Nuuskommentaar: Wat kan van Afrikaanse kerke oor Zuma verwag word?

kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die opdiep van jaar oue kerklike dokumente toon aan dat verskeie Afrikaanse kerke reeds gevra het dat pres. Jacob Zuma die politieke toneel moet verlaat, en om redes wat vandag steeds teen Zuma se kop geslinger word. Is dit steeds hierdie kerke se standpunt, en hoe behoort lidmate daarop te reageer? En gaan Angus Buchan die komende naweek met sy saamtrek van moontlik meer as ’n miljoen mense buite Bloemfontein steeds satynhandskoene oor die Zuma-kwessie dra? Interessante keuses lê vir Christene voor – en die keuses sal gou gemaak moet word.

Terwyl aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk hom sterk uitspreek oor hoe die huidige volksopstand teenoor pres. Jacob Zuma moet optree, en verskeie swart kerke hul steun aan Zuma toesê, is daar groot afwagting vir Afrikaanse en ander kerke om te reageer.

Maar wat, as hierdie kerke reageer, kan verwag word? En is dit vir hulle nodig om nou weer te reageer nadat dit ’n jaar gelede wel gedoen is?

Ongeveer ’n jaar gelede skryf dr. Gustav Claassen in ’n skrywe wat op die NG Kerk se webwerf verskyn het, aan kollegas onder meer die volgende: “Die NG Kerk ondersteun dan ook die SARK in sy versoek dat die president moet afstand doen van sy pos.”

Verder skryf hy: “Ook die feit dat ons nie ’n goeie rekord het ten opsigte van deelname in die politiek kan nie ons stem stom laat nie … Kortweg, die NG Kerk neem deel, want sy kan die samelewing nie prysgee nie. Die kerk behoort sekerlik deel te wees van die openbare gesprek, die openbare debat, die oplos van openbare konflikte, die vorming van ʼn openbare mening, die voortgaande besinning oor gemeenskaplike waardes waarop gebou moet word, die gemeenskaplike doelwitte wat nagejaag moet word, die soort lewe wat Suid-Afrikaners saam met mekaar wil leef … Die moderatuur wil ‘n beroep doen op lidmate om in hierdie tyd ernstig voorbidding te doen vir die situasie in die land.”

Ook die Nederduitsch Hervormde Kerk het hom ’n jaar gelede soortgelyk uitgedruk, en pas weer in die jongste uitgawe van Die Hervormer. In ’n nuwe artikel oor korrupsie word onder meer geskryf: “Talle denominasies het reeds hul stem gevoeg by dié wat roep dat korrupte leierskap tot ’n val moet kom. Die Hervormde Kerk moet met groot vrymoedigheid en getrouheid aan Jesus se verlossingsdade dit ook kan doen, maar terselfdertyd ook lidmate oproep om in hul eie leefwêreld, met gehoorsame opoffering, korrupsie te bekamp en te bestry. Sodoende kan ons die verlossingsdaad van Jesus om werklik vry te wees, ook vir ander mense verwerklik.”

Op 12 April verlede jaar reik dr. Wouter van Wyk, sekretaris Kommunikasie van die NHK, saam met biskop Gilbert Filter van die Lutherse Kerk van Suid-Afrika ’n gesamentlike openbare getuienis uit. In hierdie skrywe staan onder meer die volgende: “Om die waarheid te sê, sy (Zuma se) optrede vernietig juis die morele vesel van ons gemeenskap en is ’n wesenlike oorsaak van konflik en polarisering in ons gemeenskap. Ons het geen ander keuse nie as om saam met talle ander te vra vir mnr. Zuma se onmiddellike bedanking as president van die Republiek van Suid-Afrika.”

In Junie 2015 het die Tussenkerklike raad van die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika namens dié drie kerke ’n uitnodiging wat ook aan ander Afrikaanse instellings gerig is om samesprekings te voer met Zuma en die leierskap van die ANC van die hand gewys. Hulle motiveer dit onder meer soos volg: “Die jongste verwikkelinge rondom die Nkandla-verslag het die TKR genoodsaak om sy deelname aan die gesprek van 9 Junie te heroorweeg. Die misbruik van regeringsinstellings om die persoonlike verryking van pres. Zuma vanuit openbare fondse te kondoneer en hom van persoonlike aanspreeklikheid te vrywaar, is na ons mening immoreel en bevorder sistemiese korrupsie in staatsinstellings. Die ANC se gebrek aan morele leierskap met dié aangeleentheid bemoeilik die komende gesprek, omdat die TKR slegs op grond van bepaalde morele uitgangspunte met u in gesprek sou kon tree. Wedersydse erkenning van basiese morele uitgangspunte is na ons mening noodsaaklik vir enige toekomstige gesprek tussen die ANC, kerke en burgerlike organisasies. In die lig hiervan het die TKR besluit om nie u uitnodiging tot gesprek te aanvaar nie.”

