDIG ·

Ag regtig????
Ek kan dit nie hanteer as my intellegensie onderskat word nie
Arme man. En hy dink nog steeds hy is a prescious gift from above !!!!!!!!!!!!!!

Skeinheilig ·

He he heeeee, dis “discusting”. Nie betroubaar. Ons,die wit afrikaner, word kos gegee,wat ons ten duurste betaal,ons word water en krag gegee,waarvoor ons hulle verryk, so maak ou Zuma en al sy trawante ons “mak”, met al die besighede en nuwe “malls” wat net bestaan uit swart BEE,ens, sal daar eendag gese word, “only black”. So jammer. Hys n leunaar.

Johann ·

Haat blankes? Zuma en sy ANC kader en handpoppe? Hulle LUV blankes! LUV om die vrugte van blanke harde werk te PLUK; LUV blankes as verskoning vir sy eie onbesonne sotheid, LUV blankes om te belas met al wat n geldmaak foefie is om die Staats koffers VOL te hou sodat hy kan steel; LUV blankes om hom en sy harem te onderhou; LUV blankes om met n georganiseerde HAATSPRAAK uit te moor….LUV BLANKES om standaarde te stel om die massas teen te meet en blankes dan te blame vir die agterstand…LUV blankes om naief te hou by wette en orde reels en regulasies; LUV homself ongelukkig meeste van almal en als!

Adoons ·

Herman, wat van nuuskommentaar oor die kwessie van ‘n staatsbank asseblief – wat is die gevolge vir die gewone man op straat?

Hannalie Jonker ·

Jakob, jy lieg. Asb kan iemand nie plan maak met die man nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.