Nuuskommentaar: Wie is ‘ons’? Werp dit lig op Coligny?

Betogings in Coligny en Lichtenburg in Noordwes (April 2017). Foto: Facebook via Intelligence Bureau SA

Wat is die potensiaal dat ons nog voorvalle van onluste kan sien soos in Coligny, Lichtenburg en Lenasia waar ras duidelik ’n rol gespeel het? Solank die president die rassepot so blatant bly roer, bly die gevaar ’n werklikheid.

“Who is us?” Hiermee word ’n artikel in blog-formaat in die Christian Science Monitor ingelui. Die skrywer, Mark Sappenfield, is ook die koerant se adjunk-nuusredakteur.

Hy gebruik verskeie voorbeelde in die VSA en elders in die wêreld om te demonstreer dat ’n neiging nou bestaan dat mense hulself op die een of ander wyse met ander wil identifiseer, byvoorbeeld ras, geslag, landelik en so meer. Die goeie vertoning van Marine le Pen in die eerste ronde van die Franse presidentsverkiesing word as voorbeeld gebruik van waar die identifikasie van die “ons” belangrik is. Hy verwys byvoorbeeld na Le Pen se stelling dat nuwe byvoegings van ander die tipies Franse karakter “verdun”.

Oor hoekom dit nou so wêreldwyd sterker na vore sou tree, wys hy daarop dat die oorsake veelvuldig en ook kompleks is, maar hy haal ’n adviseur uit die Clinton-era aan om wat hom betref die hoofoorsaak uit te lig: “It is the economy, stupid.”

Is dit toevallig dat pres. Jacob Zuma se abortiewe Londense beeldpoetsers Zuma se huidige vreeslike rasbewustheid aangevul het met (skadelike) ekonomiese uitdrukkings soos wit monopolistiese kapitaal (lank reeds grootliks as ’n mite uitgewys) en radikale ekonomiese transformasie. Selfs die projek wat Zuma gister by Harrismith geopen het, is nou skielik ’n onderdeel van radikale ekonomiese bemagtiging, so asof dit so beplan was, terwyl reeds aan die verwesenliking van die projek gewerk is ongeveer ’n dekade voor die term radikale ekonomiese transformasie uitgedink is.

Dikwels sal die ekonomie ’n rol speel by ’n situasie wat eintlik om identifikasie handel. Met gister se onluste in Lenasia het die betogende en oproerige inwoners dit duidelik gemaak dat hulle aanhou moles sal maak tot die gevaar afgeweer is dat plakkers op ’n oop stuk staatsgrond naasliggend tot Lenasia plak. Hulle voer onder meer aan dat hulle ten duurste vir hul huise betaal het, en erfbelasting en diensheffings betaal, terwyl die plakkers alles verniet wil kry. Die plakkers is self oproerig en voer aan daar word teen hulle gediskrimineer omdat hulle swart is.

Wat is werklik onderliggend aan die onluste wat in Coligny, en tot ’n mate in die naasliggende Lichtenburg, uitgebreek het? Die swart inwoners sê dit handel oor ’n wit man wat nie in hegtenis geneem is nie nadat ’n onbekende swart seun van ’n bakkie afgeval en gesterf het. Volgens TV-insetsels glo die swart inwoners as die bakkiebestuurder swart was, sou hy vasgetrek gewees het.

Die Vryheidsfront Plus meen die voorval was bloot ’n rookskerm om te gaan plunder, en dat veral drankwinkels deurgeloop het. Tot die kroeg in die hotel is geplunder.

Die talle en voortdurende xenofobiese aanvalle pas ook in die kategorie.

As erbarmlike sosio-ekonomiese omstandighede heers, dan is daar ’n konflikpotensiaal. Wanneer daar egter voldoende parallelle met die identifikasie van ’n “ons” en “hulle” is wat ook die sosio-ekonomiese werklikheid ondervang, is die konflikpotensiaal oneindig groter. Die politieke sosiologie ken dié beginsel al lank en druk dit grafies uit in die model van relatiewe deprivasie. Wanneer die verskil tussen gemeenskapsverwagtinge en die werklikheid te groot word, kan dit ’n rewolusionêre plofpunt bereik.

Maar is Zuma se “identifikasiepolitiek” op rassegrondslag nie maar ’n weerligafleier dat hy jaarliks ’n salaris van ’n paar miljoen rand verdien, terwyl ’n groot deel van die bevolking heeltemal niks, of bitter min verdien nie?