Elke lidmaat van dié drie kerke sal, tot tyd en wyl die kerke pertinent op die vollksopstand reageer, moet vertolk en besluit of daar steeds ’n bedoeling is dat Zuma die trekpas moet kry. En hoe behoort elkeen aan die proses deel te neem?

Hoewel die breë strekking van die oproepe vir Zuma om van die toneel te verdwyn, uit die skrywes hierbo ook die ander kerke inbind wat lid van die SARK is, is baie kerke nie lid van die SARK nie.

Die AGS het wel, by monde van sy president, pastoor MG Mahlobo, die afdanking van min. Pravin Gordhan gekritiseer, en sluit die verklaring soos volg af: “We call upon the Government to display transparency when exercising state authority. Moving forward, we also call upon our Government to display prudent and responsible leadership over the country’s fiscus and economy. We further call on our pastors and members to bring the current situation of uncertainty to God in prayer this coming Sunday.”

Standpunte oor hoe die Christen op die Zuma-fenomeen, en veral sy verwydering as president behoort te reageer, is reeds verskeie kere in Maroela Media onder die loep geneem. Lees hier, hier en hier.

Wanneer kerke op spesifiek die huidige situasie sou reageer, is daar soveel komplekse faktore wat verreken moet word. Een oorweging is byvoorbeeld dat hul lidmate ná afloop van ’n proses met ’n onseker toekoms nie slegter daaraan toe sou wees nie. Daar moet genoeg remfaktore wees om te verseker dat die proses nie in geweld oorgaan nie, en die jeugliga het reeds getoon dat selfs ’n gedenkdiens as deel van hul slagveld benut kan word. Die MK-veterane het met ’n tipe magsvertoon gekom, en steeds wonder baie Suid-Afrikaners hoe so baie penkoppe nou veterane kan wees.

Verskeie ontleders en navorsers waarsku dat die veldtog teen Zuma die gevaar inhou dat hy sy posisie kan versterk, en sommiges meen hy het reeds daarin geslaag.

Hierdie naweek vind ’n groot saamtrek van Christene buite Bloemfontein plaas, waar onder meer oor toestande in die land gebid sal word. Dit word deur die bekende Angus Buchan gereël, en meer as ’n miljoen mense van oor die land heen word verwag. Buchan was voorheen traag om kritiek oor Zuma uit te spreek. In 2010, tydens ’n saamtrek by die Uniegebou, het Buchan gesê hy sou, as Zuma teenwoordig was, vir hom as president gebid het. Hy het ook gesê Zuma moet gehelp en nie gekritiseer word nie, en dat die Bybel sê mense in gesagsposisies moet gerespekteer word.

Dit gaan interessant wees om te sien of Buchan steeds gaan voel dat Zuma wesenlik nog nie deur God geweeg en te lig bevind is, soos met Belsasar in die Bybel gebeur het nie.

Swye en draadsit as opsies raak nou snel onder druk. Handel, maar handeling volgens die Bybel, lyk nou na die aangewese weg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Genieve ·

Ai dis vreeslik as die kerk altyd by politiek betrek word.

Koos1 ·

Herman, baie interresante vraag wat jy met hierdie stuk vra, maar ek dink ek en jy weet wat die antwoord gaan wees….niks. Daar word sinode op sinode gehou en die simpelste debate word gevoer en na die sinodes word geen of min vordering gemaak (belydenisse, vroue in die ampte, gays en noem maar op) en terwyl die Afikaners so met mekaar baklei, word ons land onder ons uit gepluk. Verstaan my reg, ek is ‘n Gelowige in God die Drie eenheid, maar kerke slaan my dronk. Hoekom so baie kerke en genootskappe? Is een beter as ‘n ander? (Dan oordeel hulle!)

pieter ·

KOM ONS VERGEET VAN KERKE EN SOEK ONS ANTWOORD IN DIE WOORD VAN GOD DRIE EENHEID.AS ONS ONS DIE NAWEEK NIE AS CHRISTENE NIE MAAR AS GELOWIGES ONS VEROOTMOEDIG EN BELY SAL DAAR ANTWOORD KOM.MOET NIE VERGEET DAT SATAN AS N BRULLENDE LEEU IN DIE LAASTE DAE SAL WEES NIE.

