Nuuskommentaar: Siener of rigter van die volk?

Niklaas van Rensburg Die SienerOnlangse gebeure het verskeie lesers versoeke aan Maroela Media laat rig om iets oor Siener van Rensburg te skryf. Dit is nie vreemd dat ’n volk wat marginalisering ervaar, of minstens ’n deel van so ’n volk, dan na die mistieke sal uitreik om lig op die toekoms te werp nie.

Niklaas van Rensburg se visioene en die sleutels daartoe maak van hom in ’n sin ’n eietydse rigter, maar die uiteindelike boodskap is dalk nie wat baie wil hoor nie. Eers moet die volk sy geestelike wortels herstel, dan sal dinge verander. Maar hy stel nie nuwe reëls nie – daarvoor is die Bybel daar – die enigste boek wat Siener ooit gelees het. Maar tog was hy besonder goed ingelig, ook oor wêreldgebeure, en laat hy nie die opsie van volstruispolitiek nie. In ons era van die post-waarheid en fopnuus moet die waarheid werklik gesoek word en ontleders daarna streef om feitegebonde die regte omgewing te skep. ’n Plan B sonder ’n behoorlike geestelike begronding sou nie deel van die oplossing kon wees nie.

Siener se boek

Wanneer literatuur oor Siener Niklaas van Rensburg gelees word, lees ons dikwels “Siener het self in sy boek” sus en so gesê. Die feit is egter dat Siener wel die Bybel kon lees, maar nie kon skryf nie. Hy self het dus geen boek geskryf nie, hoewel hy self gesorg het dat baie van die visioene opgeteken word. Aanvanklike werke oor Siener was nie histories bedoel nie – eerder as byvoorbeeld ’n roman, en baie van die gefabriseerde inligting het hardnekkig in opvolgwerke bly voortleef. Veral een van hierdie weergawes word gereeld deur ’n politiek bedrywige groep ingespan om sy eie optrede en menings te regverdig.

Wat hou die toekoms vir die Afrikaner volgens Suid-Afrika se bekendste siener, Niklaas van Rensburg in? Dié vraag word nou weer dikwels gevra na aanleiding van opgetekende visioene van Niklaas van Rensburg wat met van die jongste gebeure oor ’n neergeslane Afrikaner sou ooreenstem. Maroela Media het verskeie lesersversoeke gekry.

Alvorens hieroor kop uitgesteek kan word, is dit nodig om ’n bietjie in Siener se kop te kom, en hiervoor het ’n uitstekende boek in 2011 op die rak verskyn. Die boek is egter meer as 400 bladsye dik, en dit is moeilik om te bepaal wat weggelaat kan word, en wat nie. En dan is daar ook nog ander bronne. Die uwe se eie oupagrootjie was by tye saam met Siener op kommando tydens die Anglo-Boereoorlog, en het self ’n aantal merkwaardige verhale oor hom te vertel. So is daar ook baie ander kommandolede wat hul ervarings van Siener aan hul nageslagte oorvertel het.

Die boek, Niklaas van Rensburg, Die Siener, deur AWG Raath het nou reeds verskeie resensies en artikels opgelewer. Raath het self in die destydse Wes-Transvaal grootgeword, en was later as hoogleraar in Staatsreg en aanverwante vakgebiede bekend vir sy deeglikheid en vermoë om kennis te integreer. Hy is ook ’n historikus van formaat.

In sy voorwoord het Raath juis die tipe reaksie wat nou van lesers ontvang is, “voorspel”: “In tye van voorspoed en materialisme is die Siener merendeels tot ’n interessante objek, artefak en selfs logiese spotterny verlaag. Toe die Afrikaner egter tot ’n randbestaan gemarginaliseer word, herleef die belang van die mistieke en word die rasionele getransendeer sodat die insig en omarming van die mistieke as ’n uitkoms gesien word.”

Ongelukkig is daar soveel wollerige weergawes van Siener se lewe en visioene in omloop dat dit onmoontlik is om haas enige gevolgtrekking oor die toekoms te kan maak. In die proses word die kernboodskap dikwels misgelees, naamlik dat die Afrikaner hom terug na sy geestelike wortels moet wend alvorens sy lot verander sal word.

Raath se amperse lewenstaak om so ’n volledige beeld van dié merkwaardige man te skep, bied egter eerder ’n bykans onuitputlike bron waaruit verskillende fasette onder die loep geneem kan word as ’n bron vir ’n enkele artikel. ’n Besoek aan Google dui egter daarop dat baie van die materiaal wat in die onlangse verlede uit Siener se visioene geput het, of meer dikwels beweerde visioene soos in bedenklike bronne opgeneem, juis te selektief put uit wat beskikbaar is, en dikwels wolhaarstories opdis. So word die Nag van die Lang Messe dikwels aan Siener toegedig, maar dit is nie so nie. ’n Meer waarskynlike herkoms is Johanna Brandt, ’n merkwaardige vrou uit eie reg. Lees gerus Maroela Media se ontleding, “Waar kom die Nag van die Lang Messe vandaan?” hier.

Oor die jare het soveel werke oor Siener die lig gesien wat ’n skewe beeld skets dat enige bespreking ook die wegdoen van ’n klomp mites behels. Hierdie skewe beeld is ironies help vestig deur sy eie kinders, wat onderling verskil het oor wie die beste persoon sou wees om hul pa se werk na waarde te boek te stel.

