Nuuskommentaar: Sesessie in die VSA en Suid-Afrika

Foto ter illustrasie

Foto ter illustrasie

Ná pres. Donald Trump se verkiesing het ’n beweging om Kalifornië van die VSA af te skei, momentum gekry. Maar so ook ’n ou beweging wat hom daarvoor beywer om die noorde van Kalifornië en die suide van Oregon die 51ste deelstaat van die VSA, Jefferson, te maak. Met die presidentsverkiesing het “Jefferson” se inwoners feitlik eenparig vir Trump gestem, en die res van Kalifornië omtrent eendragtig vir Hillary Clinton.

In ’n baie insiggewende artikel in Maroela Media skryf dr. Eugene Brink oor die moontlikheid dat die deelstaat Kalifornië van die res van die VSA kan wegbreek. Die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president verleen impetus aan die gedagte, aangesien Kalifornië met sy groot Spaanssprekende bevolking, wat miljoene onwettige immigrante insluit, sterk pro-Clinton gestem het.

Die interessantheid egter is dat daar in die Noorde van Kalifornië ’n beweging is wat hulle al dekades lank beywer vir die afstigting van wat hulle die staat Jefferson noem. Maroela Media het in 2013, toe die beweging nuwe momentum gekry het, hieroor geskryf. Verskeie counties (distrikte) het aangedui dat hulle begerig is om by dié nuwe staat aan te sluit.

Die Trump-verkiesing het die kwessie weer belig. Waar die kiesers in die suidelike dele van Kalifornië feitlik bankvas vir Clinton gestem het, het die kiesers in “Jefferson” bankvas vir Trump gestem. (In die suide was daar wel enkele bekende landboustreke wat vir Trump gestem het – ironies omdat hulle in die oestyd baie afhanklik is van Latyns-Amerikaanse werkers.)

Die aanhangers van Jefferson se beoogde staat (in teenstelling met die res van Kalifornië veel meer homogeen) sluit ook die suidelike dele van Oregon in. In Oregon is die georganiseerde proses vir deelname nog nie so ontwikkel dat counties formeel wil aansluit nie, maar die beweging self is nietemin betreklik sterk.

Die Jefferson-aanhangers is egter nie al wat van Kalifornië wil wegbreek nie. Die aanhangers van die Cascade-beweging se oë is ook gerig op dele van Idaho, verskeie ander deelstate en selfs dele van Alaska.

Die oë is egter nou op Kalifornië gerig. Sedert die verkiesing van Trump het die Calexit-beweging stoom bygekry.

’n Onlangse peiling het getoon dat meer Republikeine as Demokrate meen dat Kalifornië se afskeiding van die VSA goed vir die VSA sal wees (25% Republikeine teenoor 15% Demokrate) en soortgelyke bevindings oor diegene wat meen dit sal die VSA nie skaad as Kalifornië wegbreek nie (16% Republikeine teenoor 10% Demokrate met 14% onverbonde). In geheel voel ongeveer ’n derde van die Amerikaanse kiesers dit sal goed wees of om’t ewe as Kalifornië wegbreek.

Bloot interessantheidshalwe, die New York Times het onthul dat die leier van die pro-onafhanklikheidsgroep, California Yes, Louis J. Marinelli, met aansienlike steun van Kremlin-gebaseerde organisasies in Yekaterinburg in Rusland woon.

Gegewe die groot verskille tussen die noordelike dele van Kalifornië en die kosmopolitaanse stedelike gebiede soos dié van San Francisco en Los Angeles, kan verwag word dat die Jefferson-beweging, wat eerder ’n 51ste staat met volle onafhanklikheid voorstaan, sterker sal word. As die Kaliforniese onafhanklikheidsproses onkeerbaar word, is dit ook nie onmoontlik dat die Trump-administrasie die Jefferson-beweging te hulp sal snel om as die nuwe 50ste staat deel van die VSA te bly nie.

Uit leserskommentare is dit duidelik dat baie voel die Afrikaner in Suid-Afrika se belange kan slegs doeltreffend beskerm word as geografies van die res van die land weggebreek word. Dit is veral die geval waar dit nie lyk of die Grondwet die nodige beskerming aan minderheidsgroepe verleen nie.

