Nuuskommentaar: SAUK se verlies kan nóg groter weens Hlaudi-sleureffek

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die SAUK-raad se arrogansie slaan ’n mens dronk en is duidelik gesetel in ’n vertroue dat hy pres. Zuma se steun geniet. Maar is Zuma se eie posisie nog so ongekwalifiseerd verkans?

Na berig word is die SAUK-raad heel punt in die wind oor die SAUK-jaarverslag wat pas bekend gemaak is … met ’n verlies van meer as R400 miljoen. Nou word berig dat die voorsitter meen dit is onmoontlik vir ’n openbare uitsaaier om ’n wins te maak.

Intussen meen ’n kenner die verliese gaan nog groter word as gevolg van die SAUK se besluit van 90% plaaslike inhoud vir radiostasies en SABC 1 en 2, en 80% vir SABC 3 wat veronderstel is om kommersieel te funksioneer.

Dit is al ’n geruime tyd dat Afrikaanssprekendes kla dat hulle eintlik nog net die nuus kyk. Goeie programme (soos goeie Amerikaanse speurreekse) word eenvoudig te laat in die nag uitsaai en is boonop dikwels herhalings.

Hlaudi Motsoeneng se aankondiging dat sekere gewilde programme soos Dr. Phil nie meer aangekoop gaan word nie (want daar moet ’n plaaslike Dr. Phil gevind word) help ook nie om entoesiasme in die toekoms van die SAUK te behou nie. En nie alle Afrikaanssprekendes kan DStv bekostig nie.

Oor die algemeen is daar tevredenheid met RSG se uitsendings, maar Motsoeneng het reeds aangedui RSG gaan onder die vergrootglas geplaas word weens onder meer ’n vermeende gebrek aan transformasie. Van die gehaltedrywers is afgedank, maar is weens die onwettige aard daarvan weer deur die hof in hul poste herstel. Die persone agter die onwettige afdanking is ook gelas om die regskoste uit hul eie sakke te dra.

Teen dié agtergrond is ’n mens verstom om te hoor die SAUK-raad is hoog in sy skik met Motsoeneng – selfs nadat die appèlhof Motsoeneng verlof tot appèl geweier het teen die Wes-Kaapse hooggeregshof se bevinding dat sy aanstelling as bedryfshoof irrasioneel en onwettig was. Die raad het hom eenvoudig op ’n bedenklike wyse in ’n ander senior pos ontplooi.

Die kabinet sowel as die ANC het nou vrae gevra oor die bevoegdheid van die raad en ’n ondersoek na sy bekwaamheid aangevra.

Maar hierin kom die tikkie pikante ironie. In wese is dit die ANC in die parlementêre gekose komitee wat die raadslede aanstel, en minstens sommige van die ontplooiings word vanuit Luthuli-huis voorgeskryf. Die ANC is nou langlippie vir sy eie brouwerk.

Hiervandaan moet ’n mens baie goeie binne-inligting hê, of met die spreekwoordelike helm gebore wees om te kan beoordeel wat werklik aan die gang is. By gebrek daaraan word die feite wat beskikbaar is so goed as moontlik onder die loep geneem en so akkuraat as moontlik ontleed. Op die oog af lyk dit of daar ’n sterk groep in die ANC is wat pres. Jacob Zuma se ontplooide kornuite – veral dié wat regtig droogmaak – in die openbare oog bring en diskrediteer. Waar dit moontlik is, word die kornuite uitgewerk.

Die SAUK-raad tree op die oog af duidelik in die pro-Zuma-kamp op. Motsoeneng word as Zuma-gunsteling beskou. Die band tussen die raad en die minister, Faith Muthambi, is opsigtelik heg en dit is bekend dat sy ’n Zuma-lojalis is. Die ANC doen beroepe op die minister om teen die raad op te tree.

Ook op ander gebiede probeer prominente ANC’s (asof hulle namens die ANC praat) om die Zuma-lojaliste te isoleer en onder druk te plaas. Minister Zwane is pas die hoeveelste keer deur ’n senior kabinetslid gekritiseer oor sy aankondiging dat die banke wat die Guptas die rug gekeer het, ondersoek gaan word. Intussen ontvou ’n bisarre verhaal van hoe die Londense beeldpoetsers van die Guptas al lank daarvoor druk op onder meer Netwerk 24 probeer uitoefen het om die “nuus” te publiseer.

Dit lyk of Zuma in die jongste tyd ook die gewoonte aangeleer het om lojaliste wat in die sop beland vir die wolwe te gooi – of dalk in suiwerder Suid-Afrikaanse terme, onder mini-bus-taxi’s in te slinger.

Net dalk kan ’n mens hierin lees dat Zuma se houvas op die ANC besig is om los te torring. Of word daar wel geleidelik daarin geslaag om Zuma na ’n meer seremoniële rol uit te rangeer? So het hy pas gerugte dat ’n kabinetskommeling op hande is ontken, terwyl almal weet sy hande jeuk om sekere ministers te pos. Die Grondwet gee hom hierin absolute mag.

Maar dit het in die verlede ook al gelyk of die president meer seremonieel aangewend word, soos om saam met die kwien deur Londen se strate in ’n koets te ry. Maar dan maak Zuma met mening ’n terugkeer om sy mag en gesag te toon, gepaardgaande met ’n reuse-blaps of twee.

Dit kan só maklik weer gebeur.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Ek betaal nie weer die TV lisensie nie voor Hlaudi Motsoeneng nie weg is by die SAUK nie
Sorryyyyyyyy!!!!!!!

Anton ·

Die mens , se di Groot Boek, het sy eie slim planne. Groot hordes was ingebring uit afrika om di ANC se stemme te verseker. Di mense was later gebrand anners waai hulle ni! Oral was strukture in plek om di regering IN te hou. Ma ongelukkig mis jy 1 boetie wat ni n bmw ry ni en…jy sit met anargie

Ww ·

Ek vra net wat is die persentasie ministers van ‘n bevolkings groep in kabinet

anton ·

Niks gebeur sonder dat HY ni sy profeet of dienskneg se ni. Dat n groot persoon ET kom omstamp het. Dis n visioen wat ek van kan getuig. Nog n slim plannekie om met n ysterhand te regeer en te spandeer? Wie sal weet?

ekke.. ·

Mens moet ook in gedagte hou dat alles nie net anc is nie, maar bietjie na die aliansies ook. Die sakp het die meeste parlementere verteenwoordigers, sonder dat hulle in enige verkiesing gestaan het. Dit is ook hoekom SA meer kommunisties is, en die wyse nastreef.

John ·

Die boeke is gekook en die syfers lees anders. Dis hoekom die gedrup-drup van inligting. Beheer van ‘n land se radiostasies se net een ding… Ons is aan die slaap gevang… Hoekom dink almal die man met die hoed staan alleen en is vir al die chaos verantwoordelik?

Njart ·

Ons sir darm maar met n verloorder as president, die ou ding en sy “volgelinge” gaan nog hard deur sy eie mense afgelag word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.