Sodoende is die persoon wat stellig meer as enigiemand anders geskik sou wees, ook deur gereelde persoonlike besoeke te perd oor lang afstande, naamlik Boy Mussman wat daarin kon slaag om Van Rensburg se vertroue te wen en “in sy kop te kom”, oor die hoof gesien. Mussman het geglo Siener se visioene sal vir die Afrikanervolk van belang wees.

Onlangs nog het Hannes Haasbroek, historikus van die Nasionale Museum, terloops in ’n artikel na Raath se werk en die sieners verwys: “Siener, die man wat deur sy ‘visioene’ (daar is bespiegelinge dat dit aan ’n vorm van epilepsie toegeskryf kon word) onder meer planne van die Britse magte opgerakel en die vertroue van verskeie Boere-aanvoerders geniet het. Maar helaas het sy voorspelling met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, dat die voormalige Boererepublieke maklik teruggewin kon word, lelik geboemerang soos weerspieël in die mislukte Rebellie van 1914 en gepaardgaande dood of gevangeneming van bekende Boereleiers.” (Volksblad)

’n Behoorlike deurlees van die boek sou egter aan die lig bring dat Siener juis nie as ’n soort Boere-Nostradamus beskou moet word nie. Siener het self, wanneer probeer is om hom as ’n soort kristalbalkyker in te span, daarop gewys dat “die tye en geleenthede alleen by God bekend is, en dat selfs nie engele in die hemel weet nie.”

Oor die afloop van die rebellie het Siener dit duidelik gemaak: As hy sou weet wat die afloop was, en daarom sou waarsku teen die rebellie en die rebellie sou dan nie plaasgevind het nie, dan sou Afrikanernasionalisme nie herontwaak het nie. Siener het immers self aan die rebellie deelgeneem, sy eie lewe in gevaar gestel, en self agter tralies beland.

Selfs medestryders uit die Anglo-Boereoorlog wat onoortuig gebly het of Siener werklik oor die vermoë sou beskik om gesigte te sien en uit te lê, het later vertel van die “ongelooflike toeval” daarvan. Siener het onder meer tydens die Anglo-Boereoorlog en die rebellie ’n haas ongelooflike aantal gesigte gehad wat nie net sy eie eenhede uit penaries en omsingelings gelei het nie, maar ook ander. Soms was daar verdeeldheid of Siener se raad gevolg moes word – dié wat dit gevolg het, het ontkom, dié wat dit nie gedoen het nie, is vasgetrek. Selfs ’n vroue-vlugkommando het so verdeeld geraak, en die tragiese is dat daar bykans geen oorlewendes in die konsentrasiekamp was van dié wat Siener se raad in die wind geslaan het, en vasgetrek is nie.

Hierteenoor het hy die oor van generaals gehad, Koos de la Rey sekerlik die bekendste, maar later sou Mussman hom ook op genl. Smuts beroep toe die Smuts-regering allerlei beperkings geplaas het op mense se geskrifte en byeenkomste, en Siener se nalatenskap skynbaar deur die regering as subversief beskou is, maar nie deur Smuts self nie.

Siener was diep gelowig en lidmaat van die Hervormde Kerk. Hy het as ouderling gedien, en selfs gepreek. Hy het nooit leer skryf nie, maar sy ma het hom uit die Statebybel leer lees – wat sy hele lewe lank al was wat hy, twee keer per dag, gelees het. By sy begrafnis in 1926 het twee predikante, een van die NG Kerk en een van die Hervormde Kerk, opgetree. Baie van sy geskrewe nalatenskap wat danksy veral die werk van sy dogter opgeteken is, word in die Hervormde Kerk Rietvallei bewaar.

Kortom, enige vermoë deur okkultisme is buite die kwessie. Die visioene is nie iets wat hy wou gehad het nie, dis iets wat hom aanvanklik bitterlik ontstel het toe hy dit die eerste keer op kommando in die Anglo-Boereoorlog ervaar het. Onder die gesigte wat hy nie sou wou gehad het nie, tel ook die dood van sy twee dogtertjies in die konsentrasiekamp. Baie ander visioene sou die fynbesnaarde Van Rensburg ontstel.

Sy enigste motief vir die benutting van sy gawe was om die mense om hom se geestelike toegewydheid aan God te verdiep. Dit was veral afgestem om vir die platgeslane Afrikaner van sy tyd as rigtingwyser te dien om getrou aan God die herstelpad te loop.

Hy het egter klaarblyklik ’n haas ongelooflike algemene kennis gehad. Hy sou immers nie uit ’n visioen van ’n bloeddruppel op ’n wit doek kon aflei dat Japan tot die oorlog sou toetree, as hy nie geweet het Japan se vlag is ’n wit doek met rooi kol op nie. So dui die uitleg van baie visioene op ’n groot algemene kennis van wêreldgebeure.

Baie van sy visioene was operasioneel, in dié sin dat dit die eenhede waarin hy tydens die ABO en rebellie gedien het, uit skynbaar onmoontlike situasies gelei het. Dit word veral tydens die rebellie duidelik met die trek deur die dorre Noord-Kaap waar die regeringsmagte hulle telkens vasgetrek het, net om te vind die rebelle het deur die onmoontlikste plekke uitgetrek.