Theresa ·

Maak eintlik nie saak watter instansie dit vra of sê nie. Punt bly staan dat regoor die wêreld (waar geregtigheid gehandhaaf word) is die president van ‘n land ‘n eerste burger van aansien. Aansien, weens respek, eerlikheid, intelligensie (‘n besliste moet), regverdigheid en visie. Die Christen en veral Afrikaanse Christene hoef nie nou die spit af te byt as iets nie verbeter met die patetiese landsbeheer nie. Dis die mense wat die man in daardie pos hou wat moet dink. Is dit egter moontlik? Word dit gedoen? Indien wel, waarom so ‘n snaakse uitkoms telkens dat hy sy pos behou. Ja, mense in gesagsposisies moet gerespekteer word – dan moet almal ophou om die verlede – hoe ver terug ookal, die benarde hede, en ‘n onseker toekoms se gesagsposisies respekteer. moeilik??

lettie ·

Ek glo en ek weet ek mag nie oordeel nie, maar dat Zuma se strategie is dat van die kerke hom moet rugsteun. Ek glo ook nie dat hy dit met opregte, eerlike motief doen nie.
My vraag is, as van die kerke hom rugsteun, bevraagteken ek die moraliteit van daardie kerke. Word hul kerkgangers nie mislei deur n korrupte en immorele president nie.
Christene moet aktief betrokke wees wanneer leierskap ontspoor – hetsy om petisies te teken van https//noconfidence.co.za of Angus te ondersteun of albei.
Dis om ñ misdaad of onreg voor jou oë te sien gebeur… En dan om te draai en te loop… Jy kom nie jou Christelike plig na nie – dis dieselfde prinsiep.

Skim ·

Kerk en Politiek moes nooit gemeng het nie. Dit is waar meeste probleme begin het. Hou die twee uitmekaar, want dit lyk asof die kerke ook dubbele standaarde handhaaf. Eers het hulle versies in die Bybel gekry om apartheid te regverdig, nou is daar weer versies wat apartheid afskiet, waarmee hulle die publiek kan bykom .. KONSENTREER op die uitbou van die woord en leer mense meer van die BYBEL, want julle het dit tog geswot. Los nou maar die politiek vir die leuenaars en skinderbekke.

andrea van vuren ·

Zuma gryp nou na die laaste strooihalm. Hy pluk die geloofskaart uit! Gaan hy daarmee die Christene sagmaak?

Johan ·

Wat vestaan mense nie….Hierdie naweek is nie n politieke byeenkoms nie…..dis n bid dag saamtrek…..ons land is in die moeilikheid…….die land is nie in ons hande nie die is in GOD se beheer….hy het n plan vir ons….net GOD kan alles rakende ons land verander….misdaad, armoede, die leiers ens ens…..en as jy daaroor wil praat…..die land se president is net in sy amp omdat GOD hom toelaat om daar te
wees…..

AL ·

Absoluut is dit nie ñ poltieke byeenkoms nie – alle Suid-afrikaners is deurtrek van vrees en angstigheid, en dus die doel van Angus se byeenkoms.
Ons mag vir ons land bid, want dis NET God wat ons kan help dat die land nie totaal ontspoor.

Plaasjapie ·

Ek sal nie Angus se bid dag verigtinge bywoon nie. Teen my geloof om saam met vyande te bid. Gaan doen bietjie julle huiswerk oor Angus voor julle my oor my stelling wil kritiseer.

Jong ·

Ek dink jy leen jou ore te maklik uit en oordeel iemand op grond daarvan… Da is niks met Angus fout of met dit wat hy doen nie….. Betwyfel die feit dat JY ooit sal opstaan en so iets
aanpak… En ek betwyfel die feit dat JY vlek loos is.