So wil dit immers lyk as na die rassesamestellig van die protesoptogte van sy voortgesette presidentskap gekyk word. En dan is Zuma se pikante reaksie dat die optogte en saamtrekke “rassisties” is juis meer skreiend, des te meer oor die fabrikasie van ’n storie oor plakkate wat swart mense as ape sou uitbeeld.

In die verlede het onluste verskeie kere etniese angs-“foutlyne” oftewel verskuiwingsvlakke laat versprei. In die Oos-Vrystaat is verskeie munisipaliteite waar sommige dorpe ’n Zoeloe-meerderheid het, en ander ’n Suid-Sotho-meerderheid. Kom die burgemeester uit die een gemeenskap, is die ander gemeenskap wantrouig oor ’n voortrekkery. Loop dit op onluste uit, versprei dit gou in dorpe al langs die “foutlyn” af – en wesenlik van Qwaqwa tot Heilbron. Persepsies speel ’n enorme rol.

Beteken dit daar is nou ’n gevaar dat die Coligny- of Lenasia-onluste ook na ander dorpe kan versprei waar armoede en gebrekkige dienslewering probleme is, en waar daar spanning tussen identifiseerbare gemeenskappe bestaan?

Teoreties bestaan die potensiaal. Die potensiaal kan egter ook ’n nare werklikheid word as die president voortgaan om die rassepot op onverantwoordelike wyse te roer, en as die media onverantwoordelike dinge doen. Die SAUK het gisteraand byvoorbeeld met verskeie nuusuitsendings beeldmateriaal vertoon van ʼn “onderhoud” met ’n man wat sê hy was konserwatief, en dan die beeldsending in die middel van die sin staak. ’n Mens sal nou nie weet of hy in die proses was om water op die vuur te giet, of petrol nie. Die indruk word egter nou gewek dat die manipulasie gebruik word om die skuld vir die gebeure op konserwatiewe/regse wittes/Afrikaners te werp. ’n Openbare uitsaaier is darem nie veronderstel om so blatant klein byltjies te slyp nie.

Dit raak al moeiliker om te sien hoe die land nog gevalle van Coligny en Lenasia kan vryspring as Zuma voortgaan om sy ampseed – dat hy in belang van al die land se mense sal regeer – so blatant in die wind te slaan. Veral met intelligensiedienste wat nie oor die vermoë beskik om tydig te kan waarsku as ’n situasie gaan ontbrand nie (maar darem glo “geweet” het Pravin Gordhan en geselskap sou oorsee Zuma se beeld beswadder).

’n Newe-effek van die Coligny-Lichtenburg-onluste is dat nuus, waaronder fopnuus, wat deur die sosiale media oor broeiende onlussituasies versprei word, waarskynlik met groter erns bejeën gaan word. Die probleem was dat amptelike kommunikasie van die owerhede hopeloos ontoereikend was, en die sosiale media eintlik ’n duideliker prentjie geskets het (hoewel plek-plek oordrewe en alarmisties). Om die erns van sake te gaan afspeel, is doodgewoon gevaarlik, en die owerheid moet leer dat behoorlike kommunikasie deel van ’n oop demokrasie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Kaufman ·

Dit wat nou gebeur kan baie ernstige gevolge hê vir ons almal. Ek is ook bekommerd oor die gebrek aan kommunikasie, nie net van die regering nie maar hierdie einste platform wat in goeie posisie is om ons in te lig wat eintlik aangaan maar daar word liewer oor die van Breda karakter berig.

Jollies ·

Ons weet al vir jare dat die plakkerskampe met n doel rondom die dorpe soos paddastoele verrys het! Die wat dink dienslewering en n kind wat dood is, soos wat hul in Coligny gebruik is waar, is blind en wil nie sien nie. Dit is bloot om anargie te stig en chaos te skep soos wat Angola en ander Afrika state voorbeelde was. Daarom kan mens sê ja dit is def n rasse konflik en apartheid van hulle kant want Afrika word mos as hulle kontinent beskou en wil hul alles wat westers is vernietig. Hulle kultuur en leefwyse is totaal anders as die westerste nasies. Al sê al die slimmense wat, hulle voorvader gees is hulle god. As hierdie volk wat God van hemel en aarde, wat God se woord in hul hart het en wat Hy geroep het om as eiedom vir Hom te wees se oë net wil oopgaan en ophou humanusties wees met ” ag siestog ag shame” !!