Van Siener se visioene kan wel in die konteks van toekomsvoorspellings in verband gebring word. Hy het visioene oor die toekoms van Engeland en selfs ’n derde wêreldoorlog gehad. Van sy voorspellings oor Engeland is al bewaarheid – dat Engeland sy kolonies kwyt is, dat die VSA Brittanje as ekonomiese krag sou verbysteek, en dat Brittanje baie nie-wit immigrante sou kry. ’n Voorspelde hongersnood en burgeroorlog in Brittanje in die aanloop na ’n Derde Wêreldoorlog is nog “uitstaande” mits ’n mens Siener as toekomsvoorspeller wil inspan. Oor wanneer die Derde Wêreldoorlog sou kom, het Siener sy gebruiklike antwoord verskaf, en Handelinge 1:7 aangehaal wat in die 1983-Bybelvertaling lui: “Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.’”

Die Grieks vir die woord wat met “weet” vertaal is, beteken letterlik “dit is nie vir jou om te weet nie”.

Hy het egter self meer gefokus op geestelike bearbeiding en onderskraging in tye toe die Afrikaner platgeslaan was.

Teen dié agtergrond kan die vraag gevra word of die Afrikaner ooit weer as vry volk sal opstaan. Siener self word dikwels “ingespan” om so ’n bevryde situasie te “voorspel”. In die proses word dit wat Siener juis probeer weergee het, misgekyk: Eers, volgens Siener, moet die Afrikaner in neergeboë gees sy verering van menslike leiers laat vaar, en deur volgehoue gebed vra dat die Here weer sy aangesig teenoor die volk sal verhef.

Om Siener se nalatenskap te fynkam vir ’n “voorspelling” oor Afrikanervryheid, is om die wa voor die perde te span. Die Afrikaner moet éérs na sy geestelike wortels terugkeer.

En, so lyk dit uit die daaglikse nuusgebeure, dit gaan nog ’n lang pad wees.

’n Interessante uitvloeisel van die boek, sê prof. Raath, is dat hy nou al verskeie uitnodigings gekry het om gemeentes van die Hervormde Kerk oor die siener te gaan toespreek.

Waarskynlik het geen steeds lewende persoon so daarin geslaag om in die siener “se kop” te kom as Raath nie. Raath het immers 30 jaar lank navorsing gedoen, en dit uit ’n magdom bronne met sy kenmerkende deeglikheid gedoen. Sowat 700 visioene is opgeteken, maar amper belangriker nog, ’n magdom “sleutels” vir die ontsluiting van die metaforiese visioene van dié gereformeerde mistikus is ook verskaf.

En nou sonder rigter?

Siener van Rensburg het eerder die kenmerke van ’n rigter as profeet gehad. Hy, wat self nie kon skryf nie, het die insig gehad dat sy visioene opgeteken moet word sodat daar nie later dwarstrekkery kan wees oor wat hy gesê het, en wat nie. Maar Siener het reeds gesterf, en ons leef nou in wat as die era van die post-waarheid bekend staan, met fopnuus wat die lewe vir aktualiteitskrywers baie moeilik maak – juis noudat die tegnologiese revolusie inligting by ’n mens se vingerpunte bring. Maar saam met daardie inligting kom vragte valshede, soos ’n leser se skrywe op News 24 waarin die draak met Siener gesteek word en hy onder meer “beskryf word as iemand wat van jongs af ’n seksuele liefde vir vee, veral bokke, gehad het”. En dit as “komies” aangebied.

Wat ons kortweg uit Siener se werk te wete kom, is dat die Afrikaner, as hy as entiteit wil voortbestaan, dit sonder onregte aan ander moet doen. Die geestelike grondslag moet gesond wees, en daar moet ruggraat wees. Tipies sou die Solidariteit Beweging se Plan B solied geestelik gegrondves moet wees, en manifesteer waar die deelnemers hul Godgegewe talente inspan.

Hoe “ingebind” is die breë Afrikanergemeenskap by plaasmoorde, en tot welke mate kom die kerke hul profetiese rol na?

Op watter manier hanteer die Afrikaner die ateïstiese aanslag, ook van binne sy eie geledere? Soos die inkwisisie of soos ’n dissipel wat vissers van al die nasies maak?

Ja, die ateïstiese aanslag soos die aanslag op skole se Christelike etos, is erg en nou ook juridies kompleks, en ’n akademikus wat tydens ’n debat erg aan die vloek gaan oor iets wat sy Christelike debatsopponent gesê het, is erg.

Maar uit leserskommentare oor die afgelope aantal jare het dit ook geblyk dat ’n aantal Afrikaners in die naam van Christenskap die vreemdste idees Bybels probeer regverdig, soos die naaste wat liefgehê moet word, terwyl die “verste” gehaat moet word. Dit terwyl die Bybel leer dat ook die vyand liefgehê moet word, en ook die vreemdeling in jou poorte.

Hoe kan die hande na ander minderheidsgroepe in soortgelyke posisies uitgesteek word as die Bybelse uitreik weggeteoretiseer word? Hoe kan die Afrikaner sy sendingmissie volvoer? Hoe kan iemand soos die barmhartige Samaritaan optree as hy wysgemaak word hy moet sy “verste” haat?

Ja, die Afrikaner word uit verskeie oorde erg bedreig en gemarginaliseer. Maar terwyl soveel dolke in eie geledere in die harte van die Afrikaner gedruk word, en solank fopnuus dikwels swaarder as feite weeg, solank ons die Here as ons instrument in plaas van ons as sy instrumente probeer inspan, so lank gaan die terugkeer na die Afrikaner se geestelike wortels ’n onbegonne taak wees.

Dit terwyl Siener se visioene soos rigtingwysers van ’n Godgeïnspireerde rigter opgeteken staan.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Adele ·

Dankie Herman, sjoe! Dis ‘n mond vol. So wat jy eintlik wil sê is dat mense nie moet vasklou aan Siener se visione nie? Ek glo ook dat ons ons Vader se woord moet vertrou ALLEENLIK!! DIS DIE WEG EN DIE WAARHEID.

Pienkes du Plessis ·

Dis vir my onbegryplik dat ‘n gerekende joernalis soos Herman Toerien uitsprake oor Siener van Rensburg kan maak wat so ernstig met die realiteit bots. Siener kon nie skryf nie, skaars lees, en het met moeite die Bybel gelees, en dis ook al wat hy gelees het. Daar was ook nie radio of TV nie en vergeet maar van Facebook en sulke foefies. Maar tog, sê Herman, was Siener besonder goed ingelig, ook oor wêreldgebeure. Hoe op aarde kan dit versoen word met die werklikheid?

AL ·

Ek stem saam met jou slothoofstuk. Ons moet allereers n verhouding met Christus he en Hom opreg dien en 2dens moet ons ons naaste liefhê.
Dan sal die res vir ons bygevoeg word.

Ada ·

Dankie vir die skrywe Herman. Ek wil net graag byvoeg dat sy dogter sy visoene op 14 jarige ouderdom begin neerskryf het – soos wat hy dit aan verduidelik het. Sy kon dit onmoontlik nie self uitgedink het nie. Siener was ‘n skaapwagter en het nie baie met die buitewereld te doen gehad nie behalwe toe hy deel van die Rebellie was. Hy het geen ander skrywes behalwe die Bybel gelees nie. Hy moes dus op ‘n manier die visioene kon sien om dit vir sy dogter te kon vertel om neer te skryf. Jy moes dit seker in die navorsing van die artikel raakgelees het . Adriaan Snymaan het ook seker gemaak dat sy feite reg was toe hy van Siener geskryf het. Ek sien jy probeer ‘n goue middeweg handhaaf met jou skrywe . Maar ek is doodseker dat Siener nie hierdie stories “opgemaak” het nie. Te veel het al gebeur wat waargeword het waaroor hy geskryf het.
Dankie dat jy die moeite gedoen het om ons in te lig.
Waardeer dit.

Eriko ·

Enige iemand wat enige iets weet van Siener, kan maar gerus dit wat hy gesê het gaan vergelyk met Die Skrif. Daar sal jy 100% bevestiging kry wat jou sonder twyfel sal laat. Indien ons sy bydrae tot ons geskiedenis en ons toekoms wil misken, kan ons net sowel al die boeke in Die Skrif van die profete ook uitruk en weg gooi.

Koos le Roux ·

Beste Eriko
Inderdaad moet ons alle, insluitend vir Niklaas ook, aan die Skrif toets. Sy woorde sal egter nooit die Skrif mag vermink nie. Daarom is hy my net tot nut as hy die Koningswoord in die Bybel aan my leer. Selfs die engele en die apostels van ons Here mag nie iets kwytraak wat in stryd is met die Skrif nie (Galasiers 1:8)

Herman, baie dankie vir `n mooi gebalanseerde siening op iemand wat in volksgeledere dikwels as `n selfgefabriseerde afgod gedien word.

Ada ·

En ja, eers as ons ons weer tot God wend sal dit met ons beter gaan. Dit is ‘n gegewe.

ben ·

Siener het geskryf dat ons uitgemoor gaan word en alles gaan verloor – Dit is seker die grond. Dink dit is nou van toepassing. Eers as ons baie swaargekry het en alles verloor het en ons weer tot God terugkeer sal dinge verander.

JC ·

Interresante artikel.
Selfs al word slegs gekyk na siener se gesigte wat hy direk vertaal het (uitsluitend figuurlike gesigte wat nie deur hom self uitgeklaar is nie.), raak dit baie moeilik om nie te erken dat als wat hy gese het die waarheid was nie.

Ek wonder net soms; as ons “almal” moet liefhe. Waarom word daar spesifiek verwys na “naaste” en “verste”, en nie “almal” nie.
Net n gedagte…

AL ·

Eerstens is n profeet net n mens en nie almagtig nie (net die Here is) so daar sal gebeure wees soos in bg artikel wat mense wat Siener se visioene slaafs nagevolg het, dit nie die beste keuse was nie, en ander keer was hy in die kol.
Ja die ‘naaste’ laat mens dink aan jou familie en vriende. Tog het naastediens ook te doen met om vir n wildvreemde kos en klere te gee. Ons mag nie die boosheid van die wêreld liefhê nie, ek dink daar is perke aan die liefde.

anton ·

Jc…….jy is in die kol oor die ”naaste” en ”almal” teorie.
Dink baie mense wil maar net glo dat jou naaste , ”almal” insluit.
Dit is beslis ver van die waarheid!!!

Werner ·

Jesus het net gekom vir die verlore kinders van die huis van Israel.
Die kinders van die verlore huis van Israel weet nie wie hulle is nie. (Alle Jode is Israeliete, nie alle Israeliete is Jode nie)
Niemand kom na Jesus as die Vader hom/haar nie trek nie.God trek SY kinders. Dit is hierdie kinders wat na God en die Gelofte moet teruggaan. Oom Siener se duidelik die Afrikaner moet na sy geestelike wortels teruggaan.
Lees self sy visioene,bid voor die tyd vir insig en lees jou Bybel (1953 vertaling) bid, werk, glo en hou jou oe op God. Breek weg van sonde en weet wat sonde is. Draai weg van alle afgode.(afgode is nie net n budda beeld nie) God is besig om hard met ons te praat as ons nie luister nie gaan Hy harder MOET praat. (Hy lewer ons aan ons vyand uit) Moet nie die visioene/drome en waarskuwinge van Johanna minag nie.

Rynhardt ·

Die Woord,1933/53 vertaling van Die Bybel beskou ek as die heel beste, waarby die 50% “Siener-Bybels” van Adriaan Snyman en Prof.Raath nie kom nie.Die Woord is die fondament van kennis.Van die verlede, teenwoordige en toekomende kan jy meet aan die Woord! Siener se goed verskil hemelsbreed met die Woord rakende die eindtyd! Jy moet vandag die Woord baie goed verstaan, maar ongelykkig gryp n deel van ons volk na n kitsoplossing, die “Siener-Bybels” van Snyman en Raath is nommer een nou.Afrikaner/Boervolk jou voortbestaan hang af van die Here en nie van die “Siener-Bybels” nie! Afrikaner/Boervolk net die Here kan vir jou bevryding bring.Die boek, Blaas die Basuin deur A.Snyman bemark Snyman se skoonseun, Gustav Muller en die Suidlanders as bevryders van ons mense, terwyl daar geen bewyse is dat Siener hul voorspel het nie.In 2008 het Snyman die dvd, Siener-toer, Virginia uitgebring.Daarin bemark hy Gustav Muller as die persoon wat Siener voorspel het.Dit is n groot leuen.Nie Snyman of Raath se boeke is 100% akkuraat nie.In 1981 het die oorspronklike Siener-boeke verxwyn en later in die 90’s navore getree.Waar was die Siener-boeke oor al die jare gewees? Nie eens die media het geweet waar dit was nie.Het geheime agentskappe dit eers onder oe gehad en was daarmee gepeuter??? Jammer, maar die 1933/53 vertaling bly die beste-jy moet net Woord meesterlik verstaan.Snyman het “Siener-Bybels” verdraai om gewild te wees by sy skoonseun se omstrede Suidlanders.

Johan ·

Rynhardt – Ek deel jou gevoel. En hier verskil Raath hemelsbreed van Snyman. Ek het ‘n gesprek hieroor met Raath gehad. Ek dink jy is nader aan Raath se standpunt as wat jy dink.

Hoe mens ook al na Siener kyk kan mens hom nie ignoreer nie. En sy geskrifte bestaan. Raath het verduidelik hoe hy op die geskrifte afgekom het. Baie interesant.

Wat my siening oor Siener aangaan. Ek neem kennis en verwerp dit nie, maar laat my nie deur dit rondlei nie. Slegs die Bybel en Christus rig my.

En ek dink nie Siener se gesigte se enige iets oor die einde van die aarde nie.

sue-ann ·

Jakobus 1:26 as iemand dink hy is godsdienstig maar hy hou nie sy tong in toom nie bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos

Carol ·

Telkemale mort ons hoor ‘ die volk moet terugkeer na sy geestelike wortels’ waarmee ek heelhartig saamstem. Maar nou is my vraag….Moet die PArlement wat die hoogste gesag in die land is, nie weer met skriflesing en gebed vgeopen word nie. Moet hulle wat oor die land regeer nie ook die knie buig voor ons God Almatig nie? Maar in plaas daarvan is hulle tog so bang hulle diskrimineer teen ander gelowe dat hulle selfs tot sover gaan om teen hulle eie gewete in teen God Almagtig te diskimineer. Die nasie en volk van hierdie boom, ons land Suid Afrika , kan hulle kniee deur bid maar as die wortels , die Regering, van hier boom nie geestelik gesond is nie sal dit vrek. Daar kan n verskil gemaak word as almal saam hierdie land opdra aan die enigste God. Is dit te veel gevra?

Frissies ·

Mense wat nie siener se visioene verstaan nie moet asb nie gaan maar aan soos julle aangaan elke ou doen war hom beskik

vierkleur ·

en die feit dat van Rensburg voorspel het dal SA n swart regering gaan kry en die blankes onderdruk gaan word?????

Dries Theunissen ·

Baie dankie vir hierdie baie interesante stukkie oor Siener van Rensburg. Een ding staan soos ‘n paal bo water en dit is dat ons as ‘n volk moet terugkeer na God en na die Woord van God toe as ons enige uitkoms uit die situasie waarin ons, ons bevind kan verwag. Net soos Israel van ouds word ons vandag geregeer deur die godelose, word ons pragtige land wat met bloed en sweet gekoop en opgebou is deur andere geplunder en beroof.
Ons Afrikaners, soos die res van die Wereld, het verslaaf geraak aan wereld se vermaak, danksy die TV.
Mag ons Ou Boere Nasie ons tog besin, ons voor God verootmoedig en terugkeer na die Ou Paaie en daarop wandel.

Helena ·

Een van die dae, op 22 April, op ‘n plaas in Bloemfontein, het ons die kans. Ons as kinders van God moet saamstaan. Net Hy kan ons help, en dit is reg soos Siener gesê het, ons moet eers terugkeer na God, maar hoeveel van ons is bereid om dit te doen? Dit is maklik om te praat, maar die tyd vir doen, op ons kniee gaan het nou aangebreek. Is jy bereid?

LEM ·

Net soos oom Siener ‘n doring in die vlees was vir die destydse joiners en kanskakies, so is oom Siener ook ‘n doring in die vlees vir die liberaal wat sy visoene afskied.

GES ·

Ek het ook al baie gewonder oor die man wat uit die oostekant van die land sal kom, as ‘n geestelike leier, nie miskien oom Angus is nie. Hy het redelik daarin geslaag om die volk weer by die Here te kry. Daar is nog baie wat gedoen moet word en die skrif sê self dat die oes groot is en die arbeiders min is. Ek sal graag kommentaar wil hoor in hierdie verband.

JC ·

Ges. Siener het definitief gesê daar sal n leier opstaan wat die volk tot ruste sal bring en terug sal keer na God, maar ekt nerens gesien dat hy van die ooste sal wees nie…
Siener het ook gesê dit sal n onbekende geestelike leier wees, so ek glo nie Angus kan onder hierdie afdeling val nie.

zoom zoom ·

Siener het ook gese dat SA deur ‘n swart man regeer sal word en dit het gebeur. Al sy dinge wat hy voorspel het is deur sy dogter gepen sy was net sy skryfster. Gaan google gerus Siener se voorspellings en besluit self of dit maar net toevallig is.

carol ·

Ek gaan baie eerlik wees tot vandag to glo ek nie wat die siener gese het nie, Stenig my maar gerus maar die land sal nooit ooit weer deur die Witte regeer word nie hy het wel daarop neer gekom die nie blank sal n rukkie regeer dan gaan daar weer wittes regeer. ongelukkig is ons nou al in die laaste van openbaring. Die nie blanke is egter meer as ons wittes. want to nou kon plaasmoorde nie gekeer word nie dit word meer en meer elke dag die hele land is besig om agter uit te gaan en te reik vir afdraendes dinge word net erger dag by dag.

Johan ·

Carol, moet nie in getalle vaskyk nie. Die Israeliete het dieselfde gedoen en moes 40 jaar in die woestyn rond dwaal en nie een behalwe Kaleb en Josua het die beloofde land gesien nie.

En Openbaring en ons status daarin, is ons nie al sedert Paulus in die eintyd nie? Het die lam wat geslag is nie die eerste seël gebreek nie. Glo en vertrou God sal uitkoms gee.

gerbrandt ·

Ons moet positief bly Carol, negatiwiteit gaan nie werk nie.
Dan net om terug te kom na Godsdiens in die Parlement – met opening,ens . Mandela het dit gestop toe hy aanbewind gekom het – korrigeer my as ek verkeerd is asb?Dit was toe dat dit ook in verkeie skole begin stop het.

Hanna ·

Ja, Siener het geskry dat ‘n man in’n bruin pak klere ons leier sal wees. Ek weet nie van die Oostekant ding nie maar verbeel my hierdie man sou van Prieska se wereld afkom.

GES ·

As ek reg onthou, het van Rensburg van twee leiers gepraat. Een met grys klere (geestelike leier) en een met bruin klere (militêre leier). Die president van die nuwe Afrikaanse republiek sal by ʼn volksvergadering naby Prieska verkies word. Dankie JC vir jou bydrae, dit help om die legkaart aanmekaar te sit.

Dan ·

Siener is in 1926 oorlede. Hy het voorspel dat die Derde Wêreldoorlog by wyse van ligstrale gevoer sal word. Ligstrale? Wel, die VSA het reeds drie jaar gelede ‘n laser-kanon getoets. Die laserstraal word teen ‘n satelliet projekteer en van daar na die teiken gelei. Skynbaar kan ‘n hele stad met een straal verwoes word. En Siener se voorspelling oor die man van Vereeniging (de Klerk) wie die Afrikaner sou verraai en uitlewer? Prinses Diana se dood het hy ook voorspel. Die ys wat smelt. So ook die swart regering in SA. Dat daar ‘n tyd sal kom wanneer sy visioene weer druk bespreek sal word. Lyk my die tyd het aangebreek. Hy het gesê as die Afrikaner hom nie in hierdie tyd waarin ons nou is tot God gaan bekeer nie, is dit “tickets” met ons. Enigeen wie dit nie kan insien nie moet blind wees.

Boerseun ·

Ek stem saam die skrywer dat ons ons geloof in God Almagtig moet “herontdek” en herbevestig maar dan moet die misleiding in die kerk, asook in die liberale 1983 bybel vertaling werwyder word.

Almal wat die Woord ken weet byvoorbeeld hoe dat die 1933 Bybel vertaling, wat die 3de mees akkuraatste vertaling is vanuit die oorsprongklike Bybel rolle, verskil van die liberale 1983 bybel vertaling. Neem net Prediker 10:2 as ‘n voorbeeld.

Vra maar net ·

Hoekom nou se die Blanke gaan deur die Swarte onderdruk word, is die Blanke Afrikaner nie ook deur die Engelse onderdruk nie.?

Boerseun ·

Ek stem saam die skrywer dat ons ons geloof in God Almagtig moet “herontdek” en herbevestig maar dan moet die misleiding in die kerk, asook in die liberale 1983 bybel vertaling verwyder word.

Almal wat die Woord ken weet byvoorbeeld hoedat die 1933 Bybel vertaling, wat die 3de mees akkuraatste vertaling is vanuit die oorsprongklike Bybel rolle, verskil van die liberale 1983 bybel vertaling. Neem net Prediker 10:2 as ‘n voorbeeld.

Werner ·

Boerseun jy s 100% korrek.
Bly weg van nuwe vertalings. Did beslis ook nie vertaling waaruit Siener gelees het nie!

Ludwig Churr ·

Wel, oom Siener het gese dat ons meer en meer oor hom sal praat. Wanneer die ys smelt.

John ·

Die oom-Siener se gesigte en voorspellings is nie noodsaaklik vir die Afrikaner se voortbestaan nie. Die Bybel se alles. Die Bybel waarsku ook oor waarseers wat ons so graag nadertrek as ons angstig is oor die toekoms. Deur die Bybel te lees, te bid en te glo, is voldoende. Ons moet egter ook die Woord uitdra en nie net welsynswerk doen nie. Soos die wet nou staan moet gegee word aan die naaste, baie, maar nie ‘n Bybel nie. Ook nie ‘n woord daaruit nie. Dit kan jou in hof laat beland as ‘n skending van menseregte, wat beteken dat die uitdra van die Chistelike boodskap gestuit word. Dit gaan erger word in ons land… veel erger…

Peet J ·

Ek lees nie Siener se boeke nie maar wel die Almagtige God se boeke nl. die vyf boeke van Moses. dit is die Goddelike geloof en nie die christelike geloof wat deur die mens geskep is nie.

TTh ·

Ek dink Siener sou kon deurgaan as ‘n ‘Boereprofeet’, uit die Bybel vernaam Jes 5 en 6 is ‘n fantastiese voorbeeld vir die Boerevolk, vanaf volksplanting tot sy ‘amper’ einde. Die Boerevolk staan net so skuldig voor God Almagtig – Ps 80 is ‘n pragtige gebed ter verootmoediging in ‘n pleidooi teenoor God op grond van die gebeure van Jes 5 en 6. Ek kan soos baie ander volksgenote hoop en bid dat die Boerevolk permanent afstand sal doen van al die afgode (sport, drank, immoraliteite, hebsug, geld, materialisme, hoogmoed ens.) alvorens hierdie volk erns maak met God – dan sal die ‘poppe dans’.

adriana ·

Jy is reg Ludwig. Hy het ook gese dat Europa gaan oorloop van immigrante. Nou hoe kon hy dit geweet het. Die spoorlyn tussen Luderitz en Prieska gaan ook gebruik word. Hy het geskryf dat ons verraaier uit Veteeniging sal kom. De Klerk kom vandaar af. Jan Smuts self ook n verraaier het sy skrywes gekonfiskeer toe Siener geskryf het dat ons die Boere oorlog gaan verloor. En daar is vele meer. Doen die moeite en lees dit self op imternet. Julle dal verbaas oor wat hy alles geskryf het en self ervaar het dat dit gebeur het. Onthou hy was nie n waarseer nie. Hy was n gelowige man en God was vir hom die belangrikste. Sy volk was in die tweede plek.Ja die libs sal teen hom wees. Ongetwyfeld.

Skatymir ·

Dit verbaas my hoe die Afrikaners praat van rigters en profete ens. asof ons jode is. Dit is tyd dat ons nugter kyk na ons omstandighede soos Andries Pretorius en nie aan die midde-oosterse mitologie en bloedorstige boek vaskleef nie. Wat het dit die 30000+ vrouens en kinders gehelp om die midde-oosterse god te smeek om genade. En moenie sê dit is die god se wil nie want dan is hy beslis nie ‘n god van liefde nie.

Amanda Wait ·

Watse “geboerenasie/boervolk” is dit? Wat van die res van ons land se mense wat ook moet terugkeer na God? Julle weet hierdie land bestaan nie net uit Afrikaner Christene nie. Ons God het baie ander kinders in die land met net ‘n donkerder gelaatskleur. ALMAL moet BEKEER insluitend die goddelose regering!

As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
~2 Kronieke 7:13-14

Wie is daai volk? Destyds was dit die Israeliete, nou is dit die CHRISTENE! Die oordeel begin by die huis van God!

Chris ·

Lees die teks van Lied 482 in die LIedboek van die Kerk: “KEER TERUG EN KOM NA MY”

JJG Smith ·

Herman die probleem met die artikel is die hoek waaruit dit benader word. Indien die bestaan van afsonderlike Boerevolk in SA nie erken word nie sal die Siener se skrywes nie begryp word nie.

katrien ·

Wees bewonderd en maak vas julle geloof- hou op kyk na trump of putin of hoop vir n man om in ons land uit te kom- die antwoord le in die Hemel by God. Wag en sien. KYK op na die hemel en besef die wonder teken . Openbaring 12 – n vrou geklee met die son en die maan onder haar voete sal geboorte skenk. (kyk ” bethlehem” se ster skein weer. Sondit se vur ons dat dientye in openbaring 12 is besig om vervul te word. Leef ons nie in n wonderlike tydperk om dit te mag aanskou nie? Om deel daarvan te kan wees?