John ·

Die Kerk het vandat sendelinge hier aangeland het, meer belanggestel in die land se minerale as in sy ongekerstende siele gehad. Die gevolge voel ons. Zuma se streke was voor sy aanstelling wyd bekend en hy word deur mense soos hy onderhou. Daar is geen leier op die horison wat die Kerk en die reg van wit mense in die land steun nie… #ZumaMustGo klink op maar na hom… een nog erger sonder etiese standaarde. Die Kerk praat saam en Angus (‘cover’ vir sy plasie in Natal?) maar ry bloots die vrese van Afrikaners? Wit kerke gaan nie gespaar bly nie… Dit is die crux van die ‘groot skrik’ wat kom… Al gehoor van kommunisme? Gelees oor die Israeliete as slawe in Egipte wat nie eers tyd kon kry om hul brood te laat rys voor bak nie sodat hul vinnig kon vlug… matzos vandag nog teken van nederigheid voor die Here… Selfs sonder Nkandla en 700+ korrupsie-sake, sou die ANC hierdie rigting ingeslaan het vandaar die tekort aan ‘n teendeel.

Johanvh ·

Johan is reg. Mense moet nie hul eie agenda soek nie. Ek het goed gelees wat vir Oom Angus uit jou as n Katoliek. Ander weer dat hy oorheers word deur Garasmatiese invloede. En iemand wat geld na jaag. Maar het een ander mense daar aan gedink om Iemand te vra om mense bymekaar te roep, en tot GOD te nader? Dankie Johan Lee wat Oom Angus gevra het, of hy dit Gebeds byeenkoms sal lei. Wat het jy onlangs gedoen wat uit die gemak van jou rusbank skreeu. Hul vra nie geld nie en tog is daar 10 km kabel met vir die klank gele. Wat GOD voorsien het… Oor Zuma wat dink hy kan GOD gebruik vir sy eie gewin…Sy tolletjie loop ook leeg. As jy nie wil gaan, sit in jou rusbank maar moet nie ander wat GOD se aansig soek oor SA pla nie

Jaco Malan ·

Kerke was nog altyd deel van die politiek.
Die enigste verskil is dat kerke nie die vlakke van subsidies en onderstuening van die staat kry wat hul in die ou bedeling gekry het nie.
Maak nie saak wat die kerke se nie, Zuma gaan nerens nie. Die Afrikaner verstaan nie die moderne politiek in RSA nie, en almal praat groot. Daar is twee keuses, stem die party uit, of raak geweldadig en lig die regering uit die kussings. Geweld sal nie werk nie, omsdat ons ons ruggraat weg gegee het met CODESA. Al wat oorbly is ooms met bierpense wat by n braai vertel hoe hul die swart gevaar op die grens weggehou het.
As mens dieper kyk is dit n gewonne stryd aangesien die Afrikaner n negatiewe bevolkings groei toon en dus oor n paar generasies net n insrywing in boeke sal wees.

Peet J ·

Indien mnr. Buchan, enige kritiek of afkeuring teenoor die regering of die president laat deurskemer kan die byeenkoms in ‘n gevaarlike situasie ontaard omrede verskillende rasse, gelowe en politiekepartye ook teenswoordig gaan wees.
Mnr. Buchan sal sy woorde versigtig moet kies met betrekking tot sy boodskap aan die gemeenskap. Hierdie biddag is ‘n ideale geleentheid vir die kriminele om toe te slaan want hulle ontsien nie eers meer ‘n kerk nie.

Niekie ·

VERGEET ALLES EN ALMAL EN ROEP NA GOD OM IN TE GRYP….HY ALLEEN IS MAGTIG

Niekie ·

VERGEET ALLES EN ALMAL EN ROEP NA GOD OM IN TE GRYP….HY ALLEEN IS MAGTIG. ALLE EER AAN MY KONING VIR WAT HY GAAN EN KAN DOEN

Seeklong ·

SATERDAG SE SAAMTREK HET NIKS MET ZUMA, ANC, OF ENIGE ANDER POLITIEKE GROEP TE DOEN NIE. VAN DIE BEGIN AF IS DIT DUIDELIK DAT ALLE SUID AFRIKANERS MOET SAAMKOM OM TE BID TEEN PLAASMOORDE, KORRUPSIE ENS. MOET NIE VIR OOM ANGUS BETREK MET DINGE WAARMEE HYSELF NIKS TE DOEN HET NIE. HY IS DAAR VIR GOD EN GODS MENSE, NIE VIR JOU EN JOU POLITIEK NIE