Theresé ·

Kan u asseblief vir ons vasstel of daar enige waarheid in die boodskappe is dat die ANC byeenkoms in Midrand rakende die NDR bepalend gaan wees in die oordrag van alle blankes se persoonlike eiendom, insluitende ons huise, na swart eienaarskap soos deurgestuur deur Front Nasionaal en Suidlanders en iets daaroor skryf. Baie dankie.

Piet Pompies ·

As jy alles glo wat die Suidlanders versprei sal mens van jou kop af raak…….

Andreas Meyer ·

Die vraag is nie wat ons glo of nie glo nie. Die vraag is wat is feitelike werklikhede. Lees maar die ANC se program en uitsprake. Dan gaan jy dalk van jou kop af raak…

pieter ·

EN DIE RYKES WORD RYKER,NOG NOOIT HET RYK MENSE SOVEEL RYKDOM GEHAD NIE.

Lottie ·

Die kamele moet weldra deur die oog van die naald probeer beur.

Kaufman ·

Dit is waar maar dis baie belangrik om te onderskei tussen die middelklas, matig rykes en superrykes. Die matig rykes word minder ryk, die arme middeklas word totaal leeg gesuig en die superrykes word al ryker.

Piet Pompies ·

Die ANC saam met sy beeldpoetsers veroorsaak die geweld, hulle veskaf die nodige opleiding en vergoeding in ruil daarvoor om die ANC te laat goed lyk, intussen kry die mense op die vloer swaar.
Met vryheid van spraak verskaf die beeldpoetsers die nuus soos deur hulle gekies aan die massas.

Leendert ·

Herman, jy vra of die onluste na ander dorpe kan oorspoel? Ek het dit gister onderaan een van die berigte geskryf. Die oproermakers en onlusstokers het nou presies gesien waar hulle met die polisie staan, watter ruimte hulle gebied word. Hierdie is maar die begin, die kalf is in die put.

Hoekom dink ek aan Marikana?

Andre ·

Leendert, jy is heeltemal reg. Hierdie “onluste” was net om die water te toets. Waar is die liberaliste en verligtes se “oplossings” nou? Doodse stilte heers van hulle kant …

Johann ·

Jammer om dit te sê, maar na ek nou die nuutste berig gelees het oor die twee mense wat in hegtenis geneem is, moet ons weer dink. Ongeag Zuma, die ekonomie, bring ons dit nie in baie gevalle maar op onsself nie? Kyk maar na die afgelope jaar of twee. Het ons geen lesse geleer nie, ook waar bakkies by betrokke is?

humor ·

z roer hierdie pot in weergalose onnoselheid en besef nie charls soros kompeteer nie.

Christo Conradie ·

Zuma, die regerende party en die media (waarskynlik onder instruksie) het hulle blind gehou en stil gebly oor Coligny en Lichtenburg. Herman Toerien wys dit ook duidelik uit. Nou word die betogers verdedig, beskerm en goed gepraat, instede daarvan dat die geplundery en diefstal en brandsteek van voertuie ten sterkste veroordeel word deur Zuma as leier van hierdie land. Ek wed julle egter dat as daar selfs een enkele skerppunt ammunisie afgevuur was deur iemand wat sy eiendom teen die vandalisme beskerm het, hierdie weer ‘n Sharpeville situasie sou wees waaroor die regering nie kan ophou praat nie – hoofsaaklik om dit te gebruik as propaganda in hulle “cause”. Ek bewonder die selfbeheer wat die verdedigende inwoners van Coligny toegepas het. Vir diegene wat dink die benoudheid van hierdie mense in Coligny was oordrewe, wil ek net vra: Het Jy al ‘n massa op kort afstand ge”face” wat skree en dreig en brandsteek en steel? Het JY al aan die binnekant gestaan van die draad in Sharpville met ‘n moordende massa voor jou? Wat Zuma en die ANC betref mag jy nie reageer nie – al weet jy jy gaan oorrompel en doodgemaak word. Laat ek maar vir julle se, dit verg senuwees van staal om in daardie omstandighede terug te hou, en sulke situasies IS vreesaanjaend. Zuma sal hulle prys en se: Daardie mense HET al betoog – anders as wat hy gese het oor 7 April. Die ANC het mense hierdie metodiek geleer. Hulle is verantwoordelik daarvoor.

Johann ·

Moet ons, die wittis, nie maar maak soos Max Du Preez sê nie?

Wonder ·

GeagteMaroela mag ek vra wat so belangrik is wat die edele Max kwyt gerack het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.