Artikel 235 van die Grondwet maak egter voorsiening vir een van twee tipes selfbeskikking, naamlik korporatief of geografies. Dit is egter eerder ’n vorm van selfseggenskap as soewereine onafhanklikheid, en dit is in pas met die voorskrifte van die internasionale reg, naamlik dat die kriteria vir volk volgens taal en kultuur geskied, en nie ras nie.

Trouens, die raskwessie is duidelik gedemonstreer toe die DA se jeugvleuel ’n protesoptog na Kleinfontein gehou het, en toe deur die leierskap van Kleinfontein meegedeel is dat ras nie ’n kriterium is nie. Die jeugvleuel se aanname dat Kleinfontein “buite die Grondwet optree”, moes deur die DA se eie senior leierskap gerepudieer word.

Intussen sal dit interessant wees om te sien hoe die Amerikaanse proses verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PvZ ·

Hulle wil jou eiendom vat. Ons hoop, en blykbaar “sug ons van verligting”, as hulle ons eiendom teen ‘n vergoeding wil vat. (Onthou asb. dat jy nie die prys gaan beding nie). En asb., jou strandhuis is volgende. Dit is nou as hulle jou nie al teen daarde tyd met moord en roof, uit die land geboender het nie. Daarom smeek ek die Afrikaners. As jy in Suid-Afrika wil bly, werk, op elke manier aan ‘n onafhanklike Afrikaner Republiek. As jy nie vir dit is nie, bly stil. Trek uit die land uit, of bly as bywoner in die res van SA, en AANVAAR asb. die moord en korrupsie. Stuur ook asb. jou kinder na die Universiteit van Venda. Want Tukkies, Stellenbosh gaan oor vyf jaar presies so lyk.

dries ·

Ek kan nie verstaan n mens met normale verstand kan mos dink, as jy iemand se grond vat dan moet jy sy huis ook vat. As jy nou die eiendom vat dan gaan daar iemand anders die plek bewoon,gaan die mense nou elke maand vir dienste betaal soos wat ek doen. Die ander vraag is die duisende mense wat afhanglik is van jou dienste geld gaan hulle salarisse verdien? want hulle moet ook vir dienste betaal. Ek weet nie hoe gaan dit werk.

Peet J ·

Sodra die herverdeling van landbougrond gerialiseer het m.a.w. wanneer die ANC regering sy doelwit bereik het met die voorsiening van grond aan sy mense dan sal daar eers volgens Artikel 235 van die konstitusie onderhandel kan word. Behoede ons wittes wat in die tussentyd met ons gaan gebeur raak maar van al jou oortollige items ontslae sit dit oor in kontant sodat jy nie ‘n groot vrag het om te vervoer nie.

Selfbeskikking ·

Ek below julle, daar is geen ander uitweg as selfbeskikking nie en Afriforum moet hierop begin fokus voor dit te laat is. Nie net ons taal nie maar ons kulture is totaal onversoenbaar, soos ons vind korrupsie en misdaad totaal onaanvaarbaar terwyl die ANC ondersteuners dit koester, en dit alleen is genoeg om NOU vir selfbeskikking te begin onderhandel!!!

Peet J ·

AfriForum was nog nooit sover my kennis strek ‘n pleitbesorger vir selfbeskikking vir die Afrikaner nie. Die VF Plus het die Afrikaner gefaal met betrekking tot selfbeskikking. Hulle uitsprake oor die moorde op die boere is tans meer gemik op die kosmandjie wat verlore mag gaan as op die eliminasie van die indiwidue wat moet produseer.

Chris du Plessis ·

Artikel 235 beteken egter nie veel vir Afrikaners wat selfbeskikking wil he nie. Daar sal nog steeds n verandering aan die Grondwet gemaak moet word wat deur die parlement goedgekeur moet word ……
Afrikaners kan wel staat maak op die proses wat deur internasionale reg en die riglyne van die inernasionale gemaanskap hulle bied om selfbeskikking of selfsmonafhankliheid te kry.
Indien Afrikaners alle interne remedies uitput om selfbeskikking te kry en hulle slaag nie daarin nie, kan hulle met internasionale steun die reg op gedwonge sessesie (remedial secession) uitoefen deur eensydige onafhanklikheid te verklaar. Kosovo en Suis Soedan het beide onlangs op hierdie wyse onafhanklik geword. Afrikaners kan oop indien hulle die wil toon en indien hulle die nodige internasionale steun kan opluister. Afriforum behoort die nodige insette te doen wat dit betref …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.