Antjie ·

Christianity Today het ‘n artikel geplaas hoe die Koptiese Christene in Egipte die wind uit die suile haal van die ISIS ondersteuners wat hulle so ondergrawe en doodmaak. Respek word nie gekweek deurdat kerke polities raak en van hul eie oortuigings vergeet nie. Kerke moet hul ledemate aanmoedig om vanuit ‘n sterk Christelike basis, konsistent enige politiese aanvalle met liefde teë te staan en leiding te verskaf hoe mense veronderstel is om op te hou met hul ongeregtigdhede. Ek weet aansluitings word hier nie verdra nie, maar gaan lees gerus wat die betrokke artikel oor die effek van die Kopte se gedrag te sê het. Mens kan nie net kwaad met kwaad vergeld nie. Christenskap vra ‘n baie fyner strategie om God toe te laat om mense se harte te verander. Ek hoop ons kerkleiers kan die voorbeeld verskaf wat ons daagliks gaan nodig kry daarvoor.

Suzette McDonald ·

Angus het dit duidelik gestel hy bid nie teen die regering nie, maar VIR die regering. Hy is ‘n man van God, en ons gaan more saam met hom bid vir ons land. dit gaan nie oor die regering nie, maar oor die toestand van ons land. ongelukkig is die regering die probleem. hou asb politiek uit die dag van more. ek glo Angus gaan ‘n goeie boodskap he. mooi en veilig ry almal wat die tog Bloemfontein toe aanpak. God Seen Suid-Afrika

Peet J ·

Plaasmoorde en korrupsie maak dan juis deel uit van die regering en die president.
Let Wel: Die biddag ,volgens Buchan, handel oor die mense se vrees, stres, angstigheid, emosionele en verstandelike siektes wat genees gaan word. Sterkte

Hennie la Grange ·

Verduidelik vir my twee goed, want ek is werklik onkundig:
Eerstens: Die ANC regeer. Die ANC regeer met n demokratiese meerderheid. Die ANC bepaal dus wie die land in die hoedanigheid as president lei. My logika wil dit hê dat as president Zuma uit die kussings gelig moet word, die ANC dit moet doen. As die ANC dit nie doen nie, is wat die man aanvang, hulle kollektiewe verantwoordelikheid. Ek verstaan nie hoe, in die stryd teen Zuma, die ANC self nie aanspreeklik gehou word nie, maar skynbaar net Zuma as indiwidu. Hoe kan die twee – die Presidensie en die ANC – van mekaar kan losstaan?
Tweedens: As die grondwet van die Republiek ons nie kan beskerm teen magsgrepe en korrupsie nie, en nie daarin kan slaag om die president voor stok te kry in n dissiplinêre ondersoek nie, het myns insiens die grondwet ons in die steek gelaat.

Peet J ·

Wat jy sê is korrek.
Net om by te voeg die grondwet is nie geskoei op die wet van die Mede en Perse nie sodoende is die regering by magte om dit te herroep en soos hy voorgee, om die foute van die verlede reg te stel. Die grondwet is al male sonder tal deur die regering verander om hulle te pas.

Johannes Meintjes ·

Daar word soms genoem dat mens moet kwalifiseer om te kan praat oor ‘n onderwerp. Ek is reeds vir meer as 50 jaar ‘n aktiewe gemeentelid en is sedert 1994 met sendingwerk gemoeid. My vraag is waarom die kerke sedert 1652 skynbaar nie daarin slaag om gemeentelede tot geestelike en praktiese volwassenheid te lei sodat elke gemeentelid soos geroep en gesalf, elkeen iewers op ‘n tersaaklke lewensterrein sout, lig en suurdeeg, – hetsy polities, skoolraadbestuur, munisipale bestuur, welsyn, uitreik, sending, buurtwag, trauma berading, wedersydse begrip, geestelike inspraak en algemene stigtelike volhoubaarheid. Sou “Oom Angus” die nuwe Messias wees op die heidense Feesdag van Ishtar (22 April) terwyl die kerke toekyk is dit nou so. Die toets van Kerk en Oom Angus rus miskien in die feit of dit werklik en oortuigend daarin slaag om gemeenskap en regering tot vrug te be-invloed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.