Henry ·

Dat jy die moed en deursettingsvermoë aan die dag gelê het om oorle’ oom Siener se ‘voorspellinge’ onder die loep te neem, strek tot jou eer Herman.

Ek het steeds geen behoefte om die oom se gewaande wyshede van nader te bekyk nie.

Jou objektiewe en beleefde skryfsel bevestig dat ek in hierdie geval my agtergeblewenheid sal koester en weet dat daar sovele ander waarhede is waarvan ek minder as niks weet nie, dat daar nie tyd en ruimte is om antwoorde vir die toekoms by hierdie bron hoef te loop soek nie.
:-)

Rynhardt ·

n Deel van mense wil vashou aan Siener en nie aan die Here nie.Ons Afrikaner/Boervolk het n geskiedenis met die Here terwyl heidense nasies hom verwerp! Kyk na parlement hoe die voorvadergeeste opgeroep word om presdent te seen.Jou Christelike geloof is van tv en uit skole verdryf deur daardie wat die Here haat.Dit vat my nie n leeftyd om te sien wat aangaan in SA en wereld nie.Wereldwyd neem die stryd toe teen wit nasies.SA, Europa en VSA word nou bedreig deur daardie nasies wat hom verwerp.Mattheus 24:7 spel uit dat nasie teen nasie gaan opstaan en is vir die eindtyd geskryf.

John ·

Ons predikante speel ‘n groot rol in die afbreek van die Afrikaners se geloof en selfvertroue en gevoek van ‘n-reg-op-bestaan op aarde en veral in SA. Die arme barmhartige samaritaan se goeie daad word nou tot die volle woord en waarheid van die Bybel verdraai. Eerstens het die Samaritaan nie alles verkoop en net gesit en wag vir al die naaste en verste en nasate en tannies en ooms en 20 oupas en oumas van die beseerde om alles aan hulle uit te deel nie en toe in ‘n hoekie gaan sit en te wag vir ‘n korsie uit die hand van die geholpenes nie. Maar ons predikante verwag dit van hul gemeente, terwyl hulself veilig in hul huise sit en handboeke skryf oor hoe die Bybel eintlik geinterpreteer moet word. Gratis sielkundige berading word Sondagogggende gegee, maar die sakkie word wel rondgestuur. Die volk moet niks he nie en gee, gee… en die wat moedhou en hul eiendom beskerm is eintlik darem nie regte egte Christene nie. Dominees lees ‘n slag die ander hoofstukke in die Bybel.

Ouma ·

Ek wonder ook wanneer ons predikante oor die profesië van die Bybel gaan begin preek. Dit is so duidelik soos daglig dat ons einde se kant toe staan. Die Bybel sê die vervolging, hongersnood en elende gaan so erg wees, dat as Hy nie kom nie, niemand sal oorbly nie. Ek wens predikante wil preek oor ernstige dinge. Ek vra nie “doom en gloom” nie. Maar waar die horlosie van God op die oomblik staan. Dit is belangrik om preke te hoor hoe om van dag tot dag te oorleef, maar dit is asof werklike diepte ontbreek.

Johannes Meintjes ·

Mag ons dan ook as onderdrukde maar gelowige (Boere) Afrikaners nie ons profetiese insae minag nie, maar in die volle evangelie van aanbidding en dade, as ware lidraers en voorbeeld aan die nasies, handel en wandel.

Elizabeth Dempers ·

Baie oor Siener Van Rensburg gelees,. Hy was’n baie eenvoudige mens, met ‘n vaste geloof in GOD. Hy het simbolies of in prentjies gepraat want vele dinge wat hy “gesien” het, het hy geen kennis van gehad. Al sy voorspellings hou by en verwys terug die Almagtige GOD. Roem nie op homself. Ek sien hom as ‘n Rigter, wys verkeerde dinge uit en verwys terug na GOD. My eie vader se mening (in Skotland gebore) Hy het geglo dat die afrikaners so onder mekaar baklei en stry, dat hulle eintlik hulle eie vyand word. Hulle nooit wil leer om mede afrikaners se mening te respekteer, want hulle reken elkeen op hul eie HULLE MENING IS DIE ENIGSTE MENING WAT TEL, en basta met die res. Lees gerus op media oor enige onderwerp waar mense hul opinies kan lig, dit raak ‘n bekgeveg. Tensy ons leer om werklik tot GOD terug te keer, leer om ons eie mense te respekteer en te luister na mekaar met respek, al verskil ons…..in respek van mekaar, sien ek ons as afrikaners as ‘n ERG VERDEELDE EN VERDWAALDE VOLK. Maar soos die gesegde lui: ……’n Profeet word nie in sy eie land erken nie. Jesaja en Jeremia, Joodse volk het nie van hulle gehou, want hulle het baie hard op mense se Hart Toontjies getrap. Wie is Blinder as die wat nie WIL SIEN nie en wie is Dower as die wat nie WIL HOOR nie.

Einde Van Die Tyd Gebeure (Facebook) ·

Kry eerder ‘n Bybelse perspektief oor die tyd waarin ons nou leef.
Besoek http://www.eindtydgebeure.com en studeer wat God aan ons openbaar vanuit die profetiese geskrifte. Tyd is bitter min!
Vrede!

Lizé Schoeman ·

Baie dankie vir hierdie artikel, ek Dink dit het Baie oë laat oopgaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.