Nuuskommentaar: Waar is die nuwe beginpunt?

Argieffoto: Pixabay

Sake kan eenvoudig nie aangaan soos nou nie: met hofsake, staatskaping, #GuptaLeaks en vele meer. Om op ’n hopie te gaan sit en ’n depressie te voed, help ook nie. Solidariteit met sy selfhelpplan bied aan elkeen van ons die geleentheid om die arms uit die mou te steek en iets vir ons medemens te doen.

Wanneer ’n rekenaar moeilikheid maak, is dit soms nodig dat ’n program ingespan word wat die rekenaar “terugneem” na ’n datum in die verlede voor die moeilikheid begin het. Die horlosie word as’t ware teruggedraai, en heelwat nuwe opgraderings gaan so verlore.

Baie Suid-Afrikaners sê hulle sou graag die horlosie wou terugdraai. Daar gaan gereeld stemme oor die Kodesa-referendum op, wat as die “punt van uitverkoop” beskou word. Die Kempton Park-verwikkelinge is egter bloot ’n kwessie om van kennis te neem met die oog daarop dat kiesers moet leer uit sulke gevalle sodat foute nie herhaal word nie.

Bell Pottinger en KPMG het albei beslis ook datums waarna hulle die horlosie sou wou terugdraai, as hulle maar kon.

Die werklikheid is dat water nie meer die meul kan draai as dit eers onder die brug deur is nie.

Sommige verledes bestaan ook nie eens nie, soos ’n tyd toe swart mense al die grond in Suid-Afrika sou besit het (grond wat in ieder geval by die KhoiSan afgeneem moes gewees het). Dit gaan lol om die horlosie na so ’n punt terug te draai – so ook die tyd waarop Zuma aanspraak maak dat swart mense in vrede geleef het en baie pret gehad het.

Die verlede is daar om met wysheid uit te put, mits die verlede nie ook die produk van die oorwinnaar sal wees nie.

’n Nuwe beginpunt kan in die toekoms gesoek word, maar dan moet dit ook ’n realistiese beginpunt wees wat ’n mens met al die kennis daaroor hy beskik, sal aanpak.

Dit sou immers laf wees om te reken op ’n nuwe beginpunt wanneer die IVP in 2019 aan bewind kom. Selfs om al die eiertjies in die mandjie te wed dat die ANC beslis in 2019 aan bewind sal kom, en daarom eenparty-reëls te laat geld by die bepaling van die nuwe beginpunt, kan onverantwoordelik wees.

In werklikheid sal dit goed wees, sou op 2019 vir ’n nuwe beginpunt gereken word, om uit te werk hoe ’n koalisie sake vorentoe kan neem. Die hoogs-ongewone praktyk dat die EFF nou die DA en ander partye help om koalisies teen die ANC te vorm, moet deeglik uitgepluis word. Dié problematiek is onlangs in ’n rubriek deur Johann Maarman, adjunk-redakteur van Die Burger, onder die loep geneem.

Om op die EFF weer as koalisievennoot te reken (met of sonder gedoogde steun) kan baie riskant wees as dr. Nkosazana Dlamini-Zuma vir Zuma opvolg. Die EFF het nie probleme met Dlamini-Zuma nie, anders as met Zuma waar ’n persoonlike vete eerder as beleidsverskille ’n wig indryf.

Dit is goed om ideale en planne vir die toekoms te hê en om daardie ideale aan kiesers verkoop te kry en hulle sodoende met moed te vervul.

Vandag se werklikhede kan egter ook nie bloot geïgnoreer word nie. Om die Engelse “spreekwoord” in te span: “We will double cross those burning bridges once we get there.” Dit beteken die brûe bestaan in alle waarskynlikheid nie meer as die toekomsbeplanners daar aankom nie.

Dit is goed en reg vir Christene om na die wederkoms uit te sien. Dit moet egter nie as kruk dien vir diegene wat heeltemal moed verloor het en hulle aan die huidige werklikhede wil onttrek nie.

Die huidige werklikhede is dikwels nie mooi nie en dit kos kophou tussen staatskaping, #GuptaLeaks, hofsake en vele meer deur om te weet waar en hoe om betrokke te raak.

Want soos dit nou gaan, kan dit nie aangaan nie. Gelukkig hoef ons nie die nuwe beginpunt alleen te soek nie, en kan ons by Solidariteit met sy Plan B aansluit en betrokke raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Baie ware woorde en n moedskepgeleentheid tussen die kartetse van skande wat sonder ophou op ons reën.

John ·

Ek stem. Na ‘n glasie of twee Amarula lyk alles beter en die berg vuil skottelgoed ook nie te erg nie… Selfs studente kan nanag by die antwoord op al die wereld se probleme uitkom na ‘n lang gestry… Maar die volgende oggend kan mens skaars jou skoenveter se punt vind… Wat nog die nuwe beginpunt van ‘n weereens Nuwe SA waarvan die vernis nou al redelik afgeskif is. Nog ‘n glasie, Herman